Drankverbod: Restaurante, biervereniging steun SAB-saak teen regering

(Foto: pixabay)

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) sowel as die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) het hul steun toegesê aan SAB wat die vierde verbodsbepaling op die verkoop van alkohol weer in die hof probeer beveg.

Pres. Cyril Ramaphosa het die verbod Sondagaand opnuut ingestel – volgens die regering in ʼn poging om die stygende getal Covid-19-infeksies tydens die derde virusvlaag in bedwang te bring.

SAB het Woensdag gesê hy het “geen ander alternatief” as om sy regte te verdedig en regstappe te doen om sy onderneming te beskerm nie.

Die maatskappy sê sy besluit om die hof te nader word gedoen om beleidsekerheid te kry en groter deursigtigheid in die toekomstige besluitnemingsproses oor die toekomstige volhoubaarheid van die onderneming en sy waardeketting te kry.

Die nuwe hofsaak is bykomend tot die eerste saak wat SAB vroeër vanjaar teen die regering gebring het. Die saak is steeds hangende.

SAB sê hy en sy bedryfsvennote het voorleggings aan die nasionale koronavirusbevelsraad gemaak, maar “die aanbevelings is ongelukkig nie oorweeg nie en nog ʼn algehele verbod is sonder konsultasie aangekondig”.

Basa sê ook hoewel hy verbind is daartoe om saam met die regering te werk om infeksies te verminder, kan dit nie ten koste van sakeondernemings en werkgeleenthede in die bedryf gedoen word nie.

Die vereniging sê as lid van Nedlac het hy verskeie voorleggings aan die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (NatJoints) gemaak oor ingrypings om die verspreiding van die virus te stuit en druk op die gesondheidstelsel te verminder. Sy lede het bygedra tot die finansiering van die stelsel en het selfs aangebied om die regering met sy inentingsveldtog te help.

“Ten spyte hiervan het die nasionale regering versuim om die wetenskaplike data waarop sy besluit om die bierbedryf vir die vierde keer oor die afgelope maande te sluit, beskikbaar te stel,” lui ʼn verklaring van Basa.

“Dit sluit in enige data oor ʼn informele verband tussen bierverkope en die verspreiding van Covid-19. In die afwesigheid van bewyse is ʼn algehele verbod op die drankbedryf irrasioneel.”

Basa hou vol dat die inwerkingstelling van ʼn massa-inentingsprogram, ʼn aandklokreël, ʼn verbod op groot byeenkomste, die dra van maskers en die handhawing van sosiale afstand die enigste manier is om lewens te red, maar ook werkgeleenthede.

“Ons kan nie net terugstaan en toekyk hoe meer ondernemings en belangrike werkgeleenthede verwoes word nie. Dus staan ons by SAB in sy besluit om die howe te nader om die regering te dwing om die drankbedryf te heropen.”

Basa oorweeg intussen sy eie regstappe.

Rasa het ook sy “heelhartige” steun aan SAB toegesê om die verbod in die hof te laat ophef.

“Die huidige bepalings verhoed mense om ʼn inkomste te verdien,” sê Wendy Alberts, uitvoerende hoof van die vereniging.

Sy sê daar is tydens die verskillende vlakke van afsondering gesien hoe die inperking die bedryf verwoes en veroorsaak dat ondernemings hul deure sluit en werkgeleenthede verlore gaan.

Rasa steun ʼn onmiddellike opheffing van die verbod om verligting aan die restaurantbedryf te bied en om te verseker dat dit dadelik heropen word.

“Restaurante dra by tot die BBP as belastingbetalers en waardige werkers en werkgewers. Ons mik om onmiddellike verligting te kry deur personeel toe te laat om terug te keer werk toe ingevolge hulle mense- en konstitusionele regte.”

Alberts sê die restaurantbedryf bied nagenoeg ʼn miljoen werkgeleenthede deur sy uitgebreide voedselketting.

“Dit is kommerwekkend dat die president ons teruggesit het in ʼn posisie van waar ons vroeër vanjaar gekom het.”

Rasa eis die onmiddellike omkeer van die vlak 4-afsonderingsregulasies en behoorlike verteenwoordiging op die ministeriële portefeuljekomitee vir toerisme en die gasvryheidsbedryf.

Die organisasie Vinpro, wat sowat 2 600 wyndruifprodusente, kelders en ander verwante ondernemings verteenwoordig, het hom vandeesweek ook tot die hof gewend vir ʼn dringende aansoek om die verbod op die verkoop van wyn in die Wes-Kaap te laat ophef.

Dié aansoek word na verwagting Vrydag aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die regering het telkemale gese dat die gesondheidsorgstelsel opgradeer gaan word tydens inperkings. Tot op hede het niks gebeur nie. Hulle wil lewens red maar talle meer gaan gestrem onder werkloosheid. Hongersnood gaan n groter impak op ekonomie en misdaad he.

Tiptol ·

Taxis, busse en hotels mag honderd persent kapasiteit hê, maar mense mag nie in restaurante sit nie. Dit maak soveel sin……… as jy dom is.

Adri ·

En mense mag nie kerk toe gaan nie – selfs al sit hulle 3 meter van mekaar af. Wat is die werklike motief?

casper ·

Banning cars because of a few drunk drivers !!
Banning civilian firearms because criminals have guns !!

Their logic is beyond Einsteinian mathematical interpretation capability !!!

Baardman ·

Regering sal die hofsaak uitrek tot ons weer op vlak 3 is.

Anoniem ·

Die verbod op alkohol verkope is belaglik. Die Regering moet regtig wakker skrik en iets daadwerkliks met hul broeders en susters doen wat nie die inperkings gehoorsaam nie, drank het absoluut niks daarmee te doen nie. Die tekort aan Mediese Fasiliteite word voor die Regering se deur gelê. Swak beplanning en diefstal is die probleem.

Francois Le Cochon ·

Dit gaan nie oor drank nie, maar oor die gevolge van drankmisbruik.

Jakes ·

Die verbod op die verkope van drank en ander onverklaarbare redes vir inperking gebeur wanneer n land regeer word deur mense wat onbevoeg is om hulself te regeer wat nog van n land se bevolking. En dit sluit die president en al sy comrades in.

DIABLO ·

Toenterjare toe die regering met hul beurtkrag nonsens begin het, het BMWSA die regering baie mooi laat verstaan dat indien hulle vervaardigings plant n verlies aan produksie het, die maatskappy alles sal toemaak en land uit vat. Beurtkrag bestaan nie by BMW en omgewings vir OEE nie. Miskien is dit tyd dat SAB dieselfde doen.

Anton ·

Die helder randjie om die donker wolk is dat ons die keer sandale en braaihoender mag koop.

JM ·

Ek verpes die woord “KoronavirusBEVELSRAAD”. Dit is outoritêr. Waarom nie: ADVIESRAAD nie?

Deon ·

Jy verpes die woord want jy verstaan dit, en dit is presies wat dit is, sit om n tafel, maak n klomp besluite en stuur bevele volgens daardie besluite uit

cynthia ·

Ai dat ou bacus (alkohol) nou die virus veroorsaak ne (lol). Hy kry ook altyd die skuld vir alles in die lewe.

Riaan ·

Die eerste 21 dae hard lockdown het glo gedien om die gesondheids dienste gereed te kry. R500 biljoen is geleen, wat soos mis voor die son verdwyn het (niemand is aanspreeklik vir die geld nie), behalwe natuurlik die belasting betaler. Dit is die een liegstorie na die ander, en met sigarette wat vrylik beskikbaar is, is dit ook opmerklik dat nie elke persoon op ‘n ventilator noodwendig ‘n roker is nie.

Die brawe Metro Polisie vind dit ook heel gerieflik om padblokades te hou, maar het nie die nodige moed om by die honderde sjebeens ‘n draai te gaan maak om te verneem hoekom sake by hulle voortgaan soos normaal nie.

Delilah ·

Die regering gaan tog nie luister nie Doen julle self ‘n guns en gaan kyk hoe kapperjol die mense in die plakker kampe Daar is en was nog steeds nie by hulle covid reels nie. Daar is geen drank verbod daar nie die sjebeens is oop en geen maskers word gedra nie, wat nog van saniteer die hande. Al waar die verbod geld is by ons….!!!!Nou se hulle dit is om die hospitale leeg te hou, KYK na die drank verbod en laat sekere reels toe met die drank verkope Ennnn.. Cele en sy manne…. bietjie regtige werk doen waarvoor hulle betaal word dan sal die hospitale nie vol wees nie En onskuldige mense doodgaan op die paaie oor onverskillige dronkies.

Michael ·

As dit waar is oor die plakkerskampe is daar seker derduisende wat sterf daar-nog geen verslae daaroor gesien nie. As ek verkeerd is help reg asb

Deon ·

Die redes vir die verbod van drank wys weereens uit dat ons n drank probleem in Suid Afrika het, dit is n refleksie van ons sosio omstandighede…. Ek wonder of daar enige skaamte saam met die sg drankberbod is? Of besef hulle ooit dat daar n uitdaging is?

Heinrich ·

Die hele alkoholverbod maak nie sin nie, hoekom soveel mense se inkomstes afsny. Straf die oortreders hulle in die hospitaal beland of die gevolg is dat iemand anders in die hospitaal beland as hulle onder die invloed is met ‘n stewige boete en laat hulle diens doen by die hospitale.

My siening ·

Sluit kopdoek saam met haar x op al haar besluite is persoonkik soos die OB sin!

Rosie ·

Spiteful people spite them self. Grawe ‘n gat vir iemand anders dan val jyself daarin. Beste is hou heeltemal op drink – want dan die een wat laaste lag lag die lekkerste.

Michael ·

Die mafia ANC maak wat hulle wil want die burgers laat hulle toe om dit te doen. CR kondig nou sommer die “wette” af-geen proses nie-wat hy afkondig word “wet” en dan baklei ons nog met mekaar wanneer iemand nou nie die “wette” nakom nie. Ons kry maar wat ons verdien. ‘n Land met stemreg verdien die regering wat hy het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.