Dowe vrou moet wéér ʼn aanvaller afweer

Dr. Magteld Smith. Foto: Verskaf

Dr. Magteld Smith. Foto: Verskaf

ʼn Dowe vrou van Bloemfontein moes vir die tweede keer in minder as ʼn jaar ʼn aanvaller afweer toe sy Woensdagoggend in haar motorhuis oorval is.

Dr. Magteld Smith, navorser in die departement otorinolaringologie (oor-neus-en-keelkunde) aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het dié oggend omstreeks 06:40 by haar huis in Brandwag in haar motor geklim om lughawe toe te ry om ʼn vlug na Kaapstad te haal.

Smith is doof en het ʼn kogleêre inplanting. “Ek en Poertsie, my gidshond, was reeds in die motor wat aangeskakel was, gereed om agteruit te ry terwyl die motorhuis se elektroniese deur oopgegaan het. Die volgende oomblik het die aanvaller by my oop motorvenster verskyn,” sê Smith.

Sy vertel dat sy altyd ʼn skokstok by haar in die motor hou of by haar dra wanneer sy gaan stap om haarself te verdedig. Sy het die skokstok gegryp en die aanvaller geskok dat hy op die vloer inmekaargesak het. “Ek het uit my voertuig geklim en het hom weer geskok en dalk nog ʼn keer, ek kan nie onthou nie. Daarna het ek hom uit my motorhuis uitgerol buite na die straat toe.”

Smith het haar motorhuis se deur toegemaak, die alarm geaktiveer en weggery. “Weens vorige traumatiese gebeure in my lewe is dit asof my brein ‘uitsny’ en my oorlewingsinstink skop in. Ek het nie eers geweet waarheen ek ry nie en het ompaaie gery. Die aanval ʼn paar maande gelede het kort-kort deur my gedagtes geflits,” sê sy.

Smith is in Julie verlede jaar by die Sewe Damme-bewaarea oorval, geslaan en verskeie kere met ʼn mes gesteek toe sy gaan stap het. Haar aanvaller het haar agter ʼn bos ingewag en toe sy met haar honde verbykom, het hy haar oorval en op die grond platgedruk. Hy het sy broek begin losmaak, maar Smith kon daarin slaag om op haar voete te kom en het haar selfoon in die veld as lokaas gegooi. Die aanvaller het gehardloop om die selfoon te kry en Smith en haar honde het gevlug. Niemand is nog in verband met hierdie aanval in hegtenis geneem nie.

Teen die tyd dat Smith Woensdagoggend by die lughawe aangekom het, het sy reeds haar vlug verpas. Boonop sou dit die eerste keer, ná jare se gesukkel, wees wat Smith toegelaat word om haar gidshond saam met haar op die vlug te neem. In die verlede moes Poertsie soos ander troeteldiere die vlug in ʼn hok meemaak.

“Die personeel by die lughawe was vol begrip oor die gebeure en het my en Poertsie op ʼn 19:00-vlug bespreek,” het Smith gesê. “Met my terugkoms by die huis was die krimineel weg.”

Sy het gesê sy het reeds maksimum veiligheidsmaatreëls by haar huis aangebring en hoop nou om binnekort ʼn meenthuis in ʼn veilige meenthuiskompleks te kry.

“Hier is maksimum sekuriteit by my woonplek, maar dit hou eenvoudig nie kriminele uit nie en dan word jy nog aan die einde van die maand verras met ʼn hoë rekening van die veiligheidsmaatskappy. Ek ervaar hierdie misdadigers as mense met ʼn professionele beroep en dit is om hul kriminele dade sonder vrees uit te voer. Niks keer hulle nie en hulle skrik vir niks en lag vir die gereg. Jy kan ook net soveel sekuriteit in plek hê,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Estelle ·

Dankbaar dat u die aanvaller kon afweer met die skokstok. Waar kan ek asseblief so n stok bekom. Dit is n ideale afskrikmiddel wat n krimineel waarsku met as jy nie wil hoor
nie dan moet jy voel.

Cherokee ·

Hi Estelle, soek op Internet en gebruik die word ‘stun gun’. Koop een met die hoogste kragstroom wat jy kan opspoor. dit is relatief bekostigbaar.

Cherokee ·

In opvolg… terloops Estelle, jy kan navraag doen daarvoor by enige wapenwinkel. Indien hulle dit nie in voorraad het nie sal jy verwys kan word na waar om dit aan te skaf. Vele vuurwapenwinkels het dit in voorraad.

Christa ·

Estelle ek wil ook weet waar om so ‘n skokstok te koop? Kan Maroela ASB vir ons uitvind en laat weet? Ek ry ook meestal alleen want my man is verlede jaar oorlede. Baie dankie.

Connie ·

Estelle jy kan dit by die plekke kry waar jy jou hek se remote control koop. Hulle jou dit aan.

Christa ·

Estelle ek wil ook weet waar ek so ‘n skokstok kan kry. Kan Maroela ASB vir ons uitvind en laat weet. Ek ry ook meestal alleen. Dankie.

cor ·

Wow dit wil gedoen wees hy sal sekerlik nie weer naby n voertuig venster kom nie. As dit is wat ‘n mens moet doen om te oorleef doen dit goed.

Hanna ·

Dr Magteld Smith, jy is ‘n formidabele vrou! Ek het groot respek vir jou optrede in albei voorvalle! Ek het ook begrip vir jou optrede na elke voorval, hoewel ek tog voel dat dit dalk, net, per ongeluk, die moeite werd kon gewees het om die sake by die polisie aan te meld!

Ouma Skoeter ·

Brawe vrou. Net jammer skurk is nie gevang nie. Hopelik het vangwa hom opgetel

Seeklong ·

Moenie vir die mense sê waar om ‘n skok stok te koop nie, dalk maak ek vir vroutjie kwaad en moet dit dan ontgeld.

buffel ·

Mooi man!
Give that woman a bells!!!!
Ekt nou so lekker gelag en lekker gekry- hoop die gemors hakkel nog van die skokkende ervaring….

ken benoni ·

Dr. , u verdien ‘n medalje. Bly u is nie beseer – doen so voort!

G Tait ·

Ek wil die dame n medalje gee. Ons moet ons self paraat hou, dit is nou die inding om aangeval te word.

goga ·

Dit sou gehelp het as sy n foto van die skurk geneem het .. mens dink nie altyd daar aan nie .. maar dit sou help

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.