Dragtige renosters by reservaat gestroop

Binky, Noelle en Mimi. (Foto: Sibuya Game Reserve/Facebook)

Die Sibuya-wildreservaat het dit as ʼn donker dag bestempel nadat twee van sy renosters die afgelope week gestroop is. Die bekroonde reservaat is naby Kenton-on-Sea in die Oos-Kaap geleë.

Die renosters Binke en Noelle is Dinsdagaand deur “genadelose stropers” afgemaai, lui ʼn verklaring van die reservaat.

“Ons is stom gelaat deur smart.”

Binky en Noelle, wat ook ʼn eenjarige kalf het, was twee van die reservaat se renosters wat wees gelaat is ná die laaste voorval van stropery sowat ses jaar gelede. Albei renosters was dragtig en nie een van die kalfies het die grusame aanval oorleef nie, sê die reservaat.

Binky is een van die renosters wat die afgelope week gestroop is. (Foto: Sibuya Game Reserve/Facebook)

“Die verlies aan hierdie twee manjifieke diere het ons hartgebroke en woedend gelaat. Binky en Noelle was meer as net renosters – hulle was deel van ons Sibuya-familie.”

Die reservaat is in Maart 2016 ook geruk toe twee renosters daar wreed doodgemaak is. Lede van die reservaat se teenstropingseenheid het destyds gaan ondersoek instel na die welstand van ʼn ander groep renosters, toe twee renosterkalfies nader gehardloop het. Een van die kalfies was bebloed en het gevaarligte laat flikker.

Noelle en haar kalf, Mimi. (Foto: Sibuya Game Reserve/Facebook)

Maroela Media het destyds berig twee renosterkarkasse is daarna sonder hul horings gevind. Die kalfies, onderskeidelik drie maande en 11 maande oud, is weggestuur om met die hand grootgemaak te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.