Die direkteur van openbare vervolging (DOV) dra glo geen kennis daarvan dat hy ooit die groen lig gegee het dat adv. Malesela Teffo in die hof in hegtenis geneem word nie.
Dít benewens die feit dat die ondersoekbeampte in die saak daarop aandring dat hy eers die DOV geraadpleeg het voordat Teffo vasgetrek is.
Teffo is verlede week met toga en al in die Pretoriase hooggeregshof in hegtenis geneem kort nadat hy vier van die beskuldigdes in die opspraakwekkende Senzo Meyiwa-moordverhoor verdedig het.
Daar is ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik en hoewel hy volgens plan buite die hofsaal in hegtenis geneem sou word, meen die polisie die wyse waarop dit gebeur het, het dit vir die span bemoeilik.
Die polisie het kort ná die voorval lig op die advokaat se inhegtenisneming probeer werp. Volgens die ondersoekbeampte in die saak het hy na aanleiding van die DOV se aanbeveling besluit om die inhegtenisneming uit te voer sodra die hofverrigtinge waarby Teffo betrokke was, verdaag het.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, meen egter dit is nie hoe die gebeure afgespeel het nie.
“ʼn Interne ondersoek is gedoen na die bewerings dat die DOV die ondersoekbeampte oor die uitvoering van die lasbrief geraadpleeg het,” sê Mjonondwane.
“Daar is bevind dat die DOV nie bewus was van die uitvoering van die lasbrief nie, en dat sy kantoor dit nooit goedgekeur het dat die lasbrief by die hof uitgereik word nie.”
Volgens Mjonondwane bly die NVG daartoe verbind om sy waardes van aanspreeklikheid te volhou en sal hy voortgaan om respek vir die oppergesag te bevorder, waaronder die handhawing van die regte van alle beskuldigdes.
Die omstrede manier waarop die inhegtenisneming uitgevoer is, het die Algemene Balieraad (ABR), hoofregter Raymond Zondo en lede van die publiek genoop om hul kommer oor die voorval uit te spreek.
Volgens Zondo was die wyse waarop Teffo se inhegtenisneming uitgevoer is “ʼn aanslag op die waardigheid van die hof en die regbank”.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Die waardigheid van die hof sal juis verbeter word hierdeur. Dit sal wys dat, maak nie saak wie of wat jy is nie, daar sal opgetree word teen jou. Aan die ander kant, hul kon seker maar gewag het tot hy buite was
Die normale ou lafhartige ANC kommentaar van ek weet niks nie en dis nie ek nie.
Was hulle dalk oorywerig om iets te bewys want gewoonlik baie traag om iets te doen
Hier is duidelik ‘n slang in die gras! Noudat regter Zondo hom hieroor uitgespreek het, is daar skielik geen sekerheid oor waar die lasbrief vandaan kom nie en niemand aanvaar aanspreeklikheid daarvoor dat die persoon in die hof in hegtenis geneem is nie. Die polisie behoort hulle te skaam……… jammer dit sal nie bebeur nie.
Jakkals verander van hare maar nooit van streke.