Doom-profeet gevonnis

Foto: Facebook

Pastoor Lethebo Rabalago, ook bekend as die “Doom-profeet”, is Dinsdag in die landdroshof in Mookgopong (Naboomspruit) in Limpopo gevonnis.

Rabalago, van Mountzion General Assembly in Limpopo, is vroeër vandeesmaand skuldig bevind op vyf aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en twee aanklagte van oortreding van die Wet op Kunsmis, Veevoer, Landboumiddels en Veegeneesmiddels, wat plaagbeheeroperateurs reguleer.

Die hof het gehoor dat die beskuldigde huishoudelike insekweerder gebruik het as een van sy genesingsrituele. Hy het die insekweerder, glo verkieslik Doom, op sy gemeentelede gespuit om glo verskeie siektes te behandel.

Chris Maruma, staatsaanklaer, het ter verswaring van die vonnis, aan die hof genoem dat die beskuldigde ook vorige skuldigbevindings het vir oortreding van die Padverkeerswet, het Mashudu Malabi-Dzhangi, streekswoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, in ʼn verklaring gesê. “Hy het ook gesê die beskuldigde moenie as ʼn ‘gevalle engel’ beskou word nie – hy is net soos enige ander mens. Hy het dit benadruk dat die gemeenskap beskerm moet word teen ‘vreemde metodes van moderne predikers’ wat ‘gevaarlike items voorskryf aan siekes en behoeftiges’.”

Malabi-Dzhangi het gesê Rabalago is op aanklag 1, 2 en 3 tot ʼn boete van R6 000 of twee jaar tronkstraf gevonnis en op aanklag 4, 5, 6 en 8 tot ʼn boete van R30 000 of drie jaar tronkstraf gevonnis, waarvan die helfte vir ʼn periode vir drie jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie weer op ʼn soortgelyke klag skuldig bevind word nie.

Rabalago se prokureur het versoek dat die beskuldigde R3 000 per maand kan afbetaal en die hof het dit toegestaan.

Die NVG verwelkom die uitspraak. Adv. Ivy Thenga, direkteur van openbare vervolging, het gesê die vonnis sal ander oortreders daaraan herinner dat die hof nie net sal terugstaan en kyk hoe menseregteoortredings begaan word onder die dekmantel van godsdiens nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.