Drama by Nelspruit-winkelsentrum: Vrou sterf, man gewond

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Man is Donderdag by die Promenade-winkelsentrum in Nelspruit se middestad geskiet, waarna ʼn vrou, wat glo die voorval gesien het, ineengestort het en dood is.

Sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het aan Maroela Media gesê die omstandighede oor die voorval is nog skraps en vorm deel van die polisie se ondersoek.

“Die polisie kan bevestig daar het omstreeks 14:45  ʼn skietvoorval by die winkelsentrum plaasgevind, waartydens ʼn man geskiet en gewond is,” het Sedibe gesê. “ʼn Polisievrou het die voorval gesien en die vermeende skieter agternagesit en hom in hegtenis geneem. Die motief vir die voorval word ondersoek. Meer inligting sal bekend gemaak word, sodra dit beskikbaar is.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die gewonde man, in sy 50’s, het kritieke beserings opgedoen. “Die man is op die sypaadjie aangetref waar hy omring was deur ʼn aantal omstanders en lede van die plaaslike owerhede,” het Meiring gesê. “Paramedici het die man ondersoek en vasgestel hy het twee koeëlwonde aan sy bors opgedoen.”

Die man is op die toneel behandel en met ʼn ambulans na die Rob Ferreira-hospitaal geneem.

Volgens Meiring was paramedici steeds op die toneel toe hulle ingelig is ʼn vrou, wat glo die skietery gesien het, het in ʼn nabygeleë winkel ineengestort.

“Paramedici het onverpoos gepoog om haar by te bring, maar dit was tevergeefs en sy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê. Die oorsaak van die vrou se dood is onbekend en sal deur ʼn nadoodse ondersoek bepaal word.

Buiten die nadoodse ondersoek, ondersoek die polisie ʼn saak van poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrea ·

Mense, hoe leef ons in hierdie land? Ek dink so baie aan my sorgvrye, veilige kinder- en jongmensjare. My kinders weet nie wat dit beteken om veilig te voel in jou land, dorp of huis nie. Tragies!

SE NET ·

Ek stem Andrea, ek het nou die dag my kinders vertel hoe ons saans nog tot 12uur self later buite gespeel het, kinders ken dit nie vandag nie.

Louise ·

Ek stem!
Waar is daardoe tye heen, ons het gespeel tot die straat ligte aankom dan weet jy dis tyd om huis toe te gaan. Ek kan nie eers toelaat dat my kind winkel toe ry met sy fiets nie. Al is dit 2 blokke ver. Krieket in die strate, tok tokke en al daai lekker dinge. Ai waar gaan alles heen.

danie ·

Ons bly in n redelike groot singel in pretoria, en elke middag as ek huis toe ry dan moet ek kyk vir die kinders in die straat wat fiets ry en oor en weer by mekaar speel. En dit is lekker om dit te sien want die kinders is so op gesluit in hule huise . En dit is jammer dat almal nie die vooreg het om so buite in die straat te speel nie. As jy nog nie krieket in die straat gespeel het nie dan het jy nog nie krieket gespeel nie. En die oom op die hoek wat metbalmal raas, ai hoe dink ek nounterug

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.