Dr. Nandi se aansoek misluk

Dr. Nandipha Magudumana (Foto: Facebook)

Dr. Nandipha Magudumana se aansoek waarin sy die Bloemfonteinse hooggeregshof gevra het om haar inhegtenisneming ongrondwetlik te verklaar, “kon nie slaag nie,” het regter Philip Loubser Maandag beslis.

Die aansoek is op ʼn dringende grondslag aangehoor en is Maandag met koste van die hand gewys.

Loubser het saam met Magudumana gestem dat haar deportasie uit Tanzanië in April vanjaar moontlik as ʼn uitlewering verbloem is. Sy het haar egter in geen stadium teëgesit toe sy na Suid-Afrika teruggebring is nie, het die regter bevind.

Volgens Loubser is daar “geen huiwering” by hom dat Magudumana deeglik bewus was van die aanklagte wat haar in Suid-Afrika in die gesig sou staar toe sy ingestem het om na Suid-Afrika terug te keer sodat sy haar kinders kon sien.

Loubser het ook gesê daar is “massiewe en wesenlike feitegeskille” rondom Magudumana se inhegtenisneming en die omstandighede rakende haar vervoer van Tanzanië na Suid-Afrika.

Magudumana het in haar aansoek aangevoer dat Suid-Afrikaanse polisiebeamptes haar op 6 April “met geweld ontvoer” het voordat sy op 12 April “geblinddoek” en na ʼn lughawe in Tanzanië geneem is. Daar is sy glo aangesê om op ʼn vliegtuig na Suid-Afrika te klim.

Magudumana voer aan dat sy nooit tot onwettige immigrant in Tanzanië verklaar is nie en dat Suid-Afrikaanse polisiebeamptes geen jurisdiksie of gesag gehad het om haar in dié land in hegtenis te neem nie.

Die staat het egter ontken dat Magudumana in Tanzanië óf op die vlug na Suid-Afrika in boeie geslaan is. Die staat het ook ontken dat sy geblinddoek en op ʼn vliegtuig gedwing is, soos Magudumana in haar aansoek aangevoer het.

Die staat hou vol Magudumana is ingevolge Tanzaniese immigrasiewetgewing tot verbode immigrant verklaar en moes daarom gedeporteer word na haar land van herkoms – Suid-Afrika.

Loubser het vanoggend gesê indien Magudumana die besluit van Tanzanië om haar te deporteer wil betwis, moet sy dit in Tanzanië doen.

Magudumana is tans in aanhouding in Kroonstad en was nie Maandag in die hooggeregshof toe Loubser uitspraak gelewer het nie.

Magudumana word daarvan beskuldig dat sy ʼn aandeel gehad het in haar kêrel, Thabo Bester, ʼn veroordeelde moordenaar en verkragter, se ontsnapping uit die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis in Bloemfontein verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Sy is geskrap van die mediese raad so hoekom word na haar verwys as Dr sy is nou ‘n gewone verdagte in ‘n misdaad saak.

Koos 100 ·

As jy ‘n Phd het is jy ‘n dokter. Geskrap van die mediese raad, skrap nie jou kwalifikasie nie, jy mag net nie praktiseer nie.

Leon ·

Sy het wel eerder ‘n MBChB (en ‘n BHSc) instede van ‘n PhD, maar ja, dit gee haar steeds die Dr. titel.

Nommer 7 ·

Nee, sy is nie geskrap nie. Sy het nie haar registrasie fooi betaal nie, en mag dus nie praktiseer nie, dis al. As sy betaal, mag sy weer praktiseer.

Annelize ·

Lekker!

Sy moet dalk dankbaar wees sy is gevang. Sy was dalk Thabo se volgende slagoffer die oomblik as hy nie meer nut vir haar gehad het ne.

Niklaas ·

Nee , sy moet bly agter tralies . Anders verdwyn sy , soos Dirk Prinsloo destyds .

Amelia ·

My vraag is steeds waar hulle so baie geld vandaan kry as ek reg onthou het thabo n bank rekening uit die tronk geopen met meer as 800m kyk ok na die huis waarin hul gebly het en karre hier is iets snaaks aan die gang

MJLS ·

Sy het wetende wat sy doen, landswette oortree…het sy nie geweet dat sy wetlik vervolg gaan word nie? Sy moet maar sit.

domheks ·

Kry vir jou dame. Die bedorwe brokkie kan nie altyd haar sin kry nie. Nou sal sy seker haar kinders begin gebruik as verskoning. Sy is nie die woord ‘ma’ werd nie!

Di ·

Die arrogansie van hierdie kriminele maak my siek! SY is presies waar sy hoort “agter tralies”

DJ ·

Daar kan gerus gekyk word na die wettigheid van haar mediese kwalfikasie en waar sy dit verwerf het.

Leon ·

Bachelor of Health Sciences (BHSc) in Biomedical Sciences and a Bachelor of Medicine and Bachelor of Surgery (MBChB), which she obtained from Wits University

FCR ·

Goed so! Sy is net so skuldig as Bester. Gedink haar pappie gaan uit die gemors kry – toe nou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.