Drawwer het glo van hoë hoogte geval

Kenneth Stephen (Foto: Facebook)

Kenneth Stephen (36), wat Maandag verdwyn het ná hy op Tafelberg gaan draf het, het vermoedelik van ʼn hoë hoogte geval.

Stephen se liggaam is Woensdag gevind ná ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur is toe hy Maandagmiddag gaan draf, maar nooit teruggekeer het nie. Sy motor is laat Maandagaand in die pad in die omgewing van die Platteklip-ravyn gevind.

Johann Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding (WSAR), het gesê Stephen se beursie, motorsleutels en die klere wat hy aangehad het, het sy identiteit bevestig. Die familie sal later die liggaam uitken.

“Die plek waar hy gevind is, dui daarop dat hy moontlik van ʼn hoë hoogte afgeval het. Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie, vriende en die hardloopgemeenskap,” het Marais bygevoeg.

Marais het spesiale vermelding gemaak vir die bystand wat Working on Fire, vrywilligers van die veldhardloopgemeenskap en ander vrywilligers gelewer het.

“Ons het altesaam 61 spanne op die berg gehad van sowat 500 mense wat hul hulp aangebied het.”

Maroela Media het vroeër berig Stephen is gevind toe ʼn liggaam vanuit ʼn helikopter op Tafelberg gewaar is. Talle soek- en reddingspanne het laat Maandagaand na Stephen begin soek. Die weerstoestande was nie gunstig nie en kort na middernag het sy familie laat weet dat dit blyk dat sy selfoon aan Clifton se kant van Leeukop is. ʼn Soektog in die omgewing het egter ook geen vrugte afgewerp nie. Die soektog is Dinsdag met minstens 16 soek- en reddingspanne hervat voor talle vrywilligers Woensdag ook by die soektog aangesluit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

christo ·

So tragies. Drawwers moet maar liewer in pare of groepe hardloop om mekaar te beskerm. Dankie aan al die wat as vrywilligers hulp verleen het. Dankie vir die WSAR vir hulle onbaatsugtige diens.

madels ·

Ek begin nou al hoe meer suspisieus raak wanneer ek lees van iemand wat homself or haarself doodgeval het op Tafelberg. Wie weet wat gebeur het voor hy geval het? Was dit regtig n ongeluk?
Mag sy familie grootliks vertroos word in hierdie baie moeilike tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.