Dr. Theo de Jager tot WLO-president herkies

Die direkteur-generaal van die Food and Agriculture Organisation (FAO) van die VN, QU Dongyu, skud Dr Theo De Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie se hand by die FAO se hoofkwartier in Rome. (Foto: Verskaf)

Dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai, se mandaat as president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) is vandag tydens dié organisasie se algemene jaarvergadering met nog ʼn jaar verleng.

De Jager het in 2017 die eerste Suid-Afrikaner geword wat as president van die WLO verkies is nadat hy as erelid van die Commercial Farmers’ Union (CFU) van Zimbabwe genomineer is. Hy was die sesde president van die WLO in ses jaar. In 2019 het hy die eerste president van die organisasie geword wat vir ʼn tweede termyn herkies is.

Volgens die WLO spruit die eenparige verlenging van sy mandaat deur nasionale landbou-unies oor die wêreld heen uit die beperkinge wat Covid-19-inperkings, met gepaardgaande digitale vergaderings, op die blootstelling en ontwikkeling van ʼn volgende generasie leierskap gehad het.

Landbouleiers voel hulle het nie ʼn billike geleentheid gehad om opvolgkandidate se optrede en vaardighede te ervaar en hulle sinvol te oorweeg ten einde ʼn weloorwoë keuse te maak nie.

Boonop was De Jager instrumenteel tot vyf internasionale berade wat nog in 2021 afgehandel moet word, wat ʼn groot invloed op die wêreldwye boerdery-omgewing kan hê:

  • COP26-klimaatsberaad in Glasgow,
  • G20-beraad oor Zero Honger,
  • VN se Groei-en-voedingberaad,
  • CBD COP15-beraad oor biodiversiteit,
  • VN se Voedselsistemeberaad, waar hy in die sentrale koördineringskomitee dien.

Hy het oor die afgelope twee jaar die onderhandelinge oor doelwitte en agendas van hierdie berade behartig en die lidlande van die WLO het gevra dat hy die belange van die internasionale landbougemeenskap steeds tydens die geleenthede sal verteenwoordig.

In haar jaarverslag sê Arianna Giuliodori, sekretaris-generaal van die WLO, dat dr. De Jager sedert sy verkiesing in 2017 in Finland die Wêreldlandbou-organisasie:

  • grondig herstruktureer het,
  • finansieel weer lewensvatbaar gemaak en ʼn reserwefonds opgebou het,
  • uitgebrei het deur ondanks die onttrekking van lede uit Argentinië en Suid-Afrika 13 nuwe lede uit die Karibiese Eilande, Noord-Amerika, Europa, Asië, Afrika en Oseanië in te lyf,
  • hom tot getekende vennootskappe met verskeie VN-organisasies, die Wêreldbank en FOLU verbind het,
  • hom saam met die FAO (Food and Agriculture Organisation of the United Nations) as medefasiliteerder van die dekade van familieboere geskaar het.

Hy het ook die organisasie verjong deur die WLO Gimnasium in Rome vir invloedryke jong boere te skep. Hoewel AgriSA uit die WLO bedank het, kan die Wes-Kaapse jongboer AJ van Wyk onder die nuwe voogdyskap steeds aan die 30 maande lange gimnasiumprogram deelneem.

Die WLO het ook onder De Jager se leiding as ʼn waarnemerparty met toegang tot die VN se algemene jaarvergadering, asook aan die VN se klimaatveranderingsonderhandelinge erkenning gekry, en oor die afgelope vier jaar by dié vergaderings tydens die hoëvlakopening- en afsluitingsdebatte spreekbeurte gekry.

Laastens het De Jager die WLO se beleidsinsette in globale kwessies verryk en verdiep deur die vestiging van ʼn wetenskaplike raad, bestaande uit spesialiste van oor die wêreld wat landbouleiers se debatte en besluite teen die beste bestaande kennis en tegnologie meet. Twee Suid-Afrikaanse kundiges dien ook in die komitee: prof. James Blignaut van Stellenbosch en die bekende ekonoom Dawie Roodt.

Die grootste steun vir De Jager kom steeds van die Afrika-ledebasis wat sedert sy presidentskap van die Pan-Afrika Landbou-organisasie (PAFO) vanaf 2014 tot 2017 sterk beleids-, organisatoriese en morele ondersteuning geniet.

De Jager sê hy is dankbaar vir die unieke geleentheid en veral teenoor die CFU in Zimbabwe as sy mandaatgewende organisasie vir die onwrikbare ondersteuning.

Hy het getrou sy onderneming aan hulle gestand gedoen om die lot van Zimbabwiese boere wat sonder vergoeding onteien is by elke moontlike geleentheid in die kollig te plaas, en sê hy sal daarmee volhou. Op internasionale verhoë is hy ook uitgesproke teen die ANC se verbintenis tot onteiening sonder vergoeding en oor die party se hantering van plaasmoorde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rian ·

Geluk Dr de Jager. Dit sal interessant wees om te weet wanneer SA die WLO verlaat het.

Henri ·

Ek verstaan nie politiek nie. In geen vorm nie. ‘n Suid Afrikaner is president van die spesifieke organisasie, maar sy land se organisasies het onttrek. Is dit ‘n geval van ‘n profeet is nie in sy eie land geëerd nie?

Anel ·

Baie geluk. Net weer ‘n bewys van dat jy nie in jou eie land die erkenning sal ontvang wat jy verdien nie. Hierdie is ‘n net bewys hoe goed ons boete is. En dit is ‘n Afrikaanse blanke man!!! Dink net wat sy hy kon doen vir sy eie land as hy toegelaat was!!!!

Charl ·

Baie geluk Dr de Jager, dis beslís ‘n groot prestasie (‘n pluimpie in jou hoed), doen so voort !

Samuel ·

Veelsgeluk dr. Theo de Jager. Voorspoed op die pad vorentoe.

Mallie ·

Genugtig m wit Suid frAfrikaner. Baie geluk dit wil gedoen wees

RB ·

Baie geluk, Theo!
Wys hulle hoe dit gedoen word.
Kan nie maklik wees vir jou gesin wanneer jy so baie moet reis nie.

Dink ons regering sluk moeilik aan diè man se buitelandse erkenning en sukses.

johann ·

Dit wil gedoen wees. Veral nadat Sa uit die WLO onttrek het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.