Drankwinkels in Wes-Kaap geplunder, beroof

Die voorval in Stellenbosch (Foto verskaf deur die SAPD in die Wes-Kaap)

Minstens 16 drankwinkels in die Wes-Kaap is sedert die aanvang van die Covid-19-afsonderingsperiode beroof of geplunder.

Polisieminister Bheki Cele het Saterdag die provinsie besoek saam met adjunkminister Cassel Mathale, nasionale polisiekommissaris lt.genl. Kehla Sitole en adjunk-polisiekommisaris lt.genl. Sandile Mfazi.

Hulle het die Wes-Kaapse polisiekommisaris lt.gnl. Yolisa Matakata en haar span geloof vir die vinnige inhegtenisneming van 21 verdagtes. Vier van die persone is glo verantwoordelik vir die eerste voorval toe ʼn Shoprite-drankwinkel in Langa, Kaapstad tydens die eerste naweek van die afsonderingsperiode geplunder is, het brig. Mathapelo Peters, waarnemende woordvoerder vir die ministerie van polisie, in ʼn verklaring gesê.

Drie mans is Sondagoggend in hegtenis geneem toe ʼn drankwinkel in Stellenbosch beroof is. Die polisie in Stellenbosch is omstreeks 07:50 in kennis gestel dat daar by die winkel ingebreek is. “Die verdagtes het glo ʼn venster gebreek, alkohol gesteel en in ʼn voertuig gevlug,” het brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, gesê.

“ʼn Plaaslike sekuriteitsmaatskappy was op patrollie in die gebied toe ʼn verbyganger hulle in kennis gestel het van die inbraak. Hulle het die inligting versprei en in die rigting gery waarheen die verdagtes glo weggejaag het,” het Potelwa verduidelik. “Verkeersbeamptes by ʼn padblokkade het die voertuig opgemerk en dit voorgekeer. Die gesteelde alkohol is in die voertuig gevind en die drie mans is in hegtenis geneem.”

Die verdagtes, onderskeidelik 29, 33 en 43 jaar oud, sal na verwagting Dinsdag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn op aanklag van inbraak en die besit van gesteelde eiendom.

Cele het gesê hy is besorg oor die beweerde betrokkenheid van polisiebeamptes in sommige van die drankwinkel-verwante misdade. Twee adjudant-offisiere van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings in Delft in Kaapstad is Donderdag in Strand in hegtenis geneem saam met ʼn drankwinkel-bestuurder en ʼn kassier. Die polisie het ʼn wenk ontvang en die verdagtes in die winkel betrap toe hulle alkohol gekoop het wat glo elders onwettig herverkoop sou word, het Peters bygevoeg.

Twee polisiebeamptes van Mpumalanga, gestasioneer by Pienaar, is intussen ook Vrydagaand in hegtenis geneem op aanklag van dwarsboming van die gereg toe die amptelike voertuig waarin hulle gery het, voorgekeer is. Daar is bevind dat hulle onwettig drie bakkies vergesel het wat elkeen vol gelaai was met alkohol. Die drie voertuie behoort glo aan ʼn kroegeienaar wat saam met twee ander bestuurders in hegtenis geneem is op aanklag van die oortreding van die afsonderingsreëls.

Sitole het opdrag gegee dat die departement dringend ondersoek moet instel oor die twee voorvalle waar, indien hulle skuldig bevind word, die beamptes uit die SAPD afgedank sal word.

Cele het ook ʼn dringende vergadering versoek met die bestuur van die SAPD om met drankwinkel-eienaars te gesels om die probleem te takel en ʼn “ samewerkende strategie te ontwerp om die risiko te verminder”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frans ·

Daar is ‘n beperking wat winkels ingestel het op die hoeveelheid goedere wat ‘n mens kan aankoop,bv 6 van ‘n sekere item.Dalk kon daar ‘n soortgelyke reêling by drankwinkels gewees het wanneer die bv op alternatiewe dae oopgestel word.

Dan kan die polisie en weermaglede toesien dat dinge ordelik verloop en niemand die voorgeskrewe kwota oorskry nie.

Burgermeester ·

Ek voel jammer vir die eienaar wat skade gelei het. ‘n Mens wil mos nie met sulke onnodige probleme ook nog sit nie. Heng, die lewe is al klaar moeilik.

Anel ·

Wat verstaan Cele nie? Al manier hoe hy hierdie gaan verminder is om die mense toe te laat om drank te koop. Beperk hsndelstye en die hoeveelheid wat op ‘n slag gekoop kan word. So ook met sigarette. Hy moet nie nou sy wil op mense probeer afdwing nie. Ons is nog veronderstel om ‘n demokrasie te wees maar hulle is besig om ons stadig maar seker in komunisme te dwing.

Petrus ·

Ja, Cele voel Vere vir Ekonomie met verbod op Alkahol en Tabak waar ons Miljarde verloor. Hy voel dit nie aan sy Sak want hy verdien genoeg!

Die Wolf ·

Ek dink nie dit is werklik C nie. Die vark in die verhaal is moontlik NZ. Hy doen blykbaar net wat vir hom gese word. Gaan beslis nie krap waar dit jeuk nie.

AmY ·

Sê ek ook mos.
Al was die drankwinkels oop sou hulle dit steeds geplunder het.

Amatambo ·

Glo my, Eerlik, daar IS mense wat desperaat is om drank in die hande te kry – dit is ongelukkig die waarheid…. en sulke mense besef nie watter skade hulle aan hulleself, hulle naastes berokken nie, nie net dit nie, maar ook ‘n gevaar teenoor die algemene sameleweing is…

Rodger17 ·

Jammer vir winkel eienaars,hulle moet vir Ramaphosa en Cele bedank.Hulle kan mos reëls maak soos hulle wil want hulle het genoeg drank bymekaar gemaak voor lockdown.Ek verafsku misdaad maar het simpatie met mense wat deur die lockdown daartoe forseer word.Die regering dump die ekonomie wat hulle reeds tot gemorsstatus in regeer het verder in n baie diep depressie.Enige president is beter as Zuma maar enige een sal nog beter wees as Ramaphosa!

Oujongvrou ·

Cele weet heel duidelik nie hoe die mafia in amerika ontstaan het nie. Drank en sigarette was die begin, want dis die 2 goed wat jy mense nie kan misgun nie. Drankwinkel eienaars moet nou maar dat die polisie hulle skade verhaal. Ek verstaan nie wat is die storie met drink en rook nie.

Harry ·

Wonder waar is die MRK? Behoort hulle nie ook aan die kant van winkeleienaars en werkers wat hulle werk kan kwyt wees agv hierdie vandalisme.

Soos enige oneffektiewe politieke beweging. Onsigbaar! Winkeleienaars en werkers het ook regte.

Boortor ·

En julle was gewaarsku! Maar nee ou hoed ministertjie is maar net omgekrap. Die antwoord is maklik: Hef die sinnelose verbod op en beperk die hoeveelheid wat aangekoop word.

Marieta ·

Probleem met die voorstel dat verkope van drank toegelaat moet word, maar in beperkte hoeveelhede, is die feit dat meeste alkoholiste nie hul perk ken nie. En meeste geweldenaars het in elk geval nie meer as een drankie nodig om tot uitbarsting te kom nie. Ten minste kan n nugter persoon nog bietjie selfbeheersing toepas. Nee wat. Ek glo dat diegene wat net sosiale of geleentheidsdrinkers is, sal saamstem dat dit nie die einde van die wêreld is as hulle eers weer na die afsonderingstydperk sosiaal met n drankie kan verkeer nie. Intussen is dit beter dat drank eerder buite diegene se bereik geplaas word, wat nie kan of weet hoe om dit verantwoordelik te gebruik nie. Ek glo die veiligheid van kinders en onskuldige volwassenes moet groter prioriteit geniet as die lus van die alkohol verslaafde. Dit was in die eerste plek die keuse van die alkoholis om met drank deurmekaar te raak. Dit is baie beslis nie die keuse van n mishandelde, hetsy baba, kind of volwassene om aangerand te word nie.

Kobus ·

Nuus minister Cele.Ek is seker u is bewus van die feit dat die meeste Shibeens aan SAPD lede behoort.Dit is skokkend om te sien met hoeveel minagting ander mense se eiendom geplunder word.Kom hulle in die hof? Tronkstraf gaan nie die eienaar se skade betaal nie.Nee, die eienaar gaan die skurke met sy belasting ‘n veilige hawe bied

Amatambo ·

Feit is – as iemand aan drank verslaaf is, sal hy/sy alles in hulle vermoë doen om dit in die hande te kry. Drankverslaafdes is eintlik siek mense – ek weet waarvan ek praat want ek het so ‘n familielid gehad – kan net dankie sê dat hierdie persoon nou heeltemal “skoon” is en het ‘n nuwe blaadjie omgeslaan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.