Drankbedryf eis redes vir verwagte verbod

(Argieffoto: Maroela Media)

Pres. Cyril Ramaphosa het steeds geen aankondiging gedoen oor verwagte verskerpte inperkingsmaatreëls tydens die Paasnaweek nie, en die Suid-Afrikaanse drankbedryf het nou amptelik gevra vir redes vir enige beoogde verbod op alkoholverkope.

Die bedryf sê hy neem met groot kommer kennis van berigte dat die regering opnuut ʼn verbod op alkoholverkope wil instel terwyl hy terselfdertyd byeenkomste wil beperk.

Die bedryf eis amptelik redes vir enige sodanige besluit, insluitend toegang tot enige wetenskaplike inligting of enige ander bronne wat die besluit van die ministeriële advieskomitee regverdig.

Sibani Mngadi, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Drankhandelsname (Salba), sê die enigste uitkoms wat die land van só ʼn besluit kan verwag, is dat die reeds sukkelende ekonomie selfs verder gaan inmekaarstort.

Mngadi het ʼn beroep op die komitee gedoen om hom van hierdie “duidelik onwetenskaplike besluite” te distansieer.

“Die bedryf se voorstel wat deur Nedlac aan die regering gedoen is, was om die grootte van byeenkomste te verminder om die infeksiekoers te verminder. Nedlac se tweede voorstel was om die meeste sakesektore oop te hou om ekonomiese herstel te steun.

“Indien die berigte waar is, gaan die regering lynreg teen die Nedlac-voorstelle in deur weer eens die alkoholbedryf en sy R173 miljard-bydrae tot die land se BBP te sluit,” sê Mngadi.

ʼn Opname van die ekonomiese uitwerking van die drie vorige verbodsbepalings verlede jaar, asook die vyf weke lange verbod tussen 29 Desember verlede jaar en 2 Februarie vanjaar, het die verwoestende uitwerking van die regering se verbod blootgelê.

Luidens die opname het die regering se verlies aan belasting R29,3 miljard beloop – dit is 2,3% van belastinginkomste – en regstreekse aksynsbelastingverliese was R8,7 miljard, gelykstaande aan 21,2% van aksynsbelasting.

Die land se BBP-verlies was sowat R51,9 miljard – 1% van die algehele BBP gemeet teen markpryse weens die drie verbodsbepalings.

“Werksverliese weens die ongeregverdigde verbodsbepalings is uitsonderlik skadelik vir die samelewing en die ekonomie. Meer as 200 000 werksgeleenthede, gelykstaande aan 1,22% van alle werksgeleenthede in die informele en formele bedryf, word bedreig,” sê Mngadi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ovelia

Hoe gaan hul die kerk by Moria stop

Elize

Moria sal voortgaan en die polisie sal onder die bome wees

Hester

Tyd dat die land teen hulle opstaan en weier om aan hulle verbod te voldoen om weer ‘n ekonomiese krisis te veroorsaak waar mense hulle werk verloor!

gehasie

Indien daar wel ‘n verbod aangekondig word kan dit slegs gesien word as ‘n drakoniese beheermaatreël wat geen sin maak nie behalwe om die ekonomie verder te verwoes.

JM

Dlamini Zuma wil ten alle koste haar wil afdwing, met vernietigende gevolge. Hoog tyd dat sy aftree!