DOV sal besluit of Blou Bul-speler vervolg word

Betogers buite die New Brighton-landdroshof tydens ‘n vorige verskyning van die beskuldigde. Foto: ANA

Die saak teen ʼn 19-jarige Blou Bul-rugbyspeler wat aangekla word van verkragting en roof, is Dinsdag in die New Brighton-landdroshof in die Oos-Kaap uitgestel hangende ʼn besluit van die direkteur van openbare vervolging (DOV).

Tsepo Ndwalaza, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê dit is standaardprosedure vir die NVG om te besluit of hulle die rugbyspeler op die aanklagte teen hom gaan vervolg of nie.

Die voormalige Grey High School-leerder, wie se naam nie genoem kan word voordat hy formeel gepleit het nie, word aangekla nadat ʼn 18-jarige vrou verlede jaar in Desember ʼn saak teen hom aanhangig gemaak het. Die beweerde voorval het glo tydens ʼn aand van kuier in KwaMagxasi in Port Elizabeth gebeur.

Die beskuldigde was Dinsdag by die hof saam met ʼn groep familielede om hom te ondersteun. Die rugbyspeler, wat verlede maand op borgtog van R10 000 vrygelaat is, is van voorneme om skuld te ontken op die aanklagte teen hom. Hy beweer die vrou se motief vir die aanklagte is omdat die vrou sy beursie en selfoon gesteel het.

Hy het voorheen beweer hy het wel seksuele omgang met die vrou gehad, maar sê sy het daartoe ingestem.

Volgens die staat het die vrou alkohol ingeneem op 27 Desember 2017 en is sy die volgende dag in die vroeë oggendure verkrag. Die staat voer aan die vrou kon nie ingestem het tot die seksuele omgang nie, aangesien sy onder die invloed van alkohol was. Die staat voer verder aan dat die vrou en die beskuldigde die aand van die beweerde verkragting ʼn partytjie by ʼn woonstel bygewoon het.

Die vrou beweer in haar verklaring aan die polisie dat die rugbyspeler en nog ʼn persoon haar huis toe geneem het. Volgens die vrou moes die rugbyspeler stilhou om ʼn nood te verlig. Toe die motor stilhou, het die vrou besluit om uit die voertuig te klim en huis toe te stap. Sy beweer die rugbyspeler het haar van agter gegryp en in die bosse ingesleep waar hy haar verkrag het.

Die verdediging het egter gesê hulle is in besit van ʼn stemopname waar die vrou se stem gehoor kan word waar sy sê sy het self uit die voertuig geklim en huis toe gestap. Sy noem glad nie op hierdie opname dat sy deur iemand gesleep is nie.

Die verdediging glo indien die saak op verhoor gaan, sal die vrou met wesenlike teenstrydighede gekonfronteer word. Volgens die bewyse voor die hof, het ooggetuies voor die beweerde verkragting gesien hoe die vrou en die rugbyspeler soen, mekaar druk en vashou. Die verdediging voer ook aan die vrou het ʼn aansienlike hoeveelheid alkohol en dagga ingeneem.

Die saak is tot 10 Mei uitgestel vir die DOV se besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sterkte ·

Lyk nie soos ‘n groot opkoms nie, ek sien nie die rooi hempies daar brand en breek en klipgooi nie . dit beteken verkragting word in sekere kringe nie geag ‘n groot oortreding te wees nie, asook die man is van die regte kleur .. net ‘n handjievol mense wat daar staan .. skandelik. Was dit ‘n wit bloubul het jy vandag sports gesien by daardie hofgebou!

Let op ·

Let op dat die foto se onderskrif lui ‘ . . . tydens ‘n vorige verskyning van ‘n beskuldigde’. Dus is dit nie ‘die beskuldigde’ tensy MM ‘n glipsie gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.