Dragtige renoster in privaat reservaat gestroop

Drie van die dooie renosters (Foto: Verskaf)

Dit was nie ʼn mooi prentjie vir die bestuur van die Inverdoorn- private wildreservaat in die Wes-Kaap nie toe vier van hul renosters dood in die veld aangetref is. Een van die gestroopte renosters was boonop dragtig. ʼn Ander renoster het ʼn nagemaakte horing uit veselglas gehad, wat dus van geen waarde vir die stropers sal wees nie.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die Aquila Collection-groep, wat die Inverdoorn-reservaat besit, het lede van die teenstroopeenheid Woensdag omstreeks 22:30 op die vier renosters afgekom. Die lede was besig om die gebied te patrolleer.

“Volgens die lede het dit geblyk dat die renosters geskiet is. Twee het reeds aan hul skietwonde beswyk, terwyl die oorblywende twee ernstig beseer was. Hulle het ’n ruk later ook aan hul wonde beswyk,” lui die verklaring.

ʼn Soektog is van stapel gestuur om ʼn vyfde renoster wat in daardie stadium vermis was, op te spoor. Die reservaat se bestuur, bewaringspanne, wildveeartse en wetstoepassers is in kennis gestel en ook na die toneel ontbied.

“Daar is na bewering patrone vir ʼn geweer van ʼn groot kaliber op die toneel geïdentifiseer. Patrollies is verskerp om almal teen die swaar gewapende oortreders te beskerm.”

Die soekspan het omstreeks 02:00 vanoggend (Donderdag) die vermiste renoster – ʼn renosterkoei – gewaar. Sy was in die gesig geskiet, maar het steeds geleef.

‘n Wildveearts-span, onder leiding van Johan Marais, is uitgestuur om die verminkte renoster se beserings te bepaal. Gesigrekonstruksie word sterk oorweeg.

Searl Derman, eienaar van die Aquila Collection en die Inverdoorn-reservaat, het die gesig van die dooie renosters as “ʼn nagmerrie” beskryf. Hy sê die bestuur sal alles in hul vermoë doen om die boosdoeners op te spoor en te laat boet.

Die reservaat het ʼn beloning van R100 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die oortreders kan lei.

Volgens Derman is daar reeds ’n private forensiese ondersoekspan en private ondersoekers op ’n plaaslike, streek- en nasionale vlak ingestel om die stropers op te spoor.

“Hierdie nagmerrie kom op ’n tyd wat die toerismebedryf en die private wildreservate in Suid-Afrika reeds versmoor word deur voortgesette internasionale reisbeperkings. Die Covid-19-pandemie het die bedryf seergemaak. Talle private wildreservate is insolvent verklaar, wild is uitgeroei, personeel afgedank en hulpbronne verminder sodat reservate aan die lewe kan bly,” het Derman gesê.

“Daar is nie net ’n maatskaplike koste aan hierdie pandemie verbonde nie, maar wild is ook onbewustelik slagoffers daarvan.”

Bewaring van renosters

Die Aquila- private reservaat, wat ook aan die Aquila Collection-groep behoort, het in 2011 ook onder renosterstropery deurgeloop. Vandaar het die groep die nieregeringsorganisasie Saving Private Rhino begin.

Die organisasie, in samewerking met City Guns, ʼn vuurwapenwinkel in Kaapstad, verskaf die nodige toerusting en opleiding aan private teenstropingseenhede, wildbewaarders en staatsbeheerde wildagentskappe.

Oor die jare was Saving Private Rhino ook betrokke by verskeie ondersoeke wat verband hou met renosterstropery en die inhegtenisneming van stropers – waaronder die sindikaat wat die Aquila-renosters in 2011 aangeval en doodgemaak het.

“Op daardie spesifieke tydstip is die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Krugerwildtuin en ander reservate in staatsbesit geaktiveer, terwyl georganiseerde misdaad, eerder as opportunistiese stropers, besig was om private wildreservate aan te val,” sê Derman.

“Anders as die weermag en regeringsagentskappe wat die nasionale parke patrolleer, kon private reservate nie die hulpbronne bekostig om hul renoster te beskerm nie.”

Volgens Derman is die Aquila-groep nie ten gunste van die onthoring van renosters nie. Die renosters op die Inverdoorn-reservaat is egter reeds onthoring en die horings met sintetiese horings vervang nog voordat die Aquila-groep dié reservaat in 2018 gekoop het.

“Hierdie baanbrekende tegniek is geïmplementeer om die risiko van stropery te verminder. Dit het egter nie die stropers in die jongste voorval afgeskrik nie. Een van die gestroopte renosters het ’n realistiese veselglashoring gehad, wat geen waarde vir hierdie stropers het nie.”

Enige donasies kan hier aan die Saving Private Rhino-organisasie gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Swerwer ·

Mag die boosdoeners vinnig aangekeer word. Sterkte aan die eienaar van die Wild Reservaat, dit is nie maklik om sulke terugslae te oorkom nie.

Mariana ·

Dit is verskriklik dat onskuldige diere so vermink en gedood word. Die boosdoeners kom net elke keer daarmee weg. Mag hulle die keer hul rieme styfloop.

Elinette ·

Wanneer ek sulke berigte lees, wonder ek nie of dit maar beter is om renosterjag te wettig nie. Verstaan my nie verkeerd nie, ek weet beide Afrika (swart en wit) renoster spesies is uiters bedreig, maar ek dink net as renosterhoring (of keratien) dan vryelik beskikbaar sal wees vir die spul skeeloog, Gifappeltjies, sal die natuurlike populasie nie so bedreig word nie. Kyk, hulle het nie eens respek vir ‘n dier waarvan die horing verwyder is en vervang is met ‘n kunsmatige een nie!!! Alles moet doodgemaak en uitgewis word. Buitendien, waarom ‘n dier DOODSKIET om die horing te “oes”? Renosters se horings word al vir ‘n hele paar jaar verwyder JUIS omdat dit (hopelik) sal verhoed dat die diere uitgemoor word daarvoor … NEE MAN!!!!!!!!

Wat op dees Aarde ·

Ek het dit ook al gesê. Maak renosterhoring wettig, reguleer die prys teen 1c per ton, dit sal dan waarde verloor en die hele empire inmekaar laat tuimel.

Owlie ·

Dis tyd dat hierdie menslose moordenaars en almal betrokke in daardie veld aan n boom vas gemaak en gelos word sodat die natuur sy gang kan gaan

Toy ·

Hoe wreed is dit nie om ‘n dier net dood te maak vir een of ander bygeloof, dis vreeslik.

Di ·

Seker weer onwettige immigrante! Mos niks oor in die buurstate, nou kom almal hiernatoe om ons wild uit te roei en dit als vir GELD! Hoop van harte die skuim word gevang!

Rudolf ·

Wilddiewe, veral renosterstropers, behoort op sig doodgeskiet te word. Ons pragtige land word deur hierdie tipe siellose kriminele vernietig. Ek het geen simpatie met wildstropers nie. Hulle soort moet afgemaai en vernietig word.

Roedolf Johannes ·

Sal nooit ophou nie,die strawwe wat opgelê word is nie voldoende nie

SWAREB1962 ·

Miskien tyd dat Boere behoorlike navorsing doen oor mense hul in diens neem en wat se kwalifikasies, waar hul vandaan kom en as dit moet sommer “polygraphs” laat doen.
Baie vann die skurke vat die sekuriteit werk en is later self betrokke.
Hoeveel CIT’s was al die afgelope jaar en hoeveel van die Firmas se werkers was betrokke? Mens ry nie 1 dag of nag dieselfde tyd patrollie en wissel jou roete elke keer.
Baie hartseer oor die storie.

Maria ·

Tragies. Sal dit help as renosters gereeld onthoring word dat dit duidelik sigbaar is. Mens besef dit is n onooglike oplossing en dat die diere natuurlik moeilik is om te sedeer en behandel.

Gert ·

Ek dink dis in Kenja se resivate waar die wildbewaarders bo die wet is. As hulle ‘n stroper kry word hy doodgeskiet en geen haan kraai daarna. Dit moet hier by ons ook ingestel word want dit werk Kenja se stropery het aansienlik afgeneem.

Karina ·

Dit is nou iets wat my absoluut woedend maak, en hartseer ook. Sulke mooi diere wat so uitgeroei word.

My siening ·

Cyrel is trots daarop want anders sou hy al dit ernstig opgeneem het, maar wat sy plaas is veilig met belasting geld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.