#Dorplitiek: Rustenburg vuisvoos vir politiek

Inwoners van Rustenburg sit op ʼn lamppaal wat buite werking en gevandaliseer is (Foto: Elisma van der Watt/Maroela Media)

Baie van Rustenburg in Noordwes se inwoners weet nie of hulle vanjaar die moeite gaan doen om aan die nasionale verkiesing deel te neem nie, want dit lyk nie of dit enigsins ʼn verskil aan dienslewering op hul dorp maak nie. Baie is nie eens geregistreer om te stem nie en die wat wel gaan stem, is onseker vir wie om te stem.

In van die woonbuurte staan onkruid en gras heuphoogte. ʼn Groot gedeelte van die dorp se lamppale is buite werking weens diefstal en vandalisme en mini-substasies word ook gevandaliseer en sommiges nie eers toegesluit nie.

Die Rustenburg-munisipaliteit word sedert die 2021-munisipale verkiesings deur ʼn koalisie van die ANC en twee ander kleiner partye, die Tshogang Community Movement en Batho Community Movement, regeer.

Volgens Gert du Plessis, DA-wyksraadslid van Rustenburg, verloor dié dorp meer as 52% van die water waarvoor munisipaliteite betaal, deur onwettige konneksies óf waterlekke.

Pieter Malan, nog ʼn DA-raadslid, bevestig dat die munisipaliteit se verliese aan water en elektrisiteit weens verskeie redes nagenoeg R500 miljoen per jaar beloop. Om en by R1 miljard word boonop jaarliks deur die munisipaliteit afgeskryf weens wanbetalings.

Tydens Maroela Media se besoek was van die strate omtrent onrybaar weens slaggate en minimale stoptekens is sigbaar. Rioolwater in die strate was ook opvallend.

Rise Up Rustenburg, ’n organisasie sonder winsoogmerk wat daarna streef om aktief diensleweringsprobleme op te los, probeer om dié dorp weer leefbaar en aangenaam vir inwoners te maak. Hulle vermoëns strek egter net só ver.

Volgens die stigterslid van die organisasie, Sandy Webb, kom rioolprobleme gereeld voor. “Ons het gedurig riool wat oorloop. RLM maak dit wel reg, maar oor ʼn week loop dit weer oor.”

Met swaar reënval en boomwortels wat in die pype indring, bars rioolpype en dreine oorstroom. Die rioolwater vloei dan tussen woonbuurte deur en besoedel skoon waterstelsels. Hierdie langtermyn probleem blyk ʼn hoë risiko vir die inwoners se gesondheid te wees.

Rioolwater vloei tussen wonings (Foto: Elisma van der Watt/Maroela Media)

Inwoners sê hulle dien klagtes by die munisipaliteit in, maar daar word niks aan die probleme gedoen nie. Hulle getuig dat die verkeerde en goedkoopste materiaal deur die munisipaliteit gebruik word om algehele herstelwerk te doen. Dit is tans van so aard dat inwoners hul eie materiaal aankoop en infrastruktuur self probeer herstel.

Die munisipaliteit het nie op Maroela Media se navrae oor enige van hierdie kwessies gereageer nie.

ʼn Inwoner wat al dekades lank in Rustenburg woon en anoniem wil bly, het aan Maroela Media vertel haar watermeter is tydens Paasnaweek gesteel. Die probleem is daardie naweek aangemeld by die munisipaliteit en sy wag reeds twee weke vir terugvoer oor die herstel werk.

“Ons het regtig al baie geld bestee net om water te kan hê. Ons moes ʼn JoJo- tenk aanskaf en ʼn waterpomp. Dit voel regtig dat ons versoeke by die munisipaliteit net op dowe ore val en dit maak ons moedeloos. Met die verkiesing wat binnekort plaasvind, laat dit my twee keer dink vir wie om te stem, want niks raak beter in Rustenburg nie,” vertel die inwoner.

Nog ʼn inwoner, wat ook anoniem wil bly, het aan Maroela Media gesê inwoners is baie negatief oor die komende verkiesing.

“En jy kan hulle nie blameer nie. Maar die mense van Rustenburg moet leer saam staan om dinge te verander want soos dinge nou is, gaan niks verbeter of verander nie. Rustenburg het baie potensiaal en met die verkiesing om die draai, kan inwoners regtig ʼn verandering maak net deur te gaan stem. Dis een ding wat niemand kan wegvat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.