#Dorplitiek: Inwoners van Worcester neem eienaarskap

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

In ʼn bietjie minder as drie maande sal Suid-Afrikaners hul kruisies trek agter die party wat hulle waarskynlik meen die beste na hul belange gaan omsien. Inwoners van Worcester in die Wes-Kaap glo egter nie daaraan om hul lot aan ʼn bepaalde politieke party oor te laat nie.

Dié dorp, sowat 120 km noordoos van Kaapstad en die derde grootste dorp in die Wes-Kaap, is die afgelope drie jaar onder beheer van ʼn DA-VF Plus-koalisie. Dit is die eerste van ʼn reeks dorpe wat Maroela Media in aanloop tot die nasionale verkiesing op 29 Mei sal besoek om uit te vind hoe kiesers oor die regering op plaaslike sowel as nasionale vlak voel.

Maar inwoners sal vinnig vir jou sê die dorp se skoon strate het nie soseer te make met wie aan bewind is nie.

Inwoners glo eerder daar is oor die jare ’n kultuur van eienaarskap in die Boland gekweek en inwoners rol self moue op om hul dorp op te pas en te bevorder.

Die uitdaging is egter om elke liewe inwoner sover te kry om in te koop, sê Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester (DA) van die Breedevallei- plaaslike munisipaliteit.

Die munisipaliteit (Worcester, De Doorns, Rawsonville en Touwsrivier) is tans die derde grootste munisipaliteit binne die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en bedien meer as 200 000 inwoners.

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Kort ná 08:00 op ’n Vrydagoggend is die strate van Worcester bedrywig, maar skoon én heel.

Munisipale werkers is vroeg al besig om vullissakke op te laai. Elders word ’n straat herseël.

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Groot dele van Worcester, waaronder Avianpark, Esselenpark, Florianpark, Hexpark, Noblepark, Rivierview, Roodewal, Victoriapark en Zwelethemba se strate is almal oor die afgelope sewe jaar herseël.

Die sypaadjies word ook stelselmatig spesiaal ingerig om toeganklik te wees vir inwoners met fisieke gestremdhede.

Worcester is die tuiste van onder meer die Pionierskool vir siggestremdes en die Nasionale Instituut vir Dowes.

“Dink ons ons inwoners is gelukkig? Ja, want ons probeer ten minste,” sê Steyn wanneer Maroela Media met haar in haar kantoor in Baringstraat gesels.

Steyn, die munisipaliteit se langsdienende burgemeester, stel dit duidelik dat die lewering van basiese dienste die hooffokus op Worcester is.

“Ons kan nie vir jou die maan en die sterre belowe nie. Maar dit is vir my belangrik dat jou riool werk, jy water het en dat jou ligte ten minste brand. Skoonmaak is ook vir my baie belangrik.”

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sy erken wel die munisipaliteit ontvang steeds klagtes van inwoners wat nie aldag beïndruk is met die munisipaliteit nie.

“Het ons foute? 10 000 foute,” is sy vinnig om te erken.

“Is dit oral netjies, skoon en mooi? Nee, maar ons werk elke dag daaraan om die gemeenskap op te lei om skoon te maak. Dit gaan beslis nie sleg met ons nie.”

Danksy goeie beplanning, sê Steyn, het die munisipaliteit geld.

“Ons wend ons geld reg aan en ons probeer om verhogings so laag moontlik te hou. Ons gemeenskap kry eenvoudig té swaar vir ons om geld te mors.”

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Dié swaarkry waarvan Steyn praat, is duidelik wanneer Maroela Media later in die rigting van die sogenaamde onderdorp ry.

“Worcester bo Durbanstraat en Worcester onder Durbanstraat is twee verskillende plekke,” vertel Pieter Marais, hoofsweep en plaaslike VF-raadslid, later oor ’n koppie koffie aan Maroela Media.

“Dit lyk naar in Riverview en Roodewal.”

“Dit gaan nie oor die bokant en die onderkant nie. Dit gaan oor dissipline,” vertel Steyn.

“Hier in Breedevallei is almal gelyk. Jy kry die diens wat ons vir jou kan gee. Ons kan honderd keer skoonmaak op ’n dag. Indien daar nie dissipline is onder die gemeenskap nie, gaan mense ongelukkig wees.”

Marais vertel egter dat diegene in die landelike gebiede, waaronder De Doorns en Rawsonville, soms deur die Breedevallei-munisipaliteit uitgesluit voel. “Hulle voel nie dat hulle omstandighede verbeter nie.”

Daar heers volgens Marais ook soms ongelukkigheid oor hoe die administrasie fondse bestee, of eerder die feit dat hulle soms glad nie fondse bestee nie.

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Steyn verduidelik dat daar nie sommer skuld aangegaan word nie en dat die munisipaliteit spaar vir wat gedoen moet word. Daar is onder meer gespaar vir die bou van ʼn nuwe swembad waarvoor inwoners van Zwelethemba lank gevra het.

Marais meen egter sommige inwoners voel dat die fondse eerder op basiese dienste as ontspanningsgeriewe bestee moes word.

Hy gee wel toe dat daar sedert 2021, toe die DA-VF Plus-koalisie oorgeneem het, groot verbeterings aangebring is.

Hy vertel dat die private sektor ook nou saam met die munisipaliteit werk. Volgens Steyn is daar ook talle inwoners in Worcester wat daagliks die ekstra myl stap om die dorp te bevorder, al is dit net om self in te spring om skoon te maak of te herwin.

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Steyn meen die oplossing vir die land se probleme begin by elke inwoner.

“Ons almal wil die land red. Maar begin’t eers by jouself.

“Red jouself. Red jou eie omstandighede. Red jou munisipaliteit.”

Worcester (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.