Drakoniese regulasies groot gevaar vir internetgebruikers

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Die Konsepwysigingswet op Rolprente en Publikasies is gehul in vaagheid en skep ruimte vir drakoniese toepassing van die wetgewing.

Dit is die mening van Daniël Eloff, assosiaat by die prokureursfirma Hurter Spies in Pretoria, na aanleiding van omstrede wetgewing oor internetsensuur wat by die parlement ter tafel gelê is.

Volgens die Rolprent- en Publikasieraad (RPR) is die wetgewing daarop gemik om gebruikers teen eksplisiete en seksuele inhoud te beskerm en haatspraak te verhinder.

“Die regulasies gee die regering egter die bevoegdheid om enige aanlyn plasing, onder meer, sosialemediaplasings, goed te keur of nie.”

Verskeie organisasies soos AfriForum, DearSA en die Vryemarkstigting argumenteer dat dit ongrondwetlik is weens die vaagheid van die regulasies en omdat daar ’n grondwetlike beskerming teen vaagheid bestaan wat sekerheid en duidelikheid vereis.

“Weens die vaagheid en leemtes in die amendement hou dit gevare in vir die reg op vryheid van uitdrukking en vryheid van assosiasie,” meen Eloff.

Hy sê ook dat enige persoon wat iets aanlyn publiseer, moontlik deur die regering beheer kan word omdat dit die regering magtig om te bepaal watter spraak aanvaarbaar is of nie. Hierdie wetgewing is besonders uniek en eiesoortig en volg glad nie internasionale tendense nie.

“Die voorgestelde wetgewing sentraliseer die mag in ʼn sentrale owerheid wat spraak in effek kan reguleer en beheer. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie nie streng wetgewing is nie. Die Rolprent- en Publikasie-wysigingswetsontwerp is verlede jaar deur die president onderteken. Hierdie is egter eerder regulasies wat vleis gee aan die wetgewing. Die doel van die regulasies is om uitvoering aan artikel 31 van die Wet te gee wat die minister verplig om regulasies uit te reik. Volgens die regering bied die regulasies definisies en duidelikheid.”

Janet Mackenzie, ’n vennoot en hoof van die afdeling tegnologie, media en telekommunikasie van Baker McKenzie in Johannesburg, sê die wetgewing het betekenisvolle implikasies vir aanlyn verspreiders vir die verkoop, verhuring en stroom van inhoud op verskeie digitale platforms in Suid-Afrika. Mackenzie stem saam dat die voorgestelde wetgewing in stryd met die land se grondwet en bepalings van vryheid van spraak kan wees.

“Daar word na die wetgewing as die Internet Sensorskap Konsepwet verwys omdat die RPR daardeur wil poog om sogenaamde skadelike inhoud te reguleer en so inbreuk gaan maak op die vryheid van uitdrukking.

“Ingevolge van die wysigings en die regulasies, sal alle aanlyn verspreiders by die RPR geregistreer moet wees vir klassifikasie en aansoek doen vir akkreditasie vir selfklassifikasie of vir goedkeuring om klassifikasieriglyne van buitelandse of internasionale klassifikasie-owerhede te gebruik. Dit is ’n betekenisvolle afwyking van die bestaande bepalings van die RPR wat bepaal dat die klassifikasie van rolprente en speletjies slegs van toepassing is op die verkoop, verhuur of aanbied van sodanige aanlyn inhoud.

“Wat veral kommerwekkend is van hierdie wetgewing, is regulasie 2.3.3 wat daarvoor voorsiening maak dat sou die RPR ’n registrasiesertifikaat uitreik, dit enige voorwaardes wat hy nodig mag ag, daarop van toepassing kan maak,” meen Mackenzie.

Die organisasie Right2Know (R2K) meen ook die bepalings is ongrondwetlik.

“Die regulasies belemmer die vrye vloei van inligting en oortree die reg tot vryheid van uitdrukking en die reg om inligting te versprei en te ontvang. Dit is ’n vorm van sensorskap. Die grondwethof het reeds hierdie vorm van voorpublikasie-sensorskap as onaanvaarbaar bevind in die geval van koerante en ander publikasies wat deur die Persraad beheer word. Volgens R2K het die grondwethof bepaal dat die vrye vloei van grondwetlik beskermde uitdrukking die norm is en dat vooraf klassifikasie die uitsondering moet wees.”

Dominic Cull, ’n spesialis in telekommunikasiewetgewing by Ellipsis, stem hiermee saam, maar meen egter dat die RPR uit praktiese oorwegings nie die wetgewing sal gebruik om sosiale media te reguleer nie.

“Elke burger het die reg om vrylik ʼn bedryf, beroep of professie te kies. Die beoefening van ʼn bedryf, beroep of professie kan deur die reg gereguleer word. Die grondwethof is die enigste liggaam na wie ek sal luister oor wat vryheid van spraak is en wat nie. Ek dink iemand moet hierdie voorgestelde wetgewing voor die grondwethof laat toets.”

Phumzile van Damme, die DA se skaduminister van kommunikasie en digitale tegnologie, het reeds ’n versoek aan minister Stella Ndabeni-Abrahams gerig dat die regulasies nie inbreuk sal maak op grondwetlik regte of die vryheid van spraak nie.

“Die regulasies sal grondwetlike regte beperk en ons vra dat die tydperk vir openbare kommentaar tot 17 September 2020 verleng word. Die voorgestelde regulasies sal die regering die mag gee om enige aanlyn inhoud te reguleer. Dit sal in die praktyk beteken dat enige individu wat iets op die internet wil publiseer, dit aan die RPR moet voorlê vir goedkeuring en klassifisering voordat dit op YouTube, TikTok, Facebook of Twitter gelaai mag word.

Argieffoto

“Daar is geen rede hoekom die regering hierdie mag hoef te kry nie omdat die aanlynplatforms selfregulering toepas,” het Van Damme gesê.

Mackenzie wys ook daarop dat die RPR ’n publikasie definieer as koerante, tydskrifte, boeke of enige ander gedrukte materiaal.

“Die wysigingswetsontwerp verbreed hierdie beskouing om enige inhoud wat deur die internet beskikbaar gestel word, in te sluit. Dit beteken dat enige gepubliseerde materiaal, onder meer advertensies wat aanlyn beskikbaar gestel word, deur die RPR geklassifiseer moet word.

“Die nuwe regulasies verander ook die definisie van ’n internetdiensverskaffer (IDV of ISP) en is uitgebrei om talle ander partye ook in te sluit. Die nuwe definisie van ’n IDV verwys na enigiemand wat inligtingstelseldienste verskaf, onder meer, boodskappe, e-posstelsels, die verwerking of berging van data of toegang tot die internet. Dit beteken dat enige maatskappy met ’n teenwoordigheid op die internet, onder meer, ’n maatskappy wat enige webwerf huisves (host), ook aan die nuwe regulasies sal met voldoen deur te registreer en ’n registrasiefooi te moet betaal.

“Die regulasies laat ook talle grondwetlike gevaarligte flikker, veral omdat die publikasie van die regulasies voortydig is omdat die Wysigingswet nog nie in werking is nie. ’n Hele aantal van die regulasies oorskry ook die magte van die betrokke minister en daar is ook sommige regulasies wat nie aan die vereistes van die wysigingswetsontwerp self voldoen nie.

“Na my mening glo ek nie die regulasies sal die grondwetlike toets deurstaan nie omdat dit wil voorskryf wat morel afstootlik of korrek is. Wens die wye implikasies van die regulasies, maak dit inbreuk op die reg tot vryheid van spraak wat in die Grondwet vervat is,” meen Mackenzie.

Sy is egter van mening dat privaat individue nie soseer hierdeur geraak word nie.

“Operateurs wat internetdiensverskaffers en/of inhoudsverskaffers is en wat tegnologie- en sosialemediaplatforms bedryf, gaan die swaarste getref word. Verpligtinge sal sowel geplaas word op kommersiële aanlyn verspreiders as ’n klassifikasie van algemene aanlyn verspreiders – dus diegene wat inhoud op die internet beskikbaar stel. Daar word ook voorsiening gemaak vir individuele strawwe, soos byvoorbeeld vir gebruikers wat kinderpornografie bedryf,” sê Mackenzie.

Lede van die publiek het tot 17 September om kommentaar te lewer en besware in te dien teen die voorgestelde wet. Kommentaar moet gerig word aan Mnr. Pandelis Gregoriou en kan as volg ingedien word:

Per hand:
Die Film-en-publikasieraad (FPB)
Eco Glade 2
Witch Hazellaan 420
Centurion
1609

Per pos:
Die Film-en-publikasieraad (FPB)
Privaatsak X31
Highveld Park
0169

Per e-pos:
[email protected]
Die onderwerpveld van die e-pos moet wees: “Draft Film and Publication Regulations”.

Telefoniese navrae kan gerig word aan 012 003 1400.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Persheks Adri ·

Dis nou ‘n pot bollie. Ons het ook regte en nou wil hulle ons soos kinders behandel op ons privaatheid ook nog!!! Dis erg genoeg dat die regering klaar die Covid goed op ons privaat fone gesit het SONDER ons toestemming! Ons is nie stupid nie hoor Cyril en kie

Termiet ·

Kommunistiese beleid deur en deur. Volgende gaan hulle jou tellefoon gesprekke sensor. Hulle is SO bang iemand se iets van hulle.

Cornelius ·

Dit is in voorbereiding van die een party kommunistiese stelsel wat op pad is.

Cheryl ·

As enige iemand nog daaraan getwyfel het dat die SA regering nie marxisties georienteerd is nie, is hierdie ‘n duidelike bewys wat hulle doelwitte is . Dit gaan oor sosiale konditionering, regeringsbeheer en die ontneming van vryheid om maar ‘n paar te noem. Word wakker mense.

JohanR ·

Probeer nou die land se oppisisie stemme stil maak voor die verkiesing! Dit is wat Kommuniste doen. Vergiftig self oppisisie leiers.

JohanR ·

MM en Danie Keet. Ek, en seker alle MM intekenaars sal graag wil weet wat dit sal beteken on verander, as die wet deurgaan en wet word. Sal ons nie meer mag se #VoertsakANC, en sal elke berig deur die ANC Politburo moet ontsmet word? Soe voor ons hoor dat ‘n boer vermoor is sal die berig al ‘n maand oud wees want die ANC Politburo het met die berig gesit! As ons dink daar was regte onder die NP weggeneem wag maar vir die ANC masjien!

Chris ·

Die regering wil alles beheer. Niks anders as komunisme nie.

Jr ·

Eerste ding die kommuniste doen. CONTROL THE MEDIA. Hier is dit. Sure sign the cANCer party is COMMUNIST.

Nici ·

Dis van kardinale belang dat die internet gesensor word. Geweld teen vroue en geweldige pornografie neem toe en kinders word hieraan blootgestel. Engeland reguleer ook nou hierdie tipe materiaal. Volgens Ted Bundy het elke seks oortreder in die tronk ‘n verslawing aan pornografie gehad. Dis ‘n sosiale probleem wat vinnig aangevat moet word is ek ondersteun dat die regering poog om iets te doen om hierdie geweld vas te vat.

Robbie ·

Wanneer gaan die kiesers van hierdie ellendelinge ontslae raak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.