Drawwer deur familie uitgeken

Inligting oor die voorval en foto’s van die man se besittings is sedert Woensdag op sosialemediaplatorms versprei om die man se familie te probeer opspoor (Foto: Concerned Citizens South Africa, Facebook)

Die drawwer wat Woensdagmiddag deur ’n voertuig in Pretoria getref is en ’n dag later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het, is deur ʼn familielid geïdentifiseer.

Dit blyk nou hy is ʼn Egiptenaar wat al ʼn wyle in Suid-Afrika woon.

Dié man kon aanvanklik nie geïdentifiseer word nie, omdat hy geen identifikasie by hom gehad het ten tye van die ongeluk nie. Inligting oor die voorval en foto’s van die man se horlosie, tekkies en sleutels is sedert Woensdag op sosialemediaplatforms versprei om die man se familie te probeer opspoor.

Maroela Media het vroeër berig die man is Woensdag omstreeks 17:00 op Solomon Mahlangu-rylaan tussen Old Farm- en Petrick-weg in Faerie Glen deur ʼn motor getref terwyl hy gedraf het.

Die man, vermoedelik in sy 40’s, het ernstige kopbeserings opgedoen en is per ambulans na die Steve Biko-hospitaal geneem, waar hy later dood is.

Casper Visser, woordvoerder van Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU), sê ʼn man het hom Vrydagoggend gekontak en beweer dat die drawwer sy broer is.

“Die manier waarop hy die slagoffer beskryf het, het soos die ware Jakob geklink. Ons het hom na die Steve Biko-hospitaal verwys om sy broer se liggaam uit te ken. Hy het die liggaam as dié van sy broer geïdentifiseer,” sê Visser.

“Ons is dankbaar vir die gemeenskap wat gehelp het om die familie op te spoor.”

Maroela Media het kontak met die broer gemaak, maar hy wou geen kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.