Die saak is tot 3 Junie uitgestel wanneer die finale akte van beskuldiging ingedien sal word en die saak na die hooggeregshof verwys sal word. Dramat, genl.maj. Shadrack Sibiya, gewese Gautengse Valkehoof, en kapt. Lesley Maluleke se borgtog van R5 000 elk is verleng.
Die drie het in die hof verskyn in verband met hul beweerde betrokkenheid by die uitlewering van vier Zimbabwiërs in 2010. Die mans staan tereg op sewe aanklagte insluitend vier van ontvoering, twee van regsverydeling en op aanklag van die oortreding van die Immigrasiewet.
Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het voorheen uitgevaar teen bewerings dat die saak teen die drie politiek gemotiveerd is of dat daar ʼn verband is met die saak van Robert McBride, geskorste hoof van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).
Daar word beweer dat die drie verdagtes in November 2010 en Januarie 2011 betrokke was by die inhegtenisneming van sewe Zimbabwiese immigrante en later vier van die Zimbabwiërs onwettig aan die Zimbabwiese polisie oorhandig het.
Die vier Zimbabwiërs was glo verdagtes in die moord op ʼn polisiesuperintendent in ʼn restaurant in Bulawayo.
Hoekom kry ek daardie goor reuk van allerhande ander onderkruiperye agterlangs…
Dis niks anders as ‘n heksejag nie. Vergelding omdat daar nie na zuma se pypies gedans is nie
So dis reg dat onwettige immigrante maar net bly en bly in SA en dis verkeerd om hulle na hulle lande van herkoms te deporteer…