Drie aangekeer ná rooftog op plaas

Die vuurwapens wat in die veld begrawe gevind is. Foto: SAPD

Die Noord-Kaapse polisie het drie verdagtes in verband met ʼn huisbraak op ʼn plaas naby Kuruman aangekeer.

ʼn Span bestaande uit beamptes van ses wetstoepassingseenhede het die verdagtes Woensdag in hegtenis geneem nadat die polisie inligting ontvang het. Hulle het beslag gelê op vuurwapens, ʼn yskas en kruideniersware wat op die plaas gesteel is.

Kapt. Olebogeng Tawana, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die drietal het die polisie gelei na ʼn veld by Cardington, sowat 20 km noordoos van Kuruman, waar van die vuurwapens begrawe was, terwyl ander items in ʼn huis van die verdagtes aangetref is.

Na bewering het gewapende rowers, wat balaklawas aangehad het, Dinsdag in die vroeë oggendure op die plaashuis toegeslaan. Hulle het van die werknemers vasgebind en gedwing om drank te drink om hulle besope te maak.

Daarna het hulle die brandkluis oopgedwing en vyf jaggewere, ammunisie, gereedskapskiste, ʼn dubbeldeurvrieskas, bore en ʼn kompressor gesteel asook ʼn hoeveelheid drank, sê Tawana. Hulle het al die gesteelde goedere op die plaasbakkie gelaai en daarmee weggekom.

Die bakkie is later aangetref waar dit in die veld naby die nedersetting Bothithong, by Kuruman, omgeslaan het. “Hulle het die bakkie net daar gelos, die goedere bymekaargemaak en te voet verder gegaan,” sê Tawana.

“Die polisie het ʼn soektog begin en onverpoos gewerk tot hulle die verdagtes in hegtenis geneem het.”

Hy sê een van die vuurwapens wat teruggevind is, is na bewering gebruik om ʼn misdaad te pleeg. Dis vroeër as gesteel aangemeld in die omgewing van Daniëlskuil.

Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof op Kuruman verskyn op aanklagte van huisbraak en die onwettige besit van vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AW ·

Ja Nee… ons het kos / voedsel nodig vir die volgende Roof…

Antie ·

Ek wonder net hoe het hulle alles gedra gekry tussen die drie. :)

Zirk ·

A.g.v. goeie elektroniese verbinding, en paraatheid van die boeregemeenskap landwyd, word plaasaanvalle en rooftogte vinniger aangemeld en vervolg. Wat net vir my al hoe duideliker word, is dat die roof van wapens meer en meer voorkom. Dis asof daar gereed gemaak word vir ‘n lae intensiteit oorlog.
Wat sê polisie intelligensie hiervan.?

Sarel ·

Wat se die polisie se wat!!!!
Pasop hulle mag dalk net dink jy is n rassis en se hulle het nie intilegensie nie.
Inligting was deur die publiek verskaf anders was die dossier seker reeds afgesluit en gebere.
Wonder of die verdagtes nie reeds weer op borg uit is nie.

AW ·

“The organisation Gun Free South Africa says that the greatest sourse of illegal weapons is loss and theft. According to them, an average of twenty guns a day are stolen from civilians and two a day from the police. The real figure, however? Is probably significantly higher, since it is safe to assume that not all gun theft is reported to the police.” (Page 211 – HEIST! – South Africa’s Cash-In-Transit Epidemic Uncovered – Anneliese Burgess, 2018)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.