Drankregulasies moes ‘geleidelik’ verslap word

Saapa meen die regulasies moes geleidelik verslap word. (Foto: pixabay)

Die verslapping van regulasies rakende die verbod op alkoholverkope is uit talle oorde verwelkom, maar die Suider-Afrika-alliansie vir Alkoholbeleid (Saapa) sê hy is diep bekommerd oor die besluit.

“Hoewel ons saam met die res van die land feesvier oor die afname in Covid-19-infeksies en die aankoms van een miljoen dosisse entstof uit Indië, is ons bekommerd dat die regering té vinnig beweeg het met die verslapping van alkoholbeperkings,” sê Saapa.

Die alliansie sê hy steun die besluit om drankverkope vir tuisgebruik van Maandag tot Donderdag met beperkte handelsure toe te laat. Hy sê die toegewing, veral as dit kuierplekke toegelaat het om drank vir wegneemgebruik te verkoop, sou ekonomiese verligting vir die sukkelende bedryf gebied het, terwyl dit terselfdertyd die negatiewe uitwerking van alkoholbeskikbaarheid sou beperk.

“Die toename in traumagevalle sou beperk word en die gevaar dat alkoholgebruik bydra tot die verspreiding van die virus, sou tot die minimum beperk word.”

Saapa sê die huidige besluit verhoog egter die gevaar dat traumagevalle gaan toeneem, ʼn situasie wat weer onnodige druk op hospitale gaan plaas. Hy sê dit is ʼn feit dat die meeste alkoholverwante traumagevalle spruit uit mense wat bestuur nadat hulle gedrink het, of weens geweld wat tydens ʼn gekuier uitbreek. Die alliansie sê mense “vergeet” ook van Covid-19-protokolle wanneer hulle by kuierplekke drank gebruik.

“Saapa glo dit sou verstandiger wees om drank geleidelik beskikbaar te stel, deur te begin met beperkte beskikbaarheid van alkohol by drankwinkels. Dan, afhangend van die sukses – of nie – van pogings om die pandemie in bedwang te bring en die uitwerking van dié verkope daarop, kon verdere beperkings mettertyd opgehef word.”

Die organisasie sê nadat die eerste verbod op drankverkope opgehef is, was daar dadelik ʼn toename in alkoholverwante traumagevalle – hoewel slegs verkope by drankwinkels toegelaat is.

Ses weke later is ʼn hernieude verbod ingestel. Dit is later opgehef, maar toe ʼn derde keer ingestel – volgens die regering weereens weens die druk op hospitale.

“Gaan ons dit later vanjaar weer sien gebeur wanneer die verwagte derde vlaag toeslaan? Ons glo ʼn meer omsigtige benadering sal die behoefte aan toekomstige verbodsbepalings beperk en die drankbedryf toelaat om te herstel terwyl die kans dat skadelike alkoholgebruik die land se stryd teen die virus in die wiele ry, beperk word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Sarel ·

Sommige van die Regering se Regulasies is meer skadelik
Vir die Ekonomie asCovid self

Kirst ·

Soos ‘n swart mikrobrouer dit gestel het; “As jy ‘n probleem met muise het laat jy nie ‘n slang in jou huis los nie” (met verwysing na die ANC se maatreels om Covid te beveg wat mense van inkomste ontneem).

Roedolf Johannes ·

Lyk of Saapa eerder n voorstander is van onwettige handel in drank,en glad nie omgee vir Besighede wat toemaak en mense wat hulle werke verloor nie

Andre ·

Keer eerder die persone waarby drankmisbruik begin. En kyk sommer ook hoe waar die covid storie is.

Semaanet ·

Soos wat hospitale covid gevalle by d deur “screen”,screen die alkohol verwante pasient en stuur hom na a cubaanse tydelike kliniek of saal en laat hospitale so leeg bly vir covid ens.

Vonkprop ·

Ag Saapa, gaan slaapa asseblief. Ons ekonomie kan dit nie meer bekostig nie.

Oros Soros ·

Nog nooit van die organisasie gehoor nie. Word seker gefinansier deur die WGO en Skandinawiese lande.

Deon ·

Sal dit nie werk as die regering net hulle deel begin doen nie? Verhoog die hospitale se kapasiteit soos wat hulle voorgegee het hulle gaan doen dan kan die normale getalle van ander noodgevalle steeds behamdelnword en sodoende hoef ons niebplekke toe te maak wat kastige “super spreaders” en dies meer is nie….. En dan, hoe beperk jy verkope? Twee biere per persoon per dag soos wat een of ander sogenaamde ekspert dink is genoeg vir jou? Belaglik man!!!!

Cherokee ·

2 Biere per kroeg/drankwinkel? Dit kan dan weer die verkeersvloei belemmer.

Mariana ·

Wie is hulle en waar kom hulle nou skielik vandaan. Wie is in beheer????

Vrijburger ·

Nee Saapa – die drankverbod moes in die eerste plek nie ingestel gewees het nie.

Baardman ·

Hoe wil hulle dit reguleer. ‘n Bierkaart soos in die army??

msp ·

Saapa, of dit nou lockdown is of nie, daar is altyd drank beskikbaar. Al verskil is dat die regering geen inkomste kry nie terwyl die verbruiker net duurder daarvoor moet betaal. Met ander woorde, die regering skiet homself elkekeer in die voet!

Pieter J ·

Saapa is net so onbevoeg soos Gun Free SA. Hulle soek die oorsake van probleme op heeltemal die verkeerde plek.

Gerrie ·

Hoeveel traumagevalle en sterftes word jaarliks deur taxis veroorsaak? Ek vra maar net.

Simon ·

Weereens ‘n simptoom van die land se sogenaamde patetiese “leierskorps”: beperk en reguleer ten barstens alles eerder as moue oprol om die gemeenskappe te gaan opvoed en te bestuur. Dis pure gemaksug, ‘n willoosheid en luiheid om nie nou al, hoeveel jaar na “demokrasie” nog steeds nie ‘n effektiewe sosiale netwerk te hê wat die verband tussen armoede, drankmisbruik, geweld op gemeenskapsvlak bestuur nie.

AH ·

Nog nooit van Saapa gehoor nie! Miskien is dit die “hoedeman” en sy trawante onder ‘n skuilnaam! Daar is genoeg mense se lewens en inkomste verwoes as gevolg van die drankverbod. Dit is en was nog altyd belaglik en het myns insiens meer ontwrigting, hartseer en verlies aan inkomste veroorsaak as wat Covid kon doen. Vir baie is dit egter ongelukkig al te laat…………

Klip ·

Saapa, julle is net nog n regeringsprater.Dink julle regtig dat almal in die land dom is? Wie is julle, vertel sodat ons gewone mense, wat nie telepatiese vermoens het nie, ook kan weet