Dramatiese redding van luiperd eindig tragies  

(Foto: NSRI)

ʼn Jong luiperdwyfie moes weens haar beserings uitgesit word nadat sy op dramatiese wyse gered is nadat sy by Stormsriviermond van ʼn krans af geval het.

Volgens Lodewyk van Rensburg, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Stormsrivier- en Oesterbaai-stasie, het kajakvaarders van Untouched Adventures alarm gemaak.

Die NSRI en SANParke het ʼn reddingsoperasie van stapel gestuur. “Daar word vermoed dat die luiperd, ʼn wyfie wat na raming ongeveer drie jaar oud was, moontlik teen die krans af geval het en op ʼn rotslys naby die water se rand gestrand was.”

Die NSRI het seevaartuie ontplooi en is saam met verteenwoordigers van SANParke en veeartse na die toneel. ʼn Kajak en ʼn draagbaar is saamgeneem aangesien daar verwag is dat die luiperd in aanvalsmodus kan gaan nadat sy verdoof is en dan moontlik in die water kan beland.

“By hul aankoms was ʼn deel van die luiperd se lyf reeds onder water met die gety wat ingekom het. Onder leiding van SANParke-veldwagters en hul veearts is die luiperd verdoof en sy het dadelik na die bote geswem. Die kajak was langs die reddingstuig geplaas en dit het gelyk of die luiperd die kajak aanval toe ʼn tou om haar nek geslaan kon word om te keer dat sy verdrink.”

Die tou is gebruik om die luiperd tot bo op die kajak te trek voor die kajak op een van die vaartuie geplaas is. Die luiperd is na Stormsriviermond gebring en in die draagbaar vasgemaak voordat sy in ʼn voertuig gelaai en na SANParke in Gqeberha geneem is.

Ondanks uitgebreide pogings om die luiperd te red moes sy van kant gemaak word weens haar veelvuldige beserings, insluitend ʼn gebreekte femur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.