Drie aanklagte teen Kinnear-moordverdagte

Zane Kilian staan tereg op drie aanklagte, onder meer ook moord. (Foto: Twitter)

Die voormalige rugbyspeler wat in verband met die moord op lt.kol. Charl Kinnear in hegtenis geneem is, het Vrydag vlugtig in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

Zane Kilian (39) word aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg en die onregmatige onderskep van kommunikasie. Volgens die klagstaat gaan die staat aanvoer dat Kilian tussen Maart en 18 September vanjaar onregmatig en doelbewus inligting van Kinnear se selfone onderskep het. Hy het volgens die staat ook saam met ander, in hierdie stadium onbekende, aanvallers saamgesweer om Kinnear te vermoor.

Kilian is Woensdag in Gauteng in hegtenis geneem en die Valke het gesê die moontlikheid van nog inhegtenisnemings kan nie uitgesluit word namate die ondersoek vorder nie.

Kilian is ʼn voormalige rugbyspeler vir die Valke, Griekwas en Kings, asook vir die Barbarians.

Volgens Daily Maverick is hy deesdae ʼn skuldinvorderaar by diegene wat nie hul voertuigpaaiemente terugbetaal nie.

Die laaste foto wat van Heila Kilian geneem is. Dié foto is die oggend van 16 April geneem, ure voordat sy vermoor is. Foto: Verskaf

Kilian se ma, Heila (63) – wat onder haar vriende en familie as Lovey bekend was – is in April 2018 koelbloedig tydens ʼn plaasaanval op familielede se plaas buite Stilbaai in die Wes-Kaap doodgeskiet. Heila se man, Hein, asook haar suster Brenda en dié se man, David, het om ʼn braaivleisvuur gekuier toe vyf aanvallers op hulle toegeslaan het.

Hein Kilian is ʼn afgetrede polisielid en was jare lank ʼn bevelvoerder van een van die polisie se onluste-eenhede.

Kinnear (52) is Vrydagmiddag koelbloedig in sy motor voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet. Hy is verskeie kere in die bolyf geskiet en deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Kinnear, ʼn lid van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid en een van die land se topspeurders, het die Vrydagoggend net ná 10:00 sy laaste boodskap aan sy vrou, Nicolette, gestuur. Sy was ten tyde van die skietvoorval by die werk en is deur twee kollegas na die toneel gehaas. Op pad soontoe het sy die nuus ontvang dat Kinnear dood is.

Lt.kol. Charl Kinnear (Foto: Facebook)

Haar twee seuns was tuis terwyl die oudste seun nog sekondes voordat sy pa doodgeskiet is met hom oor die foon gepraat het. Kinnear is kort ná die oproep verskeie kere geskiet toe hy by sy huis stilgehou het.

Weens verskeie hoëprofielsake wat Kinnear ondersoek het, het ʼn moontlike aanslag op sy lewe soos ʼn skadu oor die hele gesin gehang.

“Ons pa het ons voorberei op hierdie dag. Dit was altyd in jou agterkop, dit kan enige dag gebeur. Dit is hartseer dat dit buite die huis moes gebeur, maar ek sou nie wou gehad het dat my pa in ʼn vreemde straat moes doodgaan nie,” het Carlisle Kinnear, die egpaar se oudste seun, vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

LiveAndLetLive ·

Sal graag wil weet wat Heila Killian se dood te doen het met Kinnear se dood aan die hand van haar seun?

Piet parys ·

Ek dink hier is n slang in die gras . Wonder wat sy motief was. Is sy ma se moordenaars gevang?

Jacobus ·

Intussen word hooggeplaastes, minder geplaastes en diè in die ANC dampkring opgepas op ons onkoste. Die ouens wat saak maak is aan hulle eie genade oorgelaat.

Hennie J ·

Nee wat, dit is nou wraggies te goed te spoedeisend.
Geen ooglopende verband nie.
Iewers ruik ek lont.

Casper ·

Wat sou Killian se beweegrede wees om Kinnear te vermoor.Het Kinnear iets geweet van die plaasaanval.Niks maak vir my sin nie.Was Killian betrokke by die plaasaanval moontlik uit wraak teen ‘n familielid.Maar hoekom net sy ma vermoor.Woon hy in Gauteng.Ek het van die begin af gesê dit was ‘n huurmoord.Wie het die sneller getrek.Die warhead sal uitkom en dit gaan interessant wees.Hy was nie alleen nie.

Faruk ·

Hoe klink dit my ons het hier met ‘n huurmoordenaar te doene? Nou wonder ek mos, wie anders het die kêrel op sy kerfstok? Kan interessant uitdraai, hierdie saak… Wonder of hy dalk vir Johan Reed geken het…

pompies ·

Hier kom n ding. Dit klink soos n vergeldings aanval en moord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.