‘Doodspoor volg baasbrein’ van Mooinooi-saak

Beskuldigde nommer 2. Weens die aanklag van verkragting wat by die klagstaat gevoeg is, moet die beskuldigdes se identiteite weerhou word tot hulle op die aanklag gepleit het. Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Sedert die sogenaamde “baasbrein” in die veelbesproke Mooinooi-saak in hegtenis geneem is, het nadere ondersoek dit aan die lig gebring dat minstens vyf liggame naby plekke waar hy al gebly het, gevind is.

Die ondersoekbeampte in die saak rakende die verdwyning en moontlike moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, het Dinsdag in die Brits-landdroshof begin getuig.

Ses mans en twee vroue, onderskeidelik 18 en 21 jaar oud, staan tereg op aanklagte van sameswering tot moord, moord, ontvoering, verkragting, roof met verswarende omstandighede en huisbraak met die bedoeling om te steel.

Al die beskuldigdes het tydens hul borgtogaansoeke aangedui hulle gaan skuld ontken op al die aanklagte teen hulle. Hul name word weerhou aangesien daar ʼn klag van verkragting ondersoek word en hulle dus eers tydens hul verhoor in die hof moet pleit.

Staatsaanklaer Christine Molautsi het die staat se tweede getuie, kol. Isaac Tlhapi, verbonde aan die Mooinooi-polisie, geroep om te getuig om die beskuldigdes se borgtogaansoek teen te staan.

Hy het vroeër onder meer getuig dit is ʼn baie ernstige saak wat vooraf beplan was en waarby vuurwapens gebruik is en kan lei tot lewenslange tronkstraf as die beskuldigdes skuldig bevind word.

Tlhapi het ook getuig die beskuldigdes sal met die ondersoek inmeng en met getuies kontak maak, aangesien daar reeds selfone in hul besit gevind is terwyl hulle in aanhouding was. Hy het ook gesê hy het al op verskeie geleenthede die beskuldigdes ondervra en sommiges van hulle impliseer en beskuldig mekaar en as hulle op borgtog vrygelaat word, sal hulle mekaar dalk vermoor.

Tlhapi het getuig Beskuldigde 1, ʼn werker van die “baasbrein”, het ʼn biologiese ma in Mosambiek en ʼn vrou, na wie hy as sy ma verwys, wat hom in Suid-Afrika grootgemaak het. Tlhapi is van mening dat weens die erns van die saak en swaar vonnis wat te wagte kan wees, Beskuldigde 1 maklik die land sal kan verlaat en nie meer bereikbaar sal wees om verhoor te word nie.

Hy het ook getuig dié beskuldigde het na bewering een van die slagoffers verkrag. “Hy was ook na bewering daar toe die twee slagoffers vermoor is. Hy was ook na bewering daar toe die slagoffers se voertuig aan die brand gesteek is. Hy was ook na bewering daar toe die bene van die slagoffers weggegooi is,” het Tlhapi gesê.

Volgens hom kan die beskuldigde se vrylating ʼn gevaar vir die gemeenskap inhou. “Hy ken ook die getuies baie goed en sal met hulle kan inmeng.”

Tlhapi het ná middagete getuig die selfone wat tydens drie klopjagte in die aanhoudingselle gevind is, in die 52-jarige “baasbrein” [Beskuldigde 2] se besit gevind is.

Die selfone is na die polisie se forensiese kantoor gestuur om vas te stel waarvoor dit gebruik is en om die boodskappe en foto’s daarop as bewyse in te samel en in die ondersoek te gebruik.

Tlhapi het getuig die “meesterbrein” het vorige veroordelings. Hy is in 1990 skuldig bevind op aanklag van huisbraak en diefstal waarvoor hy ʼn boete van R8 000 moes betaal of vier jaar tronkstraf uitdien. Hy is ook skuldig bevind op nog aanklagte van huisbraak en diefstal waarvoor hy drie jaar direkte tronkstraf moes uitdien. In 2008 is hy aangekla in verband met die verkoop van tweedehandse goedere sonder die nodige lisensies. Hiervoor het hy ʼn skulderkenningsboete van R1 000 betaal. Die beskuldigde het tydens sy borgtogaansoek aangevoer hy het net die skulderkenning van R1 000 teen hom waarvan hy weet en as daar meer vorige veroordelings is, het hy daarvan “vergeet” want “hy het ʼn nuwe blaadjie omgeslaan”.

Tlhapi het gesê die polisie het die verbintenis met die huisbraak- en diefstal-sake gemaak toe die beskuldigde se vingerafdrukke, wat tydens sy inhegtenisneming in verband met Anisha en Joey se verdwyning geneem is, deur die polisierekords geprosesseer is.

Tlhapi het ook gesê die “baasbrein” gaan moontlik verbind word by ʼn moord tydens ʼn kleinhoeweaanval buite Rustenburg in 2014. Beskuldigde 1 is reeds vir die moord aangekla en moet in Maart weer in die hof verskyn op aanklag van moord en sakeroof. Die Nasionale Vervolgingsgesag is nog besig met die ondersoek of Beskuldigde 2 daarmee verbind kan word.

“Ek sê nie die beskuldigde is skuldig aan moord in al die gevalle nie, maar by talle van die adresse waar hy al gebly het, is daar liggame gevind. Een liggaam is in 2013 in ʼn drein in Koster gevind. Die ander saak is die kleinhoeweaanval in 2014 buite Rustenburg. Daar is ook in ʼn stadium, toe hy in Rustenburg gewoon het, ʼn liggaam gekry wat aan ʼn boom gehang het.”

Hy het gesê dié voorvalle, saam met die moontlikheid dat gebrande beendere van Anisha en Joey gevind is, “ʼn doodspoor van vyf liggame” laat.

Hy het ook bevestig daar is onlangs menslike beendere op die plaas gevind waar Beskuldigde 2 tans bly, maar dit is reeds getoets en daar is vasgestel dat dit nié die van Anisha of Joey kan wees nie. Dit is egter nog nie duidelik of die persoon vermoor is nie.

Tlhapi het gesê al die voorvalle word nog ondersoek en dit het eers aan die lig gekom nadat die “baasbrein” in hegtenis geneem is, aangesien mense bang was vir hom en lede van die gemeenskap nou veilig voel om met inligting na vore te kom wat hom betrek.

“Beskuldigde 2 het die geneigdheid om mense met die dood te dreig en mense is bang vir hom. Ons ondersoek het ook vasgestel hy het die plan om Anisha en Joey te vermoor bewerkstellig en die sewe ander medebeskuldigdes gebruik om sy plan uit te voer,” het hy getuig.

Tlhapi het die hof versoek om nie borgtog aan die man toe te staan nie, aangesien hy die publiek se lewe in gevaar kan stel.

Een van die mense wat die staat sal roep om tydens die verhoor te getuig is tans onder die getuiebeskermingsprogram uit vrees vir sy lewe.

Die saak hervat Donderdag.

Joey en Anisha is op 10 Desember omstreeks 07:30 die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe gewoon het. Hulle was op pad na Pretoria om Joey se pa se roudiens by te woon, maar het nie hul eindbestemming bereik nie.

Hul uitgebrande Nissan X-Trail-sportnutsvoertuig is later in die Magaliesburg-omgewing gevind. Weke later is verbrande beendere gevind wat die polisie vermoed moontlik die oorskot van Anisha en Joey kan wees. Die beendere is vir DNS-toetse gestuur om die oorsprong daarvan te bevestig. Die uitslae van die toetse is nog nie bekend nie en daar is nog nie ʼn aanduiding van wanneer dit gereed sal wees nie.

Lees alle vorige berigte oor Joey en Anisha van Niekerk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rupert Ashford ·

So ‘n saak is skedule 6 as daar met voorbedagte rade opgetree is en daar vuurwapens betrokke is? Is dit nie die geval by 90% van plaasaanvalle nie? Hoekom kry daardie mense dan so maklik borg?

Elize C ·

Nee man Rupert moenie so wees nie. Jy weet mos met plaasaanvalle was die “aanvallers” eintlik net honger, hulle wou eintlik net kom kyk of hulle ietsie te ete kan kry, en toe word hulle bedreig deur die inwoners…… hulle het mos die reg om wapens te dra om hulself te beskerm indien die plaas-bewoners hulle dalk wil ‘aanval’………..

Huiwer ·

Akmal weet waar daai kinders heen is maar te bang om te praat sieklike sad sad storie

Nico K ·

Ek was ook onder die indruk iemand met vorige oortredings se borg word outomaties geweier. Skuldig aan huisbraak en hy kry net ‘n boete?

Cassie ·

Besk 2 het selfone in sy sel gehad.Hoe het hy dit reggekry want jy word gefisenteer.Wat het hy met die fone gemaak?Die staat staan borg tee en die aansoek sal slaag aangesien hy ‘n geweldsmisdadiger is en mense links en regs dreig met die dood.Hy word ook verdink van nog ‘n moord en nog 5 ander moorde.Boetie dit is nag vir jou.

fm ·

Dit wil voorkom wanneer enige person in hierdie sogenaamde baasbrein se pad staan is dit klaarpraat met daardie person. Ek hoop net dat geregtigheid sal geskied vir Joey en Anisha en dat die Hof en Polisie nie bang sal wees vir hierdie “baasbrein” nie. Dit wil voorkom of hy selfs plaas of plot aanvalle gereel het!!

Tania Heyns ·

Dagsê Batman

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania
nms Maroela Media

Pikkewyn ·

Die beendere is getoets en dit is NIE Joey of Anisha s’n nie met ander woorde daar is nog ‘n slagoffer/slagoffers want waar anders kom di beendere vandaan?

Nettie ·

@Pikkewyn – waar kom jy daaraan dat die gebeendere NIE die twee vroue s’n is nie? Daar staan tog duidelik dat die DNS-toetsuitslae NOG NIE BESKIKBAAR IS NIE.

Koos ·

As hierdie gruwels in die 1980’s gebeur het sou die kêrel nie die galgtou vrygespring het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.