Drama in DA tussen Steenhuisen, Van Damme

Phumzile van Damme. (Foto: Facebook)

Die DA is die naweek in sy volgende drama gedompel toe partyleier John Steenhuisen een van sy prominentste en mees uitgesproke parlementslede, Phumzile van Damme, weens gesondheidsredes op sabbatsverlof geplaas het – sonder om haar te raadpleeg.

Steenhuisen het haar per brief ingelig dat hy genoegsaam bekommerd is oor haar gesondheid dat hy besluit het om haar tot 31 Maart op drie maande verlof te plaas sodat sy kan aansterk.

Gedurende die sabbatsverlof sal sy kwytgeskeld word van alle DA-pligte hoewel sy steeds ʼn LP sal wees en nie haar inkomste sal verloor nie. Sy sal vir die duur van die sabbatsverlof nie meer die DA se skaduminister van en woordvoerder oor kommunikasie wees nie. Daardie rol sal deur die DA-LP Zakhele Mbele vervul word.

Van Damme word wyd erken as ʼn hoogs bekwame kenner van die ingewikkelde kommunikasieportefeulje. Dit is deesdae veral in die soeklig is weens die uitdagings by die SAUK.

Sy is ook ʼn uitgesproke politieke rissiepit wat by baie kiesers omstrede is omdat sy haar nie onbetuig laat nie, aan die linkervleuel van die DA is en op ʼn keer ʼn lid van die publiek by die Waterfront in Kaapstad bygedam het.

Hierdie keer was dan ook geen uitsondering nie. Van Damme is woedend dat Steenhuisen die besluit eensydig geneem en haar per brief daaroor ingelig het. Sy het in ʼn tirade op Twitter laat blyk dat sy kwaad is dat besluite oor haar gesondheid geneem word sonder om haar of haar geneesheer daarin te ken.

Wat onomstootlik waar is, is dat Van Damme ly aan ernstige funksionele neurologiese stoornisse  en al die afgelope paar maande ʼn ligter werklas as gewoonlik het; sy is byvoorbeeld vrygeskeld van kiesafdelingswerk.

Steenhuisen het ook Vrydag sy skadukabinet geskommel, wat in praktyk bloot beteken dat die DA in sommige portefeuljes nuwe woordvoerders het.

Benewens Van Damme is al die prominente DA-woordvoerders nog in hul posisies. Diegene wat geskuif is, het nie ʼn hoë profiel gehandhaaf nie.

ʼn Bekende in Pretoriase politieke kringe, Cilliers Brink, is wel bevorder. Hy is nou die DA se hoofwoordvoerder oor samewerkende regering, wat alle stadsraadskwessies insluit.

Brink is die DA se LP vir Centurion en het bekendheid verwerf toe hy van 2016 tot 2019 tydens die DA-burgemeesterskap van Solly Msimanga ʼn leidende lid van die stad Tshwane was.

ʼn Senior aanstelling wat beslis die wenkbroue kan laat lig is dié van Dave Bryant tot skaduminister en hoofwoordvoerder oor omgewingsake. Bryant is letterlik nog net ʼn paar dae lank in die parlement en hou geen senior posisie in die party nie, maar is bo die koppe van ervare en kundige senior kollegas in die skadukabinet aangestel.

Hy was tot ʼn paar dae gelede ‘n wykraadslid in Kaapstad en het nie ʼn noemenswaardig hoë profiel in die stadsraad gehad nie. Die vakature wat in Kaapstad se wyk 115 (Walmer Estate, Soutrivier, Woodstock, Distrik Ses, die middestad, die Waterfront, Groenpunt, Mouillepunt en De Waterkant)  weens sy opname in die parlement ontstaan het, sal Woensdag in ‘n tussenverkiesing gevul word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Die DA kan maar aanploeter.Wie stel enigsins nog belang in hulle doen en late ? Hulle ondersteuners is so min en verteenwoordig nog net die liberales wat nog nie die lig gesien het nie .

Johann

En so is die DA sy eie grootste vyand.

JohanR

Vermoed al lankal dat van Damme nie al haar varkies in ‘n ry het nie!

Sarel

Steenhyisen..jy behoort van beter te weet. Nie regte manier om opposissie stil te maak nie

Die Wolf

Sy wil die baas wees.