Drama by vergadering oor minimumloon

Argieffoto: www.rabobank.com

Die parlementêre portefeuljekomitee oor arbeid het Woensdag gesê hy is teleurgesteld in die gedrag van South African Federation of Trade Union (Saftu)-aktiviste wat probeer het om ʼn komiteevergadering, waar die wetsontwerp oor die nasionale minimumloon bespreek moes word, te ontwrig.

Ongeveer 15 Saftu-leiers is Woensdag met geweld uit die vergadering verwyder nadat hulle begin betoog het. Die komitee is op die been gebring om die voorgestelde wysigings aan arbeidswette, asook wetgewing oor die nasionale minimumloon te bekragtig.

Saftu sukkel al ʼn geruime tyd om ampsdraers te oortuig om Saftu toe te laat om voorleggings aan die komitee te maak en Woensdag het Wes-Kaapse leiers geweier om die vergadering te verlaat totdat ʼn brief van hul eise aan die portefeuljekomitee voorgelê is vir oorweging en ʼn besluit daaroor.

Andre Adams, Saftu se provinsiale sekretaris in die Wes-Kaap, voer aan hul betoging was vreedsaam, maar hulle is steeds deur ʼn kragdadige veiligheidspan verwyder wat geen ag geslaan het op hul reg tot vreedsame protes nie. Adams beweer een van die vroulike Saftu-lede is deur veiligheidspersoneel “aangerand”.

Sharome van Schalkwyk, voorsitter van die komitee, het gesê die voorval was betreurenswaardig en nie aanduidend van hoe Suid-Afrikaners opinieverskille moet oplos nie. “Die komitee sal nie ontspoor en afgelei word in ons poging om die omstandighede waarin baie van ons arm werkende Suid-Afrikaners hulle bevind te verbeter nie. Die prosesse rondom die nasionale minimumloon is steeds aan die gang en hierdie drastiese en chaotiese optrede is nie geregverdig nie,” het Van Schalkwyk gesê.

“Die parlement is ʼn plek vir oortuiging en gesprekke en daarom het die komitee die benadering gevolg om na al die belanghebbendes te luister – selfs ná die sperdatum van sy prosesse rondom verbale voorleggings.”

Van Schalkwyk het gesê die komitee aanvaar aktiviste se reg tot protes, maar daardie reg kan nie inbreuk maak op die werk van die parlement en die regte van ander mense nie. “Daar sal nog ʼn geleentheid wees vir gesprekke oor die wetsontwerp gedurende die prosesse van die Nasionale Raad van Provinsies en daarom moet lede toegelaat word om hul werk sonder hindernis te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elriena ·

“teleurgesteld IN”? Dis tog immers ” teleurgesteld OOR”, of hoe? Dit was nog altyd vir my lekkerder om Maroela sê nuusbrokkies in pragtige, goedversorgde Afrikaans as #Netnuus s’n te lees. Lg. Gaan gebuk onder slordige, onakkurate Afrikaans.

KLAKOUS ·

Neewat IN klink vir my reg .. en ja ek is ook erg oor spelling en taalgebruik . different strokes …

B-man ·

Uiteindelik is daar iemand in ‘n magsposisie wat sien dat die regte van sommiges nie die regte van ander mag ontneem nie. Wens nou net hulle kan dit in alle fasette van die die samelewing toepas.

Oom Kalahari ·

Oral is daar ontwrigtinge, betogings, toy-toy en geweld. Dit kan mos net nie so aangaan nie. Dit skep ‘n swak indruk van hoe voorleggings en verskille benader word. As gesprekvoering nie in sekete groepe se guns is nie dan ontaard dit in geweld. Hierdie sirkus sisteem en klomp narre is besig om ‘n ondergang te bewillig op alle vlakke.

fritz ·

dit is tyd dat daar derde wereld wette gemaak word aangesien 95% van die bevolking derde wereld is en 1ste wereld wette werk nie in afrika

Spike ·

1) Die betogers het die dwase mentaliteit van, wag vandag vir die trein wat hulle gister afgebrand het. 2)Hierdie kommitee moet nugter dink, as hulle populistiese aanbeveelings gaan maak sal werkloosheid (misdaad) verdubbel. Hulle dink daar is oral baie geld, maar kyk hoe maak veral eenman besighede toe. Ou min. Manual sê nou dat Zuma ñ ramp was vir SA. Dis nou telaat minister, julle luister nie na rasionele raad nie, want julle wil julle posisies met populistiese uitsprake verseker en die korrupsie kultuur is nou gevestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.