Drastiese afname in reserviste ‘kommerwekkend’

Dianne Kohler-Barnard. Foto: Reint Dykema

Die getal reserviste wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in polisiekantore landwyd help, het in agt jaar met 82% afgeneem, blyk uit ʼn antwoord op ʼn vraag van die DA in die parlement.

Die DA-LP Dianne Kohler Barnard het Donderdag gesê die kwynende teenwoordigheid van reserviste is kommerwekkend in die lig daarvan dat daar net een polisiebeampte vir elke 375 mense in Suid-Afrika teen einde Maart vanjaar was.

“In 2010 was daar 63 592 reserviste wat ingespan is om polisiekantore te beman aangesien alle polisiebeamptes op straat was om die duisende besoekers aan die Fifa-Sokkerwêreldbekertoernooi te beveilig,” het Kohler Barnard gesê.

“ʼn Jaar later is ʼn moratorium op die aanvaarding van reserviste geplaas. Die beleid is verander, wat 70% van die bestaande ervare en toegewyde lede uitgesluit het – en nou, agt jaar later, het die getal tot 11 015 gedaal.”

Ondanks die bevolkingstoename in die afgelope vyf jaar is die getal polisiebeamptes in die land dus die laagste in die vyfjaartydperk. Daar is kwalik nog ʼn polisiekantoor te kry met meer as ʼn handjievol aktiewe reserviste wat lang ure werk tot die land se voordeel, sonder dat hulle die belastingbetaler ʼn sent kos.

Aangesien die polisie swoeg om die land se hoë misdaadvoorkoms te beheer, behoort reserviste verwelkom te word aangesien hulle ʼn lewensbelangrike bydrae lewer om die polisiediens te ondersteun.

“Plattelandse gemeenskappe word benadeel deur ʼn tekort aan polisiëring,” het Kohler Barnard gesê. “Daarom het die DA reeds meermale gevra dat Landelike Veiligheidseenhede ingestel word. Die skerp afname in die getal reserviste beteken dat Suid-Afrikaners en plaasgemeenskappe veral in vrees leef. Terselfdertyd word so baie van ons SAPD-lede verwag dat hulle nie anders kan nie as om tekort te skiet.”

Sy sê haar party het ʼn plan om landelike veiligheid te verbeter en die SAPD reg te ruk om te verseker die diens kan misdaad bestry en Suid-Afrikaanse burgers beskerm. “Weens die ongeërgdheid van die ANC-regering het misdaad dermate toegeneem dat nog 57 van ons elke liewe dag vermoor word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie Koch ·

Ek was voorheen n Polisie reservis met die rang van sersant maar mies bedanj agv werksdruk. Ek het al die kursesse voltooi. Huidiglik werk ek as n ondersoek beampte vir n busmaatskappy. Ek is ook n opgeleide dwelm en perlemoen hond hanteerder en wou weer my dienste by die Polisie aanbied. Wat was hul antwoord. Jy is te oud. Wat het ouderdom te doen met kundigheid en kennis? Wys jou hoe pateties die Polisie se denke en besluitneming is. Eks baie teleurgesteld.

Andre ·

Nadat al die “Chiefs” betaal is is daar nie geld om meer beamptes te betaal om die publiek behulpsaam te wees nie.

Michael ·

My dogter het aansoek gedoen om by die mag aantesliut en hul het gese hul soek noek nie mense nie. Nou werk sy by n sekerheid firma

Nouja ·

Wie op dees aarde wil nog vrywillige werk vir die staat doen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.