Sondag se chaos by die konsertvenue en -restaurant, Dozi’s Back to the Roots, in Hartbeespoort sal nie komende Sondag herhaal word nie.
Só het Dozi, oftewel Henk Opperman, Maandag gesê in reaksie op hordes negatiewe kommentaar en reaksie op sosiale media na aanleiding van Sondag se vertoning van Jo Black. Talle lesers het Maroela Media ook genader oor hul ondervinding.
Mense is boos omdat hulle glo vir ure in ʼn ry in die warm son moes staan, daar swak organisasie en diens by die venue was en tafels wat bespreek is deur ander mense gevat is.
“Baie teleurgesteld! Ons het al maande terug vir die hele gesin ʼn tafel bespreek om vir Jo Black te sien. Moes drie uur in son en stof staan net om te hoor ons het nie meer ʼn tafel nie, daar is nie meer plek om te sit of staan nie. Die nuwe bestuur het blykbaar dubbelbesprekings gemaak. Ons en nog honderde mense het omgedraai en is huis toe,” lui een van die inskrywings op sosiale media.
Volgens Dozi het hy en sy verloofde, Kim Viljoen, self al die reëlings vir die konsert gedoen. “Daar was ʼn moewiese klomp mense wat daar aangekom en nie kaartjies gehad het nie en toe voor in die rye ingedruk het. Ons het vooraf gesê daar is nie kaartjies by die venue te koop nie en dat al die kaartjies klaar uitverkoop was.”
Daar is 2 000 kaartjies vir Sondag se vertoning verkoop. “Daar was glad nie dubbelbesprekings nie. Mense het ingegaan en sommer net by tafels gaan sit wat bespreek was en van die mense was baie ongeskik gewees. Dit was die eerste keer dat ons self als gereël het, maar dit sal volgende week met Steve [Hofmeyr] se show beter gaan.”
Dozi het gesê daar sal mense aangestel word om seker te maak alles verloop volgende naweek vlot. “Die mense wat hul kaartjies daar by ons by die terrein ingehandig het, sal hul geld terugkry, maar ons kan ongelukkig nie vir mense wat nou agterna kom hul geld teruggee nie. Hoe weet ek dat daai mense nie op die terrein was en die show gekyk het nie?”
Volgens Dozi het die mense wat wel daar was en die vertoning gekyk het dit baie geniet. Hy het gesê dit is vir hom vreemd dat mense kla oor hulle in die son moes sit. “Ek kan nie vir almal skaduwee gee nie. As mens by Loftus gaan rugby kyk, sit jy ook partykeer in die son.”
Rakende bewerings dat daar meer kaartjies verkoop is as wat die plek kan akkommodeer, het Dozi gesê daar is plek vir 2 000 mense. “Ek moet bieg dat ek die plek nog altyd as ʼn restaurant wou bedryf, maar jy kan nie vir so ʼn klomp mense gelyk kos en drank gee nie en daarom het ons nou die stalletjies gekry.”
Dozi het gesê hy is jammer dat daar chaos ontstaan het. “Ek is egter gewoond daaraan dat mense my met klippe gooi. Dit het al gebeur toe ek nog nie eens ʼn restaurant gehad het nie. Maar ek gaan dinge beter maak. Ek sal verseker dat dinge gladder verloop volgende keer.”
Dozi het mense wat Sondag Steve Hofmeyr se konsert by Back to the Roots gaan bywoon, versoek om al teen 09:30 by die perseel te begin opdaag.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
88 Kommentare
Maar hoekom adverteer jy dan op radio dat almal welkom is, en dat almal nooi? Ek was Sondag in die omgewing en het oorweeg om na jou plek te kom na jou radio advertensies op LekkerFM. Ek het nie geweet dat jy vooraf moet bespreek nie. Kom beskou dit as ‘n leerskool. As jy sangers soos Steve, Bobbie, Jo, Karlien ens. laat optree, moet jy nie verbaas wees as hordes opdaag nie.
Dis nie die eerste keer nie. Die blikkies slaan deur.
Hoop van harte die naweek sn sal beter afloop, aangesien Steve gaan optree
Miskien moet hy liewer nie shows reël nie – dit werk duidelik nie. Probeer volgende keervertonings reël, ek is seker dit gaan werk.
Ons klink so bietjie jaloers ne!