‘Drankverbod stook onwettige handel’ – internasionale studie

Dit is die derde keer dat ‘n verbod op drankverkope in Suid-Afrika ingestel word as deel van die regering se pogings om die verspreiding van Covid-19 te stuit. (Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse drankbedryf het opnuut sy beswaar teenoor die regering se verbod op drankverkope te kenne gegee. Dít nadat internasionale navorsing bevind het dié verbod stook bloot onwettige handel.

Die bedryf sê die onbedoelde gevolge daarvan – veral die groot styging in onwettige drankproduksie en -verspreiding – weeg veel meer as die doeltreffendheid van die verbod.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Desember ʼn hernieude verbod op die verkoop van drank aangekondig as deel van aangepaste maatreëls om die verspreiding van Covid-19 te stuit. Dit is die derde keer dat só ʼn verbod ingestel word sedert die pandemie in Maart verlede jaar in Suid-Afrika uitgebreek het.

Die bedryf sê navorsing deur die Transnational Alliance to Combat Illicit Trade (Tracit) het die ekonomiese en maatskaplike uitwerking van streng beperkings op die produksie en verbruik van alkohol tydens die vroeë stadiums van die Covid-19-uitbreking ontleed. Daar is spesifiek gekyk na die gevolge van onwettige handel.

Die navorsing wys oorweldigend “krisisgedrewe Covid-19-verwante verbodsbepalings op alkohol … het die ontwikkeling van parallelle onwettige markte bevorder, hele bedrywe oor ʼn finansiële afgrond gestoot en broodnodige regeringsinkomste verminder”.

Die verslag, getiteld “Prohibition, illicit alcohol and lessons learned from lockdown”, het bevind regerings moet die nadelige uitwerking wat volg op ʼn drankverbod om openbare gesondheidsdoelwitte te bereik en inkomste te red, in ag neem.

Die verslag beveel aan dat ʼn verbod op alkohol vermy moet word as ʼn noodmaatreël om mense teen die verspreiding van die virus te beskerm. “Die voordele berus op aannames, terwyl die negatiewe gevolge baie is, asook teenproduktief vir interafhanklike gesondheid, werkskepping en ekonomiese doelwitte.”

Die navorsers beveel ook aan dat wettige produkte beskikbaar is terwyl daar voldoen word aan sosiale afstandhandhawing.

Sibani Mngadi, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba), sê die bedryf steun die regering se pogings om die verspreiding van die virus te stuit, maar dat maatreëls rasioneel ingestel moet word.

“Die regering het ʼn plig om die verwoestende maatskaplike en ekonomiese gevolge wat spruit uit die sluit van ʼn hele sektor van die ekonomie te erken,” sê Mngadi.

“Benewens die sogenaamde armoede-pandemie wat die verbod skep, is die toenemend onwettige handel in drank ʼn ernstige bedreiging vir die Suid-Afrikaanse ekonomie. Daar is ʼn enorme verlies aan belasting, waaronder BTW en aksynsbelasting, asook ʼn verlies aan werksgeleenthede wat wettige alkoholprodusente en -handelaars geskep het.”

Mngadi sê die bedryf het reeds verskeie voorstelle aan die regering gedoen.

Salba sê die alkoholbedryf het in 2019 altesaam 3,4% – oftewel R173 miljard – tot Suid-Afrika se nominale BBP bygedra. Die regering verloor op sy beurt sowat R6,4 miljard per jaar weens onwettige drankverkope.

“Rofweg 15% van die markaandeel bestaan uit onwettige handel of georganiseerde misdaad. Dit is ʼn beduidende markaandeel in die hande van sindikate wat net verder deur die Covid-19-afsonderingstydperk versterk word,” sê Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba.

Moore sê die probleem is boonop wydverspreid en alle belanghebbendes, onder wie die polisie, vervaardigers, handelaars en verbruikers, moet saamwerk om onwettige handel nek om te draai.

Hy sê dit kan egter net gedoen word as die verbod op alkoholverkope opgehef word.

Die drankbedryf pleit nou reeds geruime tyd vir ʼn meer gematigde reaksie wat toegang tot wettige produkte toelaat.

Die bedryf sê die alternatief is toenemende armoede vir duisende mense en ʼn verdere versterking van die onwettige drankbedryf in die ekonomie ná die pandemie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SwartBees ·

Ek kon dit ook sê sonder om n studie ten opsigte van dit te doen.

Bosveldbul73 ·

Ek is sterk oortuig dat, net soos met die tabak verbanning, is daar ook hier Grootkoppe in die regering wat voordeel put uit die onwettige drankverkope…

Atta ·

Ons regering is pleinweg te onnosel om raak te sien dat daar met R6,4 Miljard se verlore belasting heelwat entstof aangekoop kon word. Daar mag dalk selfs so ʼn ou ietsie oorbly vir die kaders se soustrog…

Johan ·

Hulle gee net nie n hel om nie. Geld kan mos nie opraak nie, dis volgens lapkom belasting geld wat eindloos is…maar eintlik gee hul maar net nie n vlenter om nie.

koos10 ·

Die rolspelers moet by die tabak ouens gaan leer. Moenie die regering dreig met hofstappe nie. Gaan voort daarmee. En moenie ophou voordat daar ‘n hof beslissing is nie. Ek sal met graagte R100.00 bydra daarvoor. Nie om drankmisbruik aan te help nie, maar om te baklei vir ons grondwetlike regte!

Sarel ·

Onwettige handel dra meer gewig as wettige handel
Lyk maar na die gevolge vsn die Tabakverbod en nou weer die Drankverbod.

Martie ·

Drank sal altyd beskikbaar wees, ons bly oorkant ‘n parkie en dit is verbasend om te sien hoe kom die jongmense daarheen om te kom suip! hulle vee duidelik hulle agterente aand die reels en regulasies af!

Johan ·

Hulle moes lankal hof toe…wel ons almal moes lankal teen die diktators in opstand gekom het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.