#Dorplitiek: Vol damme, leë krane in Limpopo

Inwoners in Louis Trichardt in Limpopo skep water by ‘n waterpunt in die bo-dorp. (Foto: Isabel Venter / Maroela Media)

Krane in die verre noorde van Limpopo is etlike jare lank al kurkdroog.

Inwoners van onder meer Louis Trichardt, Thohoyandou, Levubu, Musina, Sinthumule en Kutama weet amper nie meer wat dit beteken om lopende water te hê nie.

Maroela Media het Louis Trichardt in die aanloop tot die nasionale verkiesing in Mei vanjaar besoek, waar inwoners se jare lange geroep om hulp klaarblyklik op dowe ore val.

“Stort maar vinnig, hier is nie water nie,” hoor jy vinnig wanneer jy in Louis Trichardt aankom.

Dit terwyl die damme in die Vhembe-distrik, waar dié dorpe geleë is, meer as 90% water het.

Die Vhembe-distriksmunisipaliteit (VDM) is die grootmaat waterverskaffer in die noordelike streek van Limpopo.

“Ons sit op so ʼn goeie plek, hier is nie rassehaat nie. Die munisipaliteit moet net besluit om die gemeenskapsleiers te betrek,” sê Renier Fourie, ʼn sakeman van Louis Trichardt. Hy is deel van ʼn informele waterforum wat onlangs op die been gebring is om die munisipaliteit by te staan.

Pierre Small, plaaslike DA-wyksraadslid, het ook verwys na die onlangse Groendruppel-verslag, waarin daar bevind is die VDM is ʼn hoë risiko. Vandaar die besluit om die waterforum op die been te bring.

Volgens Fourie is dit egter die VDM wat die gemeenskap se uitgestrekte hand die heeltyd wegklap.

“Al wat ons wil hê is om ʼn war room te stig – ʼn forum waar jy jou geld kan betaal en dit word aan die munisipaliteit oorbetaal, sodat lekkasies aandag kan kry,” sê Fourie.

Water van Zim nie die oplossing

Tydens Maroela Media se besoek het dit ook aan die lig gekom dat die voortslepende waterkrisis in hierdie dorpe klaarblyklik nou aandag gaan kry deur water van die dorpie Beitbrug in Zimbabwe te pomp.

Senzo Mchunu, minister van waterwese en sanitasie, het die afgelope week aan lede van die gemeenskap gesê daar is ʼn ooreenkoms gesluit met Zimbabwe se departement van grond, landbou, visserye en landelike ontwikkeling om water van die Beitbrug-watersuiweringsaanleg in Zimbabwe te kry.

Paul Herman, VF Plus-wyksraadslid in Musina, het die besluit veroordeel.

“Ons het verskeie boorgate wat in al die dorp se water kan voorsien. Wat ons nie het nie, is ʼn waternetwerk om die water by die krane uit te kry.”

Net soos ander inwoners en leiers met wie Maroela Media gepraat het, het Herman Musina en ander dorpe se ineenstoring toegeskryf aan ʼn totale wanbestuur.

Die VDM, net soos die plaaslike munisipaliteite wat onder hom val, word deur die ANC beheer. Die munisipaliteit vorder al jare nie skuld in nie, en maak meestal op regeringstoelae staat om die skip op koers te hou.

Moses Masindi, ʼn sakeman van Madombidzha en ʼn ANC-lid, meen die wanbestuur van dienskontrakte is niks meer as krimineel nie. Hy het al elke denkbare wetstoepassingsowerheid genader om in te gryp. Hy het selfs briewe aan pres. Cyril Ramaphosa se kantoor gerig en ook die waterkrisis op die dorp aangemeld by die Openbare Beskermer.

Hoekom daar nog nie ingegryp is nie, kan Masindi nie sê nie.

In veral Louis Trichardt en Musina kan tekens van die wanbestuur waarna Masindi verwys, gesien word.

In Musina staan oorvol asblikke rond. Paaie in Musina én Louis Trichardt is aan flarde en motoriste ry maar op die sypaadjies.

In Louis Trichardt is munisipale werkers darem deur die loop van die week opgemerk waar hulle besig was om reusagtige slaggate in die hoofstraat op te vul.

Fourie meen die plaaslike munisipaliteit is nie die probleem is nie. “Hulle probeer regtig, maar die feit dat daar nie water is nie, maak alles sleg.”

Oproep om hulp

DA, VF Plus en plaaslike gemeenskap het by meer as een geleentheid al die streek se waterplobleme by die Menseregtekommissie aangemeld.

Tog gebeur niks nie, sê inwoners. En die feit dat van die reservoirs tydens Maroela Media se besoek weer volgetap is, is aan stemwerwery toegeskryf.

Dorpletiek, Louis Trichardt, Vhembe Distriksmunisipaliteit, water, VDM, Limpopo, water

Inwoners van die Tshikota informele nedersetting het al vir meer as vyf jaar lank nie ‘n druppel water nie. (Foto: Isabel Venter/ Maroela Media)

“Ek stem al jare nie meer vir die ANC nie,” het Nyambeni Mahlase (36), ʼn inwoner van die Tshikota informele nedersetting net buite Louis Trichardt, gesê. Sy het langs ʼn waterpunt gesit waar inwoners hul kanne kan kom volmaak. Orals in Tshikota en Louis Trichardt is dié “waterpunte” aangebring. Maar dit word volgens inwoners ook misbruik deur entrepreneurs wat in grootmaat water skep en dit dan verkoop.

“Kan jy dink? Mense wat op ouderdomspensioen of die skrale regeringstoelaag moet oorleef moet nou groot bedrae betaal net om ʼn bietjie water te hê om te kan oorleef,” sê Masindi.

Nog ʼn inwoner van Louis Trichardt, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy het al twee jaar lank nie water nie. “Partykeer as ek hier kom dan is daar niks water nie, dan het mense met groot tenks gekom en alles gevat.”

Luidens die departement van waterwese en sanitasie se mees onlangse inligting is damme in die Vhembe-distrik 96% vol. Die Nandoni-dam, sowat 20 km van Thohoyandou, se bouwerk is reeds 19 jaar gelede in 2005 voltooi. Dié dam is gebou met die hoofdoel om water aan inwoners in nedersettings naby die dam sowel as in dorpe soos Louis Trichardt te verskaf.

Sedertdien sloer die voltooiing van bouwerk aan pyplyne sodat die water van die dam in inwoners se krane kan kom. ʼn Afvaardiging van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het in September verlede jaar die Nandoni-dam sowel as Musina besoek.

Die DA en VF Plus het boonop klagte teen die munisipaliteit by die polisie ingedien.

Niks het nog hiervan gekom nie.

“Hulle [VDM] dink ons is hulle vyande, en dit is nie so nie. Ons wil nie oorvat nie, ons wil net help,” sê Fourie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.