Drankwinkels tydens plundertogte geteiken

(Foto: Henk Kruger/ANA)

Die alkoholbedryf het in ʼn gesamentlike verklaring versoek dat die verbod op die verkope van alkohol opgehef moet word om ʼn totale ineenstorting van die bedryf te voorkom en ʼn verdere hupstoot aan die onwettige verkope van alkohol te verhoed.

Volgens die alkoholbedryf, insluitend die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), die Liquor Traders Association of South Africa (LTASA), die National Liquor Traders (NLT), die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba) en Vinpro, wat kleiner wynboere verteenwoordig, word drankwinkels al hoe meer geteiken tydens plundertogte en onluste wat tans in KwaZulu-Natal en Gauteng woed.

“Drankwinkels word beslis deur plunderaars geteiken,” het Sean Robinson, voorsitter van LTASA, gesê. “Talle van ons lede, wat reeds verlammende skade ly aan kontantvloei weens die verbod, het al die voorraad in hul winkels ter waarde van honderde miljoene rand verloor. Dit is uiters kommerwekkend. Die voortgesette verbod lei slegs tot ʼn verhoogde risiko vir dié kriminele gedrag en sal verdere verliese veroorsaak.”

Lucky Ntimane van NLT sê al wat hulle sien is die verwoestende impak op mense se lewens en die ekonomie weens die regering se besluit om die verbod te gebruik om gesondheidsdoelwitte te behaal. “In plaas daarvan dat die inentingsveldtog verskerp word met verhoogde wetstoepassing om onwettige handeldryf te voorkom, het die regering besluit om ʼn beleid te volg wat bloot onwettige handel ʼn hupstoot gee. Daardie onwettige mark dreig nou om ʼn permanente deel te word van die post-pandemie-ekonomie.”

Volgens Ntimane sal taverne-eienaars, wie se voorraad gesteel is, nie kan handel dryf wanneer die verbod opgehef word nie. “Die laaste 14 dag lange verbod is ʼn bedreiging vir meer as 4 600 poste. Meer as 233 500 poste kan nou verlore gaan weens die voortgesette verbod. Dié mense se lewensbestaan is verwoes.”

Die NLT stel voor dat die regering tavernes en sjebiens toelaat om alkohol op ʼn wegneem-basis (met verbruik weg van die perseel) te verkoop van Maandag tot Sondag. Die organisasie versoek ook dat drankwinkels toegelaat moet word om alkohol van Maandae tot Vrydae te kan verkoop.

“Dit is nie onredelike eise nie,” het Ntimane bygevoeg. “Ons moet werk – ter wille van die land, vir ons gemeenskap en vir ons ondernemings, ons families en afhanklikes. Om toestemming te kry om handel te dryf – op ʼn verantwoordelike wyse – sal ʼn verskil beteken tussen lewe en dood vir ons lede wat reeds deur armoede in die gesig gestaar word.”

Sibandi Mngadi, voorsitter van Salba, het gesê selfs nog voor die 14 dag lange verbod wat op 11 Julie aangekondig is, is drankwinkels geteiken deur georganiseerde misdaad. “Ons het berigte ontvang van voorraaddiefstal by pakhuise en handelspersele in Pretoria, Boksburg, Durban en Bloemfontein. Nou, met politieke onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng het dit ʼn vuurstorm geword.”

Volgens Mngadi word drankwinkels ongetwyfeld geteiken deur plunderaars weens die hoë aanvraag na alkohol weens die verbod op die verkope van alkohol. Hy het gesê die bedryf het die regering in Januarie in kennis gestel van die onbeplande gevolge van die verbod. Dit het tot onwettige handel gelei en die hele bedryf in ʼn finansiële verknorsing gedompel.

Die alkoholbedryf het die regering herhaaldelik versoek om wetenskaplike navorsing en hul redes te verskaf oor hoe ʼn algehele verbod ʼn doeltreffende maatreël is teen die verspreiding van Covid-19.

Patricia Pillay, uitvoerende hoof van Basa, het gesê ondernemings in die bierketting wat reeds op hul knieë gedwing is weens die verbod, word nou verder verlam deur gewelddadige plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng. “Die data waarop die regering werk om die verbod in te stel, is nog steeds nie aan die bedryf verskaf nie – selfs nie 16 maande ná die eerste verbod ingestel is nie. Ons sal ʼn dringende Paia-aansoek by die nasionale koronavirusbeheerraad indien om die data te bekom waarop die besluite gebaseer is om vier keer ʼn verbod in te stel. Ons kan eenvoudig nie eenkant staan en toekyk terwyl ondernemings en poste verwoes word deur die verbod en geweld in die land nie.”

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, het gesê die irrasionele siklus van die verbod op die verkope van alkohol moet ophou. “Die bedryf is op die randjie van ʼn afgrond, met talle kleiner rolspelers wat reeds oor die afgrond is. Die lewensbestaan van duisende werknemers word onherroeplik bedreig terwyl Suid-Afrika – die enigste land waar daar ʼn verbod geplaas is op die verkope van alkohol sonder finansiële bystand van die nasionale regering – ʼn groot agterstand het wat inentings betref. Die regering se versuim om gesondheidsfasiliteite behoorlik voor te berei vir moontlike gevaarlike bykomende golwe en voldoende en doeltreffende inentings te verseker, kan nie meer die alkoholbedryf gyselaar hou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Soos hul leiers sê: “Our people are hungry”.