Dr. Nandi se deportasie wás wettig – minister

Dr. Nandipha Magudumana (Foto: Skermskoot)

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het dr. Nandipha Magudumana se bewering verwerp dat Suid-Afrikaanse amptenare haar in April vanjaar in Tanzanië ontvoer het en dat sy nou onwettig in Suid-Afrika aangehou word.

“Kollegas, ek is nie seker waar hierdie drama vandaan kom dat iemand ontvoer is nie,” het die minister Maandag tydens ʼn mediakonferensie aan verslaggewers gesê.

“Dr. Nandipha Magudumana en Thabo Bester is ingevolge Tanzaniese immigrasiewetgewing as verbode immigrante verklaar en moes daarom gedeporteer word na hul land van herkoms, wat Suid-Afrika is.

“Die Tanzaniërs het Magudumana en Bester as ongewenste persone verklaar.”

Motsoaledi het bevestig dat amptenare van sy departement deel was van ʼn multi-dissiplinêre afvaardiging wat in April na Tanzanië gereis het om Magudumana en Bester “huis toe te bring” nadat hulle daar as onwettige immigrante verklaar en beveel is om die land binne drie dae te verlaat.

Magudumana het ʼn aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein gebring om dadelik vrygelaat te word. Sy voer in hofstukke aan dat haar inhegtenisneming in Tanzanië op ontvoering neerkom, en dat haar vervoer na Suid-Afrika en gevolglike inhegtenisneming hier en aanhouding onregmatig en onwettig is.

Motsoaledi sê hy het Vrydag “net soos die res van Suid-Afrika” deur die media van die aansoek te hore gekom. Die direkteur-generaal van die departement van binnelandse sake was ook “geskok” om te verneem dat die departement van binnelandse sake en Motsoaledi, as minister, nie as respondente in die aansoek aangedui word nie.

Dit terwyl Magudumana se regspan ʼn week gelede nog ʼn skrywe aan die departement gerig het om meer inligting oor hul kliënt se deportasie te bekom. Die departement het die regspan aangesê om ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) in te dien.

Die departement van binnelandse sake dring nou daarop aan dat Magudumana se saak óf van die rol geskrap word óf dat die departement by die saak gevoeg word.

Magudumana ‘verdien nie paspoort’

Daar is intussen besluit om Magudumana se paspoort terug te trek.

“Sy verdien nie om dit langer te hê nie,” het Motsoaledi vanoggend gesê. Die geldige paspoort was een van drie wat by Magudumana gevind is toe sy in Tanzanië aangekeer is. Dit verval in 2027.

Motsoaledi het gesê die departement het sy regspan genader en dié het bevestig dat daar sterk gronde is om Magudumana se paspoort terug te trek.

Die minister sê Bester het intussen verlede week ʼn ID-kaart gekry en sy naam is nou in die nasionale bevolkingsregister opgeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SjN ·

Die kriminele het te veel regte, sy was onwettig in daai land, seker grensposbeheer gebribe, wens dit gebeur ook in ons land met verbode immigrante, wat het intussen geword van die buitensporige koste aangegaan om hul terug te bring Dr Aaron?

Hannelie ·

Sy is toe nie so slim as wat sy gedink het nie…………ontvoer…. Daai kite van haar het nie gevlieg nie.

CHRISTINE ·

Ek het begin lag toe ek dit die eerste keer hoor dat die medepligtige ontvoer is toe sy gevang is. As ek ooit arre4steer word gaan ek se ek was deur die polisie ontvoer.

Koos 100 ·

Daar is dit nou. Die minister het gepraat. Die ongewensde word dan met ‘n privaat vliegtuig uit die land geneem. Geagte minister, die feit dat hulle onwettig uit SA en in ‘n ander land in is behoort jou slaaplose nagte te gee. Dit wys duidelik dat SA en Afrika te koop is!

Anel ·

Daar is sterk gronde om haar paspoort terug te trek. Goeie genade! As dit ek was sou daar nie twee keer gedink word nie. My paspoort sou al tetuggetrek gewees het die dag toe ek gedeporteer was!!!! Net die feit dat sy in ‘n ander land was is mos bewys genoeg dat sy gevlug het, en dat sy onwettig fie land binne gegaan het. So, bly in die tronk en kry vir jou!!!!!!

Casper ·

Of julle nou daarvan hou of nie,die vrou het ‘n sterk saak.Sy is nie wettig gedeporteer nie en ook nie uitgelewer nie.Ek weet waarvan ek praat,ek het 37 jaar lank daarmee gewerk.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die minister is net tè vol bravade. Dalk nóg ‘n eier in die regime se gesig. En Bester kry sommer tjop-tjop ‘n ID nommer.

Niklaas ·

Ek hou van haar sin vir humor. Haar stellings van ontvoering is heel komies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.