‘Dreigende SMS’ vertraag getuienis in OB-ondersoek

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: ANA)

Getuienis in die parlement se artikel 194-komitee se ondersoek na adv. Busisiwe Mkhwebane se bevoegdheid as Openbare Beskermer (OB) sal Donderdag verder aangehoor word, nadat dit Woensdag weens ʼn “dreigende SMS” kortgeknip is.

Volgens die komitee het Rodney Mataboge, hoofondersoeker by die OB se kantoor, Dinsdag na afloop van sy getuienis voor die parlement se komitee ʼn boodskap ontvang wat hy as dreigend beskou het.

Die verrigtinge is gevolglik kortgeknip sodat die komiteevoorsitter, Qubudile Dyantyi, en die parlementêre regsverteenwoordiger, Fatima Ebrahim, lede van die komitee oor die saak kon inlig.

Volgens Ebrahim het Mataboge ʼn boodskap van iemand ontvang wat glo erg geraak is deur ʼn vorige ondersoek waarby Mataboge betrokke was. In die SMS sê dié persoon dat hy vir Mataboge se getuienis “gewag” het, en dat Mataboge vasbeslote is “om ʼn ongunstige verslag” teen hom te lewer in ʼn ondersoek deur OB se kantoor.

Die skrywer van die boodskap voer verder aan dat Mataboge oneerlik is en beskuldig hom daarvan dat hy getuienis verberg het in sake wat die OB se kantoor voorheen verloor het.

Die komitee het in die lig van dié verwikkelinge verskeie opsies oor die pad vorentoe bespreek, insluitend die inskrywing van ʼn spesiale reël wat voorsiening maak dat verhore slegs voor komiteelede aangehoor word, mits dit regverdigbaar in ʼn demokrasie is.

Dié reël sal Mataboge ook daarvan vrystel om met die lewering van sy getuienis voort te gaan indien hy weier om dit te doen.

Die komitee het agter geslote deure aan Mataboge die geleentheid gebied om sy saak en bekommernisse ter tafel te lê. Hy het gekies om nie met sy getuienis voort te gaan nie omdat hy onveilig voel.

Indien die komitee hom dagvaar om dit wel te doen, sal hy regsadvies inwin.

Die komitee voel egter sterk dat Mataboge sy getuienis moet afhandel. Hy is nie voorheen gedagvaar om voor die komitee te verskyn nie omdat hy gewillig was om dit te doen. Mataboge sal egter nou gedagvaar word om Donderdag voor die komitee te verskyn om verder getuienis te lewer.

Die komitee sê ook dat die SMS-boodskap wat Mataboge ontvang het, nie met sy getuienis in die proses teen die OB verband hou nie. ʼn Versoek vir ’n veiligheidsassessering sal aan die OB se kantoor gestuur word.

Die skrywer van die boodskap is glo reeds deur die sekretariaat gekontak, en het aangedui dat sy boodskap nie dreigend van aard was nie.

“Die komitee voel sterk daaroor om sy getuies te beskerm, maar terselfdetyd moet die komitee konsekwent optree om te verseker dat die proses regverdig en rasioneel geskied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Lagwekkende klug met skaamtelose emosielose vermorsing van skaars belastinggeld.Kry tog end!

Hennie ·

Absurde ondersoek teen die OB….. Vertragings taktiek op sy beste! Fire haar asb …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.