DOV ontken aandeel in Teffo-debakel

Adv. Malesela Teffo word in hegtenis geneem. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Die direkteur van openbare vervolging (DOV) dra glo geen kennis daarvan dat hy ooit die groen lig gegee het dat adv. Malesela Teffo in die hof in hegtenis geneem word nie.

Dít benewens die feit dat die ondersoekbeampte in die saak daarop aandring dat hy eers die DOV geraadpleeg het voordat Teffo vasgetrek is.

Teffo is verlede week met toga en al in die Pretoriase hooggeregshof in hegtenis geneem kort nadat hy vier van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Senzo Meyiwa-moordverhoor verdedig het.

Daar is ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en hoewel hy volgens plan buite die hofsaal in hegtenis geneem sou word, meen die polisie die wyse waarop dit gebeur het, het dit vir die span bemoeilik.

Die polisie het kort ná die voorval lig op die advokaat se inhegtenisneming probeer werp. Volgens die ondersoekbeampte in die saak het hy na aanleiding van die DOV se aanbeveling besluit om die inhegtenisneming uit te voer sodra die hofverrigtinge waarby Teffo betrokke was, verdaag het.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, meen egter dit is nie hoe die gebeure afgespeel het nie.

“ʼn Interne ondersoek is gedoen na die bewerings dat die DOV die ondersoekbeampte oor die uitvoering van die lasbrief geraadpleeg het,” sê Mjonondwane.

“Daar is bevind dat die DOV nie bewus was van die uitvoering van die lasbrief nie, en dat sy kantoor dit nooit goedgekeur het dat die lasbrief by die hof uitgereik word nie.”

Volgens Mjonondwane bly die NVG daartoe verbind om sy waardes van aanspreeklikheid te volhou en sal hy voortgaan om respek vir die oppergesag te bevorder, waaronder die handhawing van die regte van alle beskuldigdes.

Die omstrede manier waarop die inhegtenisneming uitgevoer is, het die Algemene Balieraad (ABR), hoofregter Raymond Zondo en lede van die publiek genoop om hul kommer oor die voorval uit te spreek.

Volgens Zondo was die wyse waarop Teffo se inhegtenisneming uitgevoer is “ʼn aanslag op die waardigheid van die hof en die regbank”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Niel ·

Die waardigheid van die hof sal juis verbeter word hierdeur. Dit sal wys dat, maak nie saak wie of wat jy is nie, daar sal opgetree word teen jou. Aan die ander kant, hul kon seker maar gewag het tot hy buite was

Perdeby ·

Ek stem saam met jou hulle kon te minste net gewag het tot buit die hof, maar nou ja hulle moet ‘n “statement” maak.

Jr ·

Nee hy het uit die hof gekom waar hulle hom probeer arresteer, toe hardloop hy terug binne in die hofkamer om arrestasie te vermy waar die polisie reg opgetree

Nie Verbaas ·

Die normale ou lafhartige ANC kommentaar van ek weet niks nie en dis nie ek nie.

Winnie ·

Was hulle dalk oorywerig om iets te bewys want gewoonlik baie traag om iets te doen

Jr ·

Wel al wat hulle my gewys het was hulle doen hulle werk. Wel gedaan polisie. Duisende gewone burgers word by hulle werk gearresteer voor hulle kollegas, so wat maak hierdie perd spesial.

Deon ·

Dis waar wat jy se, maar hulle het baie kans gehad om dit te doen…. As ek regtig daaraan dink, dan was dit die maklike weg uit, “ons soek hom nie ons wag dat hy hof toe gaan dan kan ons hom daar kry”

Herman L ·

Hier is duidelik ‘n slang in die gras! Noudat regter Zondo hom hieroor uitgespreek het, is daar skielik geen sekerheid oor waar die lasbrief vandaan kom nie en niemand aanvaar aanspreeklikheid daarvoor dat die persoon in die hof in hegtenis geneem is nie. Die polisie behoort hulle te skaam……… jammer dit sal nie bebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.