Drakoniese wetgewing oor staatsgeboue op pad

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Drakoniese nuwe wetgewing rakende staatsinfrastruktuur dien tans voor die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie.

Die Wetsontwerp op Kritieke Infrastruktuur vervang die regulasies oor sleutelpunte, wat die afgelope paar jaar in die nuus was weens pogings om inligting en foto’s van oudpres. Jacob Zuma se eiendom op Nkandla van die publiek te weerhou, en die misbruik van die Waterkloof-lugmagbasis vir die ontvangs van huweliksgaste van die berugte Gupta-familie.

Maar as Suid-Afrikaners gedink het die omstredenheid sou lei tot regulasies wat meer aanduidend is van ʼn oop en demokratiese samelewing, het hulle hul skromelik misgis.

Dit is ʼn lang en spesifiek ingewikkeld bewoorde wetsontwerp van 34 bladsye wat – indien dit deur die parlement aanvaar word – die belastingbetaler baie geld gaan kos, inligting en bewegingsvryheid gaan inperk en ʼn hele nuwe liggaam gaan skep om poste aan regeringsondersteuners uit te deel.

Die departement van polisie maak dit trouens in sy memorandum tot die wetsontwerp duidelik dat hy ʼn “maksimum struikelblokke”-uitgangspunt voorstaan, en dat die wetsontwerp ʼn reaksie is op ʼn hofoorwinning wat die Right 2 Know-veldtog behaal het om inligting oor sleutelpunte te bekom kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.

Een van die kenmerke van die nuwe wetgewing is die groter rol wat aan die Staatsekerheidsagentskap – wat Suid-Afrika se spioene bestuur en die mees ontoeganklike en duistere staatsdepartement in die land is – toegewys word.

Die wetsontwerp voorsien die daarstel van ʼn Kritieke Infrastruktuurraad wat die minister van polisie van raad sal bedien. Dit sal bestaan uit ʼn verskeidenheid staatsamptenare, asook ʼn klein aantal private persone wat “verkieslik” – so verklaar die wetsontwerp sonder om dit verpligtend te maak, en dus ʼn skuiwergat so groot soos ʼn vulkaan vir opportunistiese partypolitici laat – oor sekere vaardighede moet beskik.

Die wetsontwerp se doelwit word amptelik soos volg uiteengesit: om die veiligheid van infrastruktuur te beskerm en die verskaffing van inligting oor infrastruktuur te verhoed.

Die te stigte raad sal, sonder openbare insette, plekke tot “kritieke infrastruktuur” kan verklaar en moet jaarliks aan die minister van polisie verslag lewer oor sy werksaamhede, maar moontlik slegs tweejaarliks (of anders jaarliks) aan die parlement.

Dit gaan dit bitterlik moeilik – eintlik onmoontlik – maak om die raad se werk behoorlik te monitor wat die deur baie wyd ooplaat vir vergrype, veral gegewe die omvattende magte waarmee die raad toebedeel word en die streng strawwe waaraan lede van die publiek onderworpe kan wees as hulle die raad se voorskrifte oortree.

ʼn Hele reeks regulasies, wat nog ʼn spul onkoste en werkgeleenthede sal veroorsaak, word ook deur die wetsontwerp in die vooruitsig gestel. Onder meer gaan ʼn redelike getal inspekteurs van kritieke infrastruktuur aangestel word.

Die prosedure waarvolgens lede van hierdie magtige raad plekke tot kritieke infrastruktuur kan verklaar, word uiteengesit – met geen rol vir die algemene publiek nie. Onthou ook dat die meerderheid lede van die raad staatsamptenare is. Dis ʼn eenrigtingstraat en ʼn geslote proses. Hoe dit strook met ʼn grondwetlike en ope demokrasie, weet nugter.

Die wetsontwerp lê enorme strawwe – met boetes van tot R10 miljoen – op vir oortredings van die wetgewing, en verklaar as oorgangsmaatreël alle huidige nasionale sleutelpunte vir die volgende vyf jaar tot kritieke infrastruktuur. Dit is ʼn maklike manier om aan die publiek weg te steek wat gebeur – en in watter mate hul grondwetlike regte beskerm of benadeel word – in ʼn verskeidenheid eiendomme waarvoor die einste publiek betaal het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Spike ·

Die mense het nie die vermoëe om enige plek te bestuur nie. Koebaai sa

Han ·

Is hulle besig om mal te word? Sake wat wel van kritieke belang vir die land is en wat dringende aandag verdien, word geïgnoreer. Waarom? Gebrek aan kundigheid en belangstelling om die sukkelende ekonomie weer op dreef te kry. Dit gaan net oor eie sakke vul! Ekskuus, het vergeet dat dit eintlik apartheid se skuld is …

Spike ·

Han, hulle weet nie wat beteken die begrip “ekonomie” nie. Dis hoekom hulle alles wil opdeel, uitdeel en inpalm.

Piet ·

Smaak my Oom Cyril wil vir hom ook ‘n paleis gaan bou op sy plaas.

Andre ·

Die staat het niks om geheim te hou nie behalwe moontlike korrupte bedrywighede.

marous ·

Dit was duidelik gese 25 jaar terug . As daar teenstand en kritiek gaan wees oor die optrede van die heersers van die land dan word daar eenvoudig wette gemaak. Nou ja hier is dit . Wettige toesmeer sonder enige gevolge.

Liberaal ·

Reg op privaatheid moet gerespekteer word in n liberale demokrasie, dit is belangriker as reg van gewone mense om te weet wat aangaan.

Andie ·

Ek is seker baie stupid. Na ‘n spoedlees poging deur die berig, kan ek nie kop of stert uitmaak van wat gesê word nie.

Mrs H ·

DIT sien ek as erkening van faal en skaamte omdat hulle uitgevang is, een keer/paar keer/ontelbaar kere te veel, en nie meer bedekking leuens kan uitdink/uitoeffen nie. Daar sal nooit die “hunkering” wees vir hierdie absurte “nodigheid” in wet verandering, as daar nie kriminele, oneerlikke, onetiese en selfbediening plaasgevind het, en nog gaan plaasvind, nie. As alles eerlik en demokraties met fokus op land, burgers en bediening is, waarom só n lustigheid om die wet te verander, wat reeds perfek demokraties en goed deurdink was met die skrywe daarvan? Persoonlik vat ek dit as n bellediging teenoor ons burgers se intiligensie en hard verdiende belasting gelde. Dan moet ons boonop “shurrup”!?

Anton ·

Wat eerder nodig is, is wetgewing wat die beskadiging van alle staatsinfrastruktuur (skole, paaie, geboue, spoorlyne, elektriese kabels, ens.) tot ekonomiese sabotasie te verklaar met drakoniese strawwe om as afskrikmiddel te dien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.