Dorp geruk ná moord op baba

Die egpaar in gelukkiger dae.

’n Noord-Kaapse dorpie rou oor die wrede moord op ʼn baba midde vele veldtogte teen die voorkoms van gesinsgeweld.

Die tragedie het Woensdagmiddag in Loeriesfontein afgespeel. ʼn Drie-en‑veertigjarige pa het sy baba, wat nog nie eers ʼn jaar oud was nie, met ʼn mes doodgesteek. Die pa en sy 29-jarige vervreemde vrou het glo stry gekry oor hul kinders, het inwoners vertel.

“Die vrou, ʼn maatskaplike werker by ʼn dwelmrehabilitasiesentrum hier, moes vlug nadat die man waarskynlik berserk geraak het. Dit was ʼn baie bloedige en hartseer konfrontasie. Niemand kon dit keer nie, want dit het so vinnig gebeur,” vertel ʼn inwoner.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het die verdagte die twee kinders by sy vervreemde vrou gevat en geweier om hulle terug te gee. Die vrou het ʼn hofbevel waarvolgens sy wettig toesig oor die kinders het. Hy het hom blykbaar nie daaraan gesteur nie en die kinders forseer om by hom te bly.

Die pa het glo ook sy tweejarige kind leed aangedoen voor hy sy polse gesny het. Hy is tans onder polisiebewaking in ʼn hospitaal, volgens Ramatseba. Hy sal op aanklag van moord in die hof verskyn sodra hy ontslaan word.

Die ma was baie betrokke by aksies teen gesinsgeweld weens die aard van haar werk.

‘n Optog teen gesinsgeweld is in Calvinia gehou na die moord.

Gizella Opperman, DA-LP, vertel die voorval het haar naar van woede gemaak.

“My hart is bitter seer, net soos ʼn mamma se hart kan pyn oor die gebeure op my dorp. My kiesafdeling gaan swaar gebuk onder die gewelddadige misdaad en verkragtings van minderjarige kinders, so jonk soos twee jaar.”

Opperman het ʼn optog teen gesinsgeweld georganiseer wat op 13 Desember op Calvinia plaasgevind het. Volgens haar help sulke optogte tog.

“God waarsku ons dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die owerhede, die magte van die bose wat heers in die atmosfeer.”

Volgens iemand wat die verdagte goed ken, het hy gereeld met die gereg gebots.

Hy was ʼn bekende op die dorp en ʼn plaaslike politikus. Hy was vroeër verbonde aan die Khoisan‑revolusie waarna hy by die ANC aangesluit het.

Lt.genl. Risimati Shivuri, provinsiale polisiekommissaris, het die voorval betreur en veroordeel. Hy het versoek dat mense met huweliksprobleme hulp moet kry in plaas daarvan om hul kinders daarvoor te straf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Onsimpatiek ·

Ek bewonder mediese personeel wat skurke en moordenaars moet versorg in hospitale. Hulle is baie beter mense as ek…

PJC ·

Die volle besonderhede ,name ens. verskyn in die Sondagkoerante met fotos van die pa en ma.

Hendrik ferreira ·

Stem VF+ sodat ons vir n tuisland kan onderhandel vir almal wat moeg is vir hierdie misdaad geteisterde hel,in n ordentlike land waar doodstraf geld vir hierdie tipe oortreding sal die aanvallers 2 keer dink voor hulle sulke gruweldade doen.

Gerhard ·

Hy behoort die doodstraf te kry dos wreed en onmenslik God leen jou die kind en jy gooi dit terug in Sy gesig

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.