Dowe seun se hulpkreet ná pa breinskade opdoen

Abigail, Leon en Dylan Scholtz. Foto: Verskaf

Abigail, Leon en Dylan Scholtz. Foto: Verskaf

ʼn Sewejarige dowe seun se hulpkreet aan ʼn Gautengse koerant, nadat sy pa ernstige breinskade opgedoen het toe hy erg aangerand is, het gesorg dat weldoeners na die behoeftige gesin uitgereik het.

Dylan Scholtz het ʼn brief aan die Boksburg Advertiser geskryf, waarin hy vra of iemand sy gesin met klere, kruideniersware en ander noodsaaklikhede kan help. In die brief het hy geskryf sy pa is die enigste broodwinner in die gesin en hulle kry sedert die aanranding in Maart vanjaar baie swaar.

Charlene Paphitis (36), Dylan se ma, het Donderdag aan Maroela Media gesê die gesin is baie dankbaar vir die hulp wat hulle ontvang het. “Baie mense het bygedra om ons onmiddellike nood ten opsigte van kos en klere te verlig en daarvoor is ons baie dankbaar,” het sy gesê.

Dylan Scholtz. Foto: Verskaf

Dylan Scholtz. Foto: Verskaf

Paphitis vertel haar lewensmaat van 13 jaar en die pa van haar drie kinders, Leon Scholtz (43), is in Maart buite ʼn nagklub aangerand deur minstens ses mans. Hy het ernstige breinskade opgedoen en kan sedert die aanval nie meer praat nie. Leon kan slegs met hulp loop, kan glad nie sy regterarm gebruik nie en sukkel om te fokus wanneer iemand met hom praat.

“As ons met hom praat, kyk hy vir ons en knik net heeltyd sy kop vir alles wat ons sê. Ek is dus nie eens seker of hy enige van ons herken nie,” het ʼn emosionele Paphitis gesê. “Ons weet nie of hy ooit sal verbeter nie, maar ons weet wel hy het dringend spraak- en fisioterapie nodig om enigsins ʼn kans op verbetering te hê.”

Paphitis het gesê Leon was altyd die enigste broodwinner en daarom het die gesin in ʼn ernstige finansiële verknorsing beland ná die aanranding. Behalwe vir Dylan, het die paartjie ook ʼn driejarige dogter, Abigail en ʼn tweejarige seun, Nicholas. “Ek het na die aanranding by my ouers ingetrek sodat daar iemand is om my te help. Dit sou net tydelik gewees, maar nou is dit al maande later. My motor is verkoop terwyl Leon in die hospitaal was, daarom het ons ook nou geen vervoer nie,” het sy gesê.

“Leon bly tans by sy ouers, bloot omdat ons nie plek het om hom te huisves nie. Hy het 24 uur van die dag sorg nodig, want hy kan niks vir homself doen nie.”

Leon Scholtz. Foto: Verskaf

Leon Scholtz. Foto: Verskaf

Sy vertel Dylan, ʼn leerder aan die St. Vincent Skool vir Dowes in Rosebank, se een gehoorapparaat het gebreek en dit sal R2 600 kos om dit te herstel, geld wat die gesin nie het nie. Intussen sukkel Dylan om met net een gehoorapparaat oor die weg te kom.

“Ons dringendste behoefte is nou om Dylan se gehoorapparaat te laat herstel. Hy is heeltemal doof sonder die apparate en hy kan regtig nie funksioneer met net een nie,” het Paphitis gesê. “Ons sal Leon ook so graag vir spraak- en fisioterapie wil neem sodat hy ook ʼn kans het op verbetering. Dit breek my hart om hom so te sien. Ek wil graag positief bly en glo dat hy met die regte hulp kan verbeter.”

Sy het bygevoeg die afgelope paar maande was vir die hele gesin baie traumaties en veral Dylan kry baie swaar. “Dylan moet nou vir berading gaan omdat hy skielik woede-uitbarstings kry. Sy gedrag het baie verander en hy het aggressief geword. Ek dink hy sukkel om hierdie situasie te hanteer. Die kinders mis hulle pa so baie. Dit is net ongelooflik hoe ʼn mens se hele lewe in een oomblik handomkeer kan verander.”

Enigiemand wat graag met die gesin in verbinding wil tree, kan vir Charlene op 079 567 5101 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet J ·

Maroela is dit moontlik dat meer inligting met betrekking tot die aanranding op Leon voorsien kan word :- wie is die skuldiges, was daar ‘n saak vir aanranding ge-open , was ‘n siviele saak teen die skuldiges aanhangig gemaak, kan die welsyn nie betrek word nie, die regering kan sekerlik ook hulp voorsien met spraak en fisioterapie bv. die welsyn. Ek is oortuig daarvan dat met die regte hulp, en baie belangrik om tussen sy familie te wees, hy goeie vordering sal maak.

Julandie ·

boksburgadvertiser.co.za/273695/deaf-boy-appeals-for-help/

Daar is links wat gevolg kan word oor die eerste artikel oor die aanranding met Al die bosenderhede.

Milan ·

Maroela, ek help graag met die herstel vd gehoorapparaat. Kontak my per e-pos.

Susan ·

Ek wil ook graag weet of di betrokke SES mans wat die hartseer veroorsaak het aangekla is. Wat gaan met ons mense aan wat in n groep een persoon pak. Dis lafaards wat so iets doen. Wie staan n kans teen 6. Maak nie saak wat hy gedoen het nie. Geen een het di reg om soveel hartseer te veroorsaak nie.

Udo ·

Ek wil ook help maar wil Maroela as kanaal gebruik?

Kontak my gerus

Landi Slatter ·

Dagsê Udo,

Dankie vir jou navraag en bereidwilligheid om te help! Enigiemand wat graag met die gesin in verbinding wil tree, kan vir Charlene op 079 567 5101 skakel.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.