Dr. Nandi sit; pa kry borgtog

Zolile Sekeleni (links) en Senohe Matsoara (regs). (Foto: Becker Semela/GroundUp)

Die vier beskuldigdes wat na bewering ʼn aandeel in die ontsnapping van die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester gehad het, het Maandagoggend in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Bester se vriendin, dr. Nandipha Magudumana, haar pa, Zolile Sekeleni, en nog twee beskuldigdes, Teboho Lipholo en Senohe Matsoara, het saam in die hof verskyn.

Lipholo is ʼn werker by ʼn maatskappy wat gekontrakteer is om kameras by die Mangaung-maksimumveiligheidsgevangenis te installeer en in stand te hou, terwyl Matsoara ʼn bewaarder by die tronk was.

Sekeleni is borgtog van R10 000 toegestaan en indien hy dié bedrag betaal, sal hy een keer ʼn week by die polisiestasie op Port Edward moet aanmeld. Hy mag ook nie die distrik verlaat sonder die polisie se toestemming nie.

Die saak is tot 16 Mei uitgestel wanneer Bester ook weer in die hof moet verskyn.

Die landdros het ook beslis dat Magudumana en haar twee medebeskuldigdes in aanhouding sal bly tot hul volgende hofverskyning op 3 en 4 Mei. Dié drie sal dan aansoek om borgtog kan doen.

Die beskuldigdes staan tereg op verskillende aanklagte, waaronder moord, dwarsboming van die gereg, medepligtigheid en brandstigting.

Tydens die hofverrigtinge het die landdros gevra dat Magudumana, wat sedert haar terugkoms in Suid-Afrika haar gesig bedek, haar gesigsmasker en die kappie van haar baadjie verwyder om haar gesig te wys.

Die staatsaanklaer in die saak het aangevoer dat hoewel hy begrip het dat sy moontlik “mediasensasie” probeer vermy deur haar gesig te bedek, is dit verregaande om te aanvaar dat sy haar gesig bedek terwyl die hof in sitting is.

Magudumana het vlugtig haar gesig gewys voordat sy weer haar gesigsmasker en kappie opgesit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

TruthDealer ·

Ek weet nie hoekom sy dink dit nou gaan help om haar gesig te bedek nie. Almal weet hoe sy lyk. Sy gaan nog lank in die nuus wees.

Peter ·

Pateties, sy is lankal nie meer n dokter nie so noem haar wat sy is, krimineel en moordenaar

melaney ·

Sy was baie braaf en uitdagend om aan te jaag. Nou steek sy skielik haar gesig weg?

Anel ·

Hoekom is sy nou skaam? Geen dokter maar ‘n koelbloedige krimineel!!!

efjy ·

Soos die polisie/gereg deesdae lieg, twyfel ek of die regte persone tans verhoor word.

Oosie ·

Borg vir moord is nie reg.. daai spul gaan weghol as hul uitkom.. het dit klaar gewys..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.