Drie aangestel om Toerismeraad se sake te behartig

Patricia de Lille, minister van toerisme (Foto: Fikile Marakalla/GCIS)

Drie mense is aangestel om die sake van die Toerismeraad te bestuur totdat ʼn nuwe raad aangestel word.

Die raad is vroeër vandeesweek ontbind nadat agt van die 11 raadslede, insluitend die voorsitter, tussen 7 en 13 April bedank het. Die oorblywende drie lede van die raad kon dus nie ʼn kworum vorm nie en die raad was nie meer funksioneel nie.

Patricia de Lille, minister van toerisme, het Kholeka Zama, Tim Harris en Vincent Zwelibanzi Mntambo in die tussentyd in beheer van sake geplaas totdat ʼn nuwe raad aangestel word.

Zama is ʼn gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester wat al as finansiële hoof by verskeie entiteite gewerk het, insluitend Ezemvelo KZN Wildlife.

Harris is ʼn spesialis op die gebied van toerisme en ekonomiese bevordering en was voorheen aan die stuur van sake by Wesgro.

Mntambo het ʼn regsgraad en het voorheen as ʼn direkteur-generaal in die Gautengse provinsiale regering gewerk.

De Lille het aan die begin van die maand die voorsitter van die vorige raad, dr. Thozamile Botha, skriftelik versoek om redes te verskaf om nie die raad te ontbind nie.

Sy het in dié skrywe verskeie ernstige besware aangeteken soos die gedrag van die raad wat betref die Tottenham Hotspur-borgskap, die samestelling van die raad en of die lede oor die nodige kennis, ervaring en kwalifikasies beskik, en ernstige bewerings wat deur die waarnemende hoof van SA Toerisme aangeroer is oor ʼn raad wat gebrekkig funksioneer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.