Dr. Emslie-moord: Buitelander ontsnap uit aanhouding

Drs. Werner en Mariette Emslie. Foto: Via Facebook

ʼn Dringende beroep word op die publiek gedoen om uit te kyk vir ʼn Zimbabwiër wat glo uit aanhouding by die Lephalale-polisieselle in Limpopo ontsnap het.

Die ontsnapte, Petros Moyo (27), is verhoorafwagtend in verband met die onlangse moord op dr. Werner Emslie (55) op sy plaas buite Lephalale (Ellisras).

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die misdaadbestrydingsorganisasie Heritage Protection Group (HPG), het Dinsdag aan Maroela Media gesê die ontsnapping is eers vanoggend aangemeld, maar Moyo kon “enige tyd deur die aand ontsnap het”.

Louwrens het ʼn beroep op die publiek gedoen om na Moyo te help soek, uit vrees dat Moyo dalk terug kan vlug na sy tuisland. Mense wat hom opmerk, word versoek om Louwrens dadelik by 071 798 7954 te skakel.

Dit is nie duidelik hoe Moyo ontsnap het nie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het aan Maroela Media gesê ʼn ontsnapping is by hom aangemeld. Hy kan egter nie in die stadium bevestig wie ontsnap het en wat die omstandighede rondom die voorval is nie. Hy het onderneem om ondersoek in te stel en later terugvoer te gee.

Maroela Media het vroeër berig Moyo is op 18 Oktober in Frankfort in die Vrystaat in hegtenis geneem ná volgehoue pogings deur die Lephalale-polisie se taakspan, speurders, misdaadintelligensie-eenheid en HPG.

Buiten die aanval op Emslie, en sy vrou, dr. Mariette Emslie (55), word Moyo glo ook verbind met huisroof- en inbraaksake in Lephalale en Frankfort. Moyo het op 20 Oktober vir die eerste keer in die hof verskyn en was sedert sy inhegtenisneming in aanhouding.

Die Emslie-egpaar en hul dogter, Barbara (19), ʼn eerstejaar mediese student aan Tukkies in Pretoria, is op 20 September omstreeks 20:00 deur vier gewapende mans op hul plaas in die Afguns-omgewing aangeval. Mariëtte is ʼn algemene praktisyn op die dorp en Werner was ʼn geliefde boer en doktor in bedryfsgesondheid.

Werner is koelbloedig doodgeskiet terwyl hy buite sy huis op die stoep gesit het. Mariëtte is in die lewer geskiet en moes met ʼn helikopter na die Muelmed-hospitaal in Pretoria gebring word waar sy gestabiliseer is. Sy kan ná die skietery nie loop nie en ontvang nog rehabilitasiebehandeling. Barbara is nie tydens die aanval ernstig beseer nie.

Die verdagtes het met twee vuurwapens en die egpaar se bakkie van die toneel gevlug. Die bakkie is later verlate buite die plaas gekry.

Moyo se medepligtiges is steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

christa ·

did alles moontlik in hierdie land. Niemand neem hulle werk ernstig op nie. Tot die tronkbewaarders kan strike. Dit is niks snaaks in SA nie.

willie ·

Ek sou dit nie ontsnapping noem nie, seldeure is veronderstel om gesluit te wees met uurlikse besoeke deur die beamptes aan diens om seker te maak alles is in orde! Ek ruik ñ rot!

Jakalas ·

Ek dink ons almal weet hy is “perongeluk” vry gelaat.

Anarchy ·

Ja nee,hoekom se hulle nie maar net wat dit is nie…hy is vry gelaat want hy het n boer vermoor.

HPV ·

Hoekom is niemand verbaas nie? Ontsnap of uitgestap met begeleiding, padkos en vervoer.

Marius ·

Ja nee… Maak mens moedeloos as die polisie so lamsakkig is…

DAVID ·

Ek stem saam die deure is vir hom oopgemaak teen n fooi natuurlik. Dit is mos hoe dit in afrika werk

Alida ·

Nou word die publiek se hulp ingeroep. Belaglik !!! Hy is lankal oor die grens en WEG met hulp natuurlik.

Chris Ws ·

Hy was BESLIS gehelp om te ontsnap.Die polisie beamptes aan diens vir die 24 uur waarin hy ontsnap het moet almal aangekla word van medepligtigheid om ‘n moordenaar te help ontsnap.Hy is lankal in Zim.Einde van die saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.