Dramatiese rooftog in Pta-sakesentrum

Die misdaadtoneel in Pretoria. Foto: Twitter

Die misdaadtoneel in Pretoria. Foto: Twitter

ʼn Dramatiese toneel het Vrydagmiddag in die Pretoria sakesentrum afgespeel toe drie gewapende rowers die Protea Towers binnegegaan en verskeie mense beroof het.

Kapt. Tsekiso Mofokeng, woordvoerder van die polisie, het gesê die rowers het omstreeks 14:20 die gebou bestorm. ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat verskeie mense in die gebou beroof is, terwyl ander uitgehardloop het om hulp te ontbied. “Van die mense het in die Capitec-bank oorkant die straat in gehardloop en die polisie is ontbied,” het hy gesê.

Die misdaadtoneel in Pretoria. Foto: Twitter/SAPD

Die misdaadtoneel in Pretoria. Foto: Twitter/SAPD

Talle polisiebeamptes was binne minute op die toneel en die kantoorgebou is met behulp van die honde-eenheid deursoek. Niemand is in hegtenis geneem nie, maar ʼn 28-jarige man wat vermoedelik een van die rowers is, is na die polisiestasie geneem vir ondervraging.

Mofokeng het gesê gerugte wat wyd op sosiale media versprei is dat ʼn bank beroof en mense gyselaar gehou is, is onwaar. “In die stadium is die inligting nog skraps en daarom doen die polisie ʼn beroep op die mense wat ten tyde van die rooftog in die gebou was, om na vore te kom om die polisie met ons ondersoek by te staan,” het hy gesê.

Volgens Mofokeng is hulle nie sover bewus van enige beserings wat aangemeld is nie. ʼn Saak van sakeroof is aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.