Draadkarman bou droom-matriekafskeidmotor

Charné Strauss en Marco Louw by die matriekafskeidmotor wat Seun gebou het. Foto: Verskaf

Geslagte Suid-Afrikaanse kinders het grootgeword met draadkarre. En so is dit vandag nog. Maar as jy ʼn draadkar met houding soek, is dit Seun Diphoko se handewerk wat jy op jou werf wil hê.

Die 40-jarige Seun, soos hy in dié omtes bekend is, is ʼn meesterdraadkarbouer. In ʼn agterplaas in Phahameng in Theunissen in die Vrystaat bou Diphoko vir jou jou droomkar. Hilux. Polisiebakkie. Bus. John Deere. Geen twee modelle is dieselfde nie en ʼn voertuig hoef net op die pad verby te blits, of dis vasgevang in Diphoko se geheue en later bou hy dit perfek na. Hy is só behendig dat hy pas vir die 18-jarige Charné Strauss haar droom-matriekafskeidmotor help bou het.

Charné, ʼn matriekleerling aan Potchefstroom Gimnasium in Noordwes, het vroeër vanjaar ʼn berig van joernalis Charles Smith oor Diphoko se draadkarre gelees en geweet hy is die man wat haar droomkar gaan help bou.

Die matriekafskeidmotor wat Seun gebou het. Foto: Verskaf

“Ek het iets gesoek wat niemand anders sou hê nie en dit is presies wat ek gekry het,” het sy gesê.

Hulle moes eers ʼn motor vind waarvan die onderstel die gewig van die draad sou kon dra, en het uiteindelik op ʼn ou Lotus 7 besluit. Die bak was ook skaars by Diphoko se huis afgelewer, of hy was reg om sy planne daarmee te begin uitvoer. Vir ʼn maand lank het die Strausse elke Sondag van Potchefstroom na Theunissen gery om die vordering dop te hou.

Sy sê haar lewensgrootte draadkar het uiteindelik gevoel soos ʼn sprokiesverhaal wat waar geword het.

Charné Strauss en Marco Louw in die matriekafskeidmotor wat Seun gebou het. Foto: Verskaf

Charné se ma, Geraldine, sê Diphoko het ongelooflike detail in die draadbakwerk ingebou. Van Charné se naam in die neusrooster tot die afwerkings wat hy op draadlasplekke gedoen het. Maar vir haar was die beste deel van die ervaring die twee uiteenlopende gesinne wat mekaar onder ander omstandighede eintlik nooit sou leer ken nie.

Charné se matriekafskeidmetgesel, Marco Louw, moes uiteindelik agter die motor se stuur inskuif – dit was dalk haar droommotor, maar dít gekombineer met haar droomrok het vir ʼn effense logistieke nagmerrie gesorg. Die bestuurder gly amper onder die enjin in, en Charné, uitgevat in haar swierige tabberd met sy lae en lae materiaal, sou maar sukkel om behoorlik te bestuur.

Seun Diphoko met van sy skeppings. Foro: Charles Smith

Geraldine Strauss sê Diphoko se huis val uitmekaar, maar hy maak eerder geld bymekaar om te verseker sy kinders kry behoorlike geleerdheid. Die Strausse het dus onderneem om in ʼn trust hiervoor te help bydra.

ʼn Weldoener het vantevore al ʼn sweismasjien vir Diphoko geskenk om sy onderneming ʼn hupstoot te gee, maar dit was aanvanklik Volksblad-joernalis Charles Smith wat Diphoko op die pad na kleinsakeglorie help sit het.

Smith het Diphoko in Januarie vanjaar vir die eerste keer ontmoet en berig oor sy verstommende handewerk. Minder as ʼn jaar later het Diphoko se inkomste vervyfdubbel, sy kinders is versorg en hy kry die kans om sy werk op plekke soos die Bloem-skou en die Vrystaatse Kunstefees uit te stal en te verkoop.

Charné Strauss en Marco Louw by die matriekafskeidmotor wat Seun gebou het. Foto: Verskaf

Smith, wat self op ʼn plaas grootgeword het en destyds sy eie draadkarre geprakseer het, het groot respek vir Diphoko se unieke werk, en is deesdae ʼn amperse agent en beskermheer vir Diphoko. Smith sê ten spyte van die provinsiale regering se onvermoë om kleinsakemanne soos Diphoko behoorlik te steun, bou hy vir hom en sy gesin ʼn beter toekoms met sy handewerk. Hy staan nooit bakhand nie.

“Ek het besluit ʼn ou soos daai kort ʼn geleentheid. Die suksesstorie is dat hy met sy hande ʼn lewe vir sy kinders maak. Dís wat mense aangegryp het. Hy gaan vooruit en mense steun hom. Dit wys jou mense waardeer oorspronklike Suid-Afrikaanse kuns. Want dis nie ʼn draadkar nie, dis kuns,” het Smith gesê.

“Dit maak my trots. Dis ʼn wenstorie vir die Vrystaat en vir Suid-Afrika.”

Diphoko sê mense steun hom toenemend en hy kan al hoe beter vir sy gesin sorg. Sy draadkarre kos gewoonlik enigiets van R300 en meer en Diphoko neem bestellings wat hy dan landwyd na kopers koerier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Ek-sê-maar-net ·

Sjoe, maar die man mag maar! Boonop is dit baie oorspronklik en baie meer smaakvol as om met ‘n lykswa en in ‘n kis by jou matriekafskeid op te daag.

christa ·

wat ‘n prag om na te kyk. Hy mag maar. Hoop hy kom nog ver met sy handewerk. Wat van ‘n titelakte vir die man, hy verdien sy eie stukkie grond

Adri ·

Ongelooflik!!!! Ek is mal oor handewerk items. Is soveel meer spesiaal as massaproduksie. Baie geluk Diphoko jy is ‘n ware kunstenaar en jou stukke moet vir baie meer geld verkoop omdat dit so uniek is. Ook baie dankie aan Charné en haar gesin wat die man nou verder op die “map” gesit het. Seker sy bestelboek gaan nou te min blaaie hê. Baie geluk Charné jy het pragtig gelyk met jou matriekafskeid.

Hettie ·

Wow, goed gedoen en trots op jou! Wys jy is goeie mens wat spesiaal iets maak! Hou so aan!

Eben ·

Waar kan ek Diphoko se nommer kry,ek soek een van sy draad karre.

SNEL ·

Wow, dis nou iets besonders. Puik gedoen, wat n talent!! Laat my terug verlang na my kinderdae op my ouma hulle se plaas. Daai tyd het ons nog buite gespeel (eerder sê, kon ons nog) en agter goed aan gehardloop, soos n draadkar met skoenpoletoer blikke vir wiele. Ai, te lekker.

Hannelie ·

Wow dit is baie oorspronklik, en ek hou van die idee. Ek is so bly Diphoko gaan nou ‘n bekende word, so min wat maar eerder net sy voorbeeld moet volg. Charné het soos ‘n droom gelyk in haar rok.

Petrolkop ·

My draadkar was op Cradock gekoop by die ouens wat die windpompe maak. Die wiele afgehaal en tennisballe vir wiele opgesit en dan ‘square’ ons daai draadkarre om die draaie. Lekker tye gewees!

Theresa ·

Wonderlik kreatief! Suksesstorie. Charné ek hoop jy geniet jou idee van ‘n oorspronklike matriekmotor sommer gate uit!! Rok en metgesel ewe grênd.

Eish ·

Wat n pragtige storie!
Hoop CR lees dit!
Hier is die ekonomiese stimulus wat hy soek!
Hoop nie SARS sak in sy volle glorie op Diphoko toe nie!

Elrou ·

Kan iemand help met n nr vir die man my kids sal daai trekkers moeg speel…

noeks ·

Ek wil asseblief ook bitter graag sy telefoon nommer wil he, of waar ek kan aankoop.

ChristaT ·

Ag liewe aarde ou JJ, Daar is niks verkeerd daarmee nie. Hoekom iets so positiefs in iets negtief loop maak en boonop nog haar boelie met jou afguns. Jaloesie is ‘n lelike ding

L ·

Dis baie oulik! Sal ook oulik wees om te sien hoe die Diphoko’s van die wereld, die Smith’s van die wereld n hupstoot gee.

Ek dog ek sê maar net... ·

Wow…ek hou daarvan! Mooi idee.
Tog gaan my arme kids seker maar net ñ gewone draadkar kan saam stoot…ook maar net die super ryk brats wat kan kies en keur waarmee hulle wil rondrits vir een aand. Pappa moet maar betaal. Te lekker!!

Janie Henning ·

Wat ‘n ‘voorreg’ om op maroelmedia se webtuiste te gaan en iets so positiefs te sien as hoofnuus! Welgedaan Diphoko. Dis sulke dinge wat ons trots Suid-Afrikaans maak. As daar maar net meer mense was soos jy. Mag jy so geseën word met jou handewerk dat jy nie kan voorbly nie. Ek hoop jy sien en verstaan mense se kommentaar op jou handewerk. Moenie skaamwees om ‘n WhatsApp groepie te stig nie. Een van die dae maak jy dalk genoeg om ‘n P.A aan te stel om jou bestellings te behartig!

liefie ·

Die man is werklik knap. Hy sal vele kinders se lewe ophelder daarmee. Sal ek met so ‘n motor ry? Nooit in my lewe nie.

Elsa ·

Wat ‘n pragtige verhaal! Baie dankie aan Charles Smith wat ‘n talentvolle en hardwerkende man se talent raakgesien het, daaroor berig het en sodoende vir Diphoko ‘n hupstoot gegee het. Vir mense soos Dikhopo en Smith het ek die wêreld se respek en ons het baie meer van julle soort nodig in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.