Dreigemente om Zuma-boek te verban ‘kommerwekkend’

Omslag van die boek (NB Uitgewers)

Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) het gesê dreigemente deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) om die “nuutste bron van bewyse dat pres. Jacob Zuma moet bedank” te snoer, is rede tot ernstige kommer.

Volgens die SAKP is dié party ook bewus van planne deur dieselfde intelligensiestrukture om aanklagte teen sommige van die SAKP-leiers te versin. “Hierdie aksies is nie op wettige gronde gebaseer nie, maar is inligting wat deur onwettige intelligensiestrukture gefabriseer is. Dit is tyd vir alle patriotiese Suid-Afrikaners om op te staan teen die vernietiging van ons land,” het die SAKP in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig die SVA het NB Uitgewers versoek om die veteraanjoernalis Jacques Pauw se boek, The President’s Keepers, te onttrek en sekere dele van die boek te verwyder. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ook aangedui dat hulle oorweeg om regstappe in verband met die inhoud van die boek te doen.

“Tot dusver het die uitgewer geweier [om die boek te onttrek]. Hierdie boek bevat ʼn toets en ʼn uitdaging oor of ons staatsinstellings die kapasiteit en bereidwilligheid het om die oortredings in ons regering aan te spreek,” het die SAKP gesê.

Pauw se boek beweer onder meer dat Zuma vir die eerste vyf jaar van sy presidentskap nie belastingopgawes ingedien het nie en R1 miljoen per jaar van ’n omstrede tendermagnaat ontvang het sonder om dit aan die SAID te verklaar. Daar word ook beweer dat hy R63 miljoen belastingskuld het, wat hy glo desperaat probeer om te ontduik.

Die SAKP het gesê in ʼn land waar baie mense nie in staat is om hul families te voed nie, kan dié oortredings, “wat net as diefstal beskryf kan word”, nie toegelaat word nie.

Die SAKP het gesê Pauw is een van Suid-Afrika se voorste ondersoekende joernaliste. “Sy skryfwerk in die laat 1980’s en vroeë 1990’s het die leuens en bedrieglike aktiwiteite van die moordbendes onder Eugene de Kock in die Apartheidsera en die regime se poging om die Inkatha Vryheidsparty (IVP) as ʼn geheime militêre ‘derdemag’ te gebruik, oopgevlek. Hy het ʼn sterk en konsekwente joernalistieke rekord van akkurate en dapper verslaggewing oor feite wat ondemokratiese en korrupte regimes in ons land eerder van ons mense wil wegsteek.”

Die SAKP meen dat elke Suid-Afrikaner bewus moet wees van die aantygings wat deur Pauw gemaak word.

Maroela Media het vroeër berig  Pauw het op sy Facebook-blad laat hoor hy word oorval met versoeke van mense wat hom wil betaal vir roofkopieë van The President’s Keepers. Dit volg ná ʼn roofkopie van dié boek soos ʼn veldbrand op sosiale media begin versprei het.

“Ek gaan geen geld aanvaar nie. As jy die .pdf-boek het en jy kan bekostig om ʼn boek te koop, doen asseblief dít. As jy nie nou ʼn boek in die hande kan kry nie, lees die .pdf, maar bestel nog steeds die boek. As jy nie ʼn boek kan bekostig nie, lees dan die roofkopie, jy het my goedkeuring,” het Pauw laat hoor.

Pauw sê verder dat dit nie vir hom oor geld gaan nie, maar oor die feit dat mense se ondersteuning hulle in staat sal stel om wettig die stryd met die SAID en die SVA aan te knoop.

Volgens hom staar verskeie regsuitdagings, siviel én strafregtelik, hulle in die gesig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

kat ·

Vertaal asb die boek in ander landstale ook sodat almal wat kan lees dit kan lees en vir die ander wat nie kan lees nie vertel.

CHRISTA ·

Ek stem saam Kat. Ek het ook gister gesê hierdie boek moet in ELKE landstaal vertaal word sodat ALMAL kan sien wat WERKLIK in Zuma se regering aangaan!!

Tel My In ·

Pauw se gesindheid is prysenswaardig.

Ek het, ongevraagd, etlike pdf-weergawes van sy boek ontvang, en sal verseker die boek gaan koop as teken van waardering vir sy blootlegging van hierdie korrupsie.

jaco ·

Oppas maar vir die SAKP wat nou so ‘n rein en edel houding inneem. Hulle Kommunistiese beskermers in die struggle jare het ook rein en edel Hitler se onderdrukking beveg en toe, na hulle regerings in Oos-Europa oorgevat het, mense onderdruk op dieselfde skaal as Hitler.

Anti -Zumpi, ·

Jaco, Jy slaan die spyker op die kop. Die waarheid in vandag se politiek en lewe is dat alles werk soos n pendulm, Eers swaai dit regs, en dan links. Die arme SAKP moet nou met n teen reaksie kom oor hulle “beloved comrade bade ” wat die trekpas gekry het. Nou is hulle baie vroom. Toe hulle groot bedmaatjies met die anc en zumpi was, was die “pay” reg en alles wat die heer gese het wet. Nou gee die indoena hulle pak, en hulle is ewe onskuldig. shame.

Carlia ·

Sjoe, dan moet ons vinnig eksemplare koop en lees. Ha ha. Waar daar ‘n rokie is…..

BvdK ·

Sopas die boek op Amazon gekoop. Beste sterkte aan die intelligensie dienste om die boek internasionaal te probeer verban. Wag maar Jakob, jou dag in die hof kom.

Seerot ·

Ek het die Kindle se elektroniese uitgawe gekoop en vandag klaar gelees. Die boek lees soos die spreekwoordelike spioenasie novelle en bevat kruitvat tipe inligting. Briljant.

Freud ·

Ek het nerens gelees dat Ayanda se laaste skildery wat die Zumas uitbeeld verban of verbrand is nie of dat dit nie uitgestal mag word nie. Die enigste kommentaar daarop was dit gedoen was deur white monopoly money…. party waarhede kan en mag bly staan terwyl ander waarhede onmiddellik onder die mat ingevee moet word.

Chris ·

Ek is besig om Pauw se boek te lees. Ek vra myself net die vraag af wat wil hy daarmee bereik. Hy en sy maatjie was teen die vorige regering gekant en het as lakeie vir die ANC opgetree. Dit lyk of klink vir my nie dat die twee menere vir hul werk vir die ANC vergoed is of erkenning ontvang het nie. Ek vat dit ook maar met ‘n knippie sout. Daar is mos altyd drie kante van ‘n storie. Myne joune en die waarheid.

Johann ·

Chris, glo dit of nie, daar is nog steeds mense met integriteit wat nie sal jok oor goed nie. Jou stellings dat daar altyd drie kante aan ‘n storie is, is ‘n belediging vir die sulkes. Ek is seker as mens so ‘n opspraakwekkende boek skryf oor so ‘n prominente mens sal jy sorg dat julle bronne baie betroubaar is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.