Drie aangewys wat oor OB moet besluit

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Oupa Mokoena/African News Agency)

Die parlement het Woensdag die paneel aangewys wat oor die toekoms van die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, moet besluit.

Die onafhanklike paneel is aangewys ná ʼn mosie deur die DA om Mkhwebane uit haar pos te laat verwyder en politieke partye het die geleentheid gehad om ʼn lys van benoemings aan die speaker voor te lê.

Die vereistes was dat die paneel bestaan uit drie bevoegde mense wat gesamentlik oor die nodige regskennis besit om ʼn besluit oor die saak te neem. Sommige van diegene wat benoem is, was weens werkverpligtings of ander oorwegings nie beskikbaar om op die paneel te dien nie.

Die parlement het nou die paneel met drie lede aangewys:

Regter Bess Nkabinde: Nkabinde is ʼn prokureur en was onder meer ʼn regter in die konstitusionele hof. Sy het sedertdien afgetree.

Adv. Dumisa Ntsebeza SC: Ntsebeza, ʼn senior advokaat, het al as regter waargeneem en het reeds op verskeie regskommissies gedien.

Adv. Johan de Waal SC: De Waal is ʼn senior advokaat en akademikus.

Die datum waarop die paneel met sy werksaamhede begin, moet nog bekend gemaak word.

Die paneel moet besluit of daar prima facie-bewyse is oor die kwessie of die OB haar aan enige wangedrag skuldig gemaak het en of sy onbevoeg of ongeskik is om haar pligte uit te voer. Mkhwebane moet ook ʼn billike kans gegun word om op alle bewerings teen haar te reageer.

Die paneel moet sy werk binne 30 dae afhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DieKriek ·

In Afrika is niks objektief of onafhanklik nie. Die uitslag is lankal besluit.

Hennie J ·

Kom ons vertrou die reeds-bekonkelde uitslag is positief.

Swerkater ·

Bevoeg? Volgens wie se standaard en watter kant van die regstelsel?

henndrik ·

Ek sal graag wil weet wat die ander politieke partye oor die benoemings te se het, ek ken nie die mense nie

Wielspore ·

Stel vir Ace aan, hy kan moontlik uit die kussings gelig word met sy huidige pos by die ANC waar hy harde werk gedoen het en na die belange van die land omgesien het. As openbare beskermer kan sy positiewe bydrae ons land tot nuwe hoogtes bring en ekonomiese herstel bespoedig.
Geskryf deur Zumpie

Tsek! ·

Twee spelfoutjies…eerste paragraaf – ”aangewys was” – moet ”aangewys wat” wees en laaste paragraaf blikke kans moet billike kans wees. Groete!

Megan Swart ·

Dagsê Tsek!
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Frederik C ·

Ek kon nog nooit mooi verstaan waarom ons ‘n OB moet hê nie. Die werk wat sy veronderstel is om te doen, kan net sowel deur die SOE gedoen word. In meer ernstiger sake kan dit deur die Valke ondersoek word. Sluit die OB kantoor. Die regering ( of belastingbetalers) is onmiddellik van ‘n hele klompie kripvreters ontslae, sowel as van Mkhwebane.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.