Dooiepunt bereik in platinum-onderhandelinge

Argieffoto

Argieffoto

Onderhandelinge om die drie maande lange staking deur Amcu in die platinumbedryf tot ʼn einde te bring, het op ʼn dooiepunt uitgeloop.

“Anglo American Platinum (Amplats), Impala Platinum (Implats) en Lonmin het bevestig dat geen oplossing nog gevind is nie,” het Charmaine Russel, woordvoerder vir die platinumvervaardigers, gesê. “Die vervaardigers doen ʼn beroep op die leierskap van Amcu om die ekonomiese posisie van die bedryf en die maatskappye en die haglike omstandighede van die werknemers in ag te neem en die skikkingsaanbod aan hul lede voor te stel.”

Sy sê die skikkingsaanbod is gedoen om die staking te beëindig wat die platinumbedryf op sy knieë gedwing het en ongekende swaarkry vir werknemers, hul gesinslede, gemeenskappe en die maatskappye veroorsaak het.

Die uitvoerende hoofde Chris Griffith van Amplats, Terence Goodlace van Implats en Ben Magara van Lonmin het gesê hulle maan die leierskap van Amcu om dié “regverdige skikkingsaanbod” aan hul lede voor te hou en hulle toe te laat om self te besluit. “Die vervaardigers het ʼn plig om die besonderhede van die skikkingsaanbod aan ons werknemers te verskaf en sal binnekort dit doen,” het hulle gesê.

Die maatskappye het verlede week ʼn skikkingsaanbod voorgehou waar die minimum kontantbetaling (insluitend basiese lone en vakansie-, lewenskoste- en ander toelatings) vir intreevlak ondergrondse werknemers teen Julie 2017 R12 500 per maand, of R150 000 per jaar sal beloop.

Dit verteenwoordig ʼn styging van 7.5% vir die hoogs betaalde werknemers by Lonmin en 9.5% vir die werknemers wat die minste verdien. Vir Amplats en Implats verteenwoordig dit onderskeidelik 7.5% en 10%.

Toelatings soos lewenskoste sal met inflasie styg.

Die koste aan die maatskappy per werknemer vir die ondergrondse werkers wat die minste verdien, sal teen Julie 2017 meer as R17 500 per maand beloop of R210 000 per jaar.

Die koste aan die maatskappy sluit medies, pensioenvoordele, oortyd en bonusbetalings in.

Die aanbod sal terugwerkend van 1 Julie 2013 betaalbaar wees vir werknemers van Amplats en Implats, en van 1 Oktober 2013 vir Lonmin-werknemers.

Amcu-lede staak al sedert 23 Januarie en eis ʼn basiese salaris van R12 500 per maand. Die vakbonde het vroeër die maatskappye se aanbod van 9% verwerp.

Johan Theron, woordvoerder vir Impala, het gesê daar is geen verdere vergaderings geskeduleer nie. Amcu was nie vir kommentaar beskikbaar nie, aangesien die hoofonderhandelaar, Jimmy Gama, se selfoon onbeantwoord gebly het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alet ·

Weet jy die gevolgtrekking wat n mens kry hulle wil nie werk nie,stuur hulle almal warm plek toe en stel mense aan wat wil werk. Waarom hulle gaxxxx lek dis hoe n mens voel

ai toggie ·

Nee ek dink hulle gaan aanhou tot die mense besluit om myn te verkoop. Dink hul het iewers n koper en gaan baat uit die transaksie! Dis nou AMCU en nie die arme myners wat soos blinde flippen donkies hul unie volg!

huisvrou ·

Die doel bly om alles, letterlik alles, grond, huise, myne, besighede ens as staatseiendom te hê.

Deur die myne op hul knieë te dwing is uiteindelik die enigste manier om nasionalisering sonder onteiening, vreedsaam en gewillig, te doen.

Op geen stadium het dit oor die werker en sy lewensgehalte gegaan nie. Op geen stadium was ekonomiese groei en vooruitgang soos wat ‘n Westerling dit verstaan deel van die agenda nie. Dit gaan bloot oor besit en mag. Nie oor voedselsekerheid, landsbelang of die vooruitgang en ontwikkeling van die totale bevolking nie.

Dít is hoe Afrika noord van ons leef. Dit is hoe Afrika klaarblyklik wil leef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.