Dressuurafrigter sterf ná perdry-ongeluk

Lindy Tait (Foto: Facebook)

ʼn Dressuur-afrigter van Kimberley in die Noord-Kaap is vandeesweek in ʼn plaaslike hospitaal oorlede nadat sy oor die naweek ernstige kopbeserings in ’n perdry-ongeluk opgedoen het.

Lindy Tait (45) het Saterdag tydens ʼn dressuurles van ʼn perd afgeval waarna sy in die waakeenheid van ʼn plaaslike hospitaal opgeneem is. Hiér het sy egter Dinsdag in die vroeë oggendure aan haar beserings beswyk.

Tait het ʼn valhelm ten tyde van die voorval gedra.

Tait was welbekend in Noord-Kaapse perdrykringe. Sy was nie net ʼn professionele afrigter nie, maar het ook kompetisies beoordeel.

“Lindy het elke dag gedoen waarvoor sy lief was; om perde in die dressuurarena in Kimberley op te lei. ʼn Ongeluk het daartoe gelei dat sy geval en ernstige breinbeserings opgedoen het voordat sy eindelik gesterf het,” het ʼn vriend van Tait op Facebook gesê.

Lindy Tait (Foto: Facebook)

“Haar plek aan die kant van die kompetisie-arena sal deur baie gemis word. Maar sy sal voortleef in die herinneringe van vele kinders vir wie sy geluk gebring het deur perde.”

Sy word oorleef deur haar seun, wat tans sy matriekeindeksamen aflê.

Medelye het sedert Saterdag op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ester ·

Innige simpatie, jongman – ons bid jou ons Hemelvader se vertroosting toe. Wees sterk, hou goeie moed en eer haar nagedagtenis in jou lewe vorentoe.

Rika ·

So jammer om van dit te lees so hartseer. My man ook oorlede so 5maande terug ook n seun wat in matriek is het sy eksamen so beinvloed dat hy van 70% tot 50% gedaal het. Nou gaan dit beter en besig met eindeksamen bid vir jou my kind dis nie maklik om deur so n verlies te gaan nie maar onthou die Liewe Vader sal jou hier deurdra glo en vertrou net. Innige simpatie aan familie en vriende weet waardeur julle gaan.

heidi ·

My dogtertjie is 13 en sy ry ook perd en doen skole skou. Ek bid elke keer as sy ry dat sy net veilig sal wees. Dis i groot dier en jy kan baie seerkry as jy afval. Sterkte aan die familie.

Realis Thailand ·

Innige simpatie aan die familie .n Persoon wie net plesier in die lewe gebring het .Gelukkig sal die mooi gedagtes van haar altyd vir julle bybly en ek hoop die seun maak n groot sukses van sy lewe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.