Dramatiese toename in KZN-renosterstropery

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Argieffoto Foto: isotherm.co.za

Renosterstropery het skerp toegeneem in KwaZulu-Natal en minstens 159 renosters is reeds in 2016 doodgemaak.

Musa Mntambo, woordvoerder vir Ezemvelo KZN-natuurreservaat, het gesê daar was ʼn groot toename in die aantal renosters wat doodgemaak is. “Ons inhegtenisnemings het ook toegeneem,” het hy gesê. Altesaam 129 persone is in 2016 in hegtenis geneem in verband met renosterstropery.

Mntambo het gesê tussen Oktober en November was daar ʼn toename in renosterstropery oor die provinsie heen.

Altesaam 97 renosters is in 2015 in KwaZulu-Natal gestroop.

Die Mercury-koerant het in vroeg November 2016 berig minstens 132 renosters is in die provinsie gestroop, wat beteken dat minstens 27 renosters die afgelope twee maande doodgemaak is.

Die dramatiese toename in renosterstropery het Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, vroeër vanjaar genoop om aan te kondig dat ʼn teen-renosterstropery-taakspan op die been gebring sal word.

In 2014 is 99 renosters in die provinsie gestroop teenoor 85 in 2013, 66 in 2012, 34 in 2011 en 38 in 2010.

David Mabunda, uitvoerende hoof van Ezemvelo, het in Oktober vanjaar aan wetstoepassers gesê die moratorium op nuwe aanstellings het ʼn negatiewe impak op teenstroperaktiwiteite. Daar was in daardie stadium 179 vakante poste in Ezemvelo. Mntambo het egter Dinsdag gesê die poste is vroeër in Desember geadverteer en die organisasie hoop om van die vakante poste te vul.

Renosterstropery het die afgelope dekade dramatiese vlakke bereik met slegs 13 renosters wat in 2007 gestroop is. Volgens die nie-regeringsorganisasie Save the Rhino het die getal 1 215 in 2014 bereik en tot 1 175 in 2015 gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nita ·

Ai n mens wil net wanhopig raak as n mens die wetteloosheid en barbaarsheid in ons land sien en ervaar. As dit alles die gevolg is van mense wat honger is, wanneer sal die “armes” besef dat hulle MISKIEN!!!!!! een kind ordentlik kan grootmaak. Dis elke ouerpaar se plig om te beplan vir sy kind se toekoms. So nie maak jy kinders vir die verderf groot. Hierdie rowers, moordenaars en stropers is kinders van ouers wat nie n duiwel omgegee het wat van hulle kinders gaan word nie.

Jef ·

Dit maak my baie seer wat ek hier lees, maar wat gebeur met die stropers wat gevang is kry hulle maar net n waarskuwing om daarna maar net weer verder te gaan waar hulle opgehou het. want daar bestaan mos nie n straf in SA vir stropers nie.

Johann ·

Iemand al.iets van die minister gehoor wat so.lekker in die SPA rondhang van die selferkende smokkellaar????? O ja…skuus…land VOL KOMMENTARE EN NUUS EN VINGERWYS EN VERSLAE….EN NIKS DOEN NIE!!!!!

John ·

Dink bietjie wie nog betrokke kan wees. Dis groot geld. Daar is ‘n hawe en lughawens en baie rykes in Natal. Dubai is ook nie ver as jy kan vlieg nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.