Drama, waarskuwing in Oscar-verhoor

Regter Thokozile Masipa

Regter Thokozile Masipa

Die 25ste dag van Oscar Pistorius se moordverhoor het afgeskop met ‘n bietjie drama en ‘n ernstige waarskuwing deur regter Thokozile Masipa.

“Iets baie steurend het onder my aandag gekom,” het Masipa gesê, in ʼn waarskuwing gerig aan mense wat in die oorloophofsaal die verrigtinge volg. Die verrigtinge word in die oorloopsaal regstreeks op grootskerm gebeeldsend.

Volgens Masipa is sy ingelig dat mense in dié hofsaal tydens verrigtinge “juig, mense toejuig, en net doen wat hulle wil”.

“Hierdie is nie ʼn plek van vermaak nie, nog minder ʼn piekniekplek. Eet- en drinkgoed word nie in die hof toegelaat nie,” het sy gesê. Sy het veiligheidsbeamptes gemaan om hul werk te doen.

Kort voor haar waarskuwing is ʼn jongman uit die publieke galery van die hoofhofsaal verwyder nadat hy met sy selfoon ‘n foto geneem het voor die hofverrigtinge begin het. Die neem van foto’s is slegs toelaatbaar tydens die hofverrigtinge en ook slegs deur die amptelike fotograwe van twee mediahuise aan wie die nodige akkreditasie toegestaan is.  Die jongman, wat skaam gelyk het, is deur veiligheidsbeamptes uit die saal begelei.

Toe hofverrigtinge uiteindelik kon begin, het staatsaanklaer Gerrie Nel met sy kruisverhoor voortgegaan om die geloofwaardigheid van Roger Dixon, ʼn forensiese geoloog en kenner van Pistorius se verdediging, vir die derde dag te hervat. Dixon het erken dat daar verskeie tekortkominge in sy getuienis was.

Intussen doen ʼn boodskap op sosiale media die rondte dat Dixon, wat beweer hy besit nie ʼn televisie of radio nie, glo op sy Facebook-profiel gesê het: “Derde dag in die hof vandag. Kom ons sien hoeveel van my kredietwaardigheid, integriteit en professionele reputasie word geruïneer. Dit is moeilik om hulle te laat glo omdat hulle nie luister nie, want dit is nie wat hulle wil hoor nie. Ná dit, ‘n bier!”

Hy het in die hof aangevoer dat hy nie weet wat die staat se saak teen Pistorius is nie, want buiten dat hy nie ʼn radio of televisie besit nie, lees hy ook nie koerante nie.

Kenners meen egter dat Dixon se getuienis Pistorius se saak dalk meer skade as goed gedoen het.

Die verhoor is vandag tot  5 Mei uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gys du Toit ·

10/10 vir Regter Masipa met haar versoek dat die hofbeamptes hulle werk moed doen en dat sy publiek so profesioneel aangespreek het. Gys du Toit

Peter Says ·

Dixon sit die “cherry” op die koek. Hy gaan beslis vir oscar laat sink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.