Drankhandelaars pleit weer oor verbod

(Argieffoto: Michele Spatari/ AFP)

Drankhandelaars het weer by die regering gepleit om die tavernesektor en sy 250 000 werkgeleenthede te beskerm deur die verbod op die verkoop van alkohol op te hef en handelaars toe te laat om van 16 Januarie drank vir tuisgebruik te verkoop.

Die drankhandelaarsvereniging sê hy steun die regering se pogings om die tweede vlaag van die pandemie te stuit, maar sluiting staar nou die meeste taverne-eienaars in die gesig – en daarmee saam tot soveel as 250 000 werksverliese.

Die vereniging sê 165 00 mense is reeds weens die laaste twee verbodsbepalings op drankverkope hul werk kwyt en armoede staar nog 100 000 in die gesig. Die vereniging sê deur drankverkope met beperkte handelsure vir tuisgebruik te hervat kan druk verlig word terwyl lewens terselfdertyd gered kan word. Hy het ook ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om streng op te tree teen onwettige drankverkope.

Die vereniging sê uit die meer as 280 dae wat die land op een of ander vorm van afsonderingsvlak was, kon drank op meer as 100 dae daarvan nie verkoop word nie. Dít met geen regeringsteun van enige aard om die las te help verlig nie.

Drankhandelaars sê meer as ʼn miljoen werkgeleenthede oor die algehele alkoholwaardeketting is in die gedrang, terwyl tavernes werkgeleenthede in townships steun en verseker dat meer as 250 000 gesinne daagliks kos op die tafel kan sit.

Die vereniging vra die regering om van 16 Januarie drankverkope vir tuisgebruik met beperkte handelsure toe te laat en ʼn moratorium op lisensiehernuwings en ʼn verhoging in gelde vir minstens ʼn jaar in te stel.

Hy vra ook ʼn hulppakket van nie minder nie as R20 000 vir handelaars om verliese weens die verbod te help dek.

Lucky Ntimane, sameroeper van die vereniging, sê die huidige afsonderingsomgewing skep ʼn netwerk vir dranksmokkelaars om die vakuum te vul wat weens ʼn gebrek aan alkoholiese produkte ontstaan het.

“Drankhandelaars gaan voort om maatreëls te steun om die styging in koronavirus-infeksies tydens die tweede vlaag te verminder,” het Ntimane gesê.

“Ons verwelkom ook die samewerking van mense en wetstoepassers oor die feestyd om te verseker daar was oor die algemeen hoë voldoeningsvlakke aan Covid-19-regulasies wat gesien kan word deur min voorvalle en min trauma-opnames in hospitale wat met alkoholmisbruik verband hou.”

Die verenging het ook ʼn beroep op wetstoepassingsowerhede gedoen om geen genade teenoor onwettige drankverkope te betoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.