Drie agter tralies maande na grumoorde in Limpopo

Drie mense is in verband met die gru-moorde aangekeer. (Argieffoto: Nico Strydom)

Drie verdagtes is in hegtenis geneem meer as vyf maande na die grumoorde op ʼn Limpopo-paartjie wie se liggame langs hul destyds een jaar oue baba aangetref is.

Nius Malatjie (21) en Lucia Malapane (18) is in Oktober verlede jaar in hul huis in Ga-Rapitsi vermoor. Malatjie se buurman wat ook sy werkgewer is, is op daardie dag na die huis om uit te vind hoekom Malatjie nie vir werk opgedaag het nie.

Hy het op die jong ouers se liggame afgekom terwyl hul baba huilend langs hul lyke gesit het. Maroela Media het vroeër berig die twee is etlike kere met ʼn voorwerp gesteek.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê die moorde het tot wydverspreide gewelddadige betogings deur inwoners van die gebied gelei nadat hulle die sakeman wat op die liggame afgekom het, van die moorde verdink het.

Mense het sy winkel en een van sy voertuie aan die brand gesteek. Hulle is daarna na sy huis waar hulle dit ook afgebrand en selfs sy varke, hoenders en bokke vrekgemaak het.

Die aanvallers het daarna gevlug en geen inhegtenisnemings was tot dusver in verband met dié voorvalle gedoen nie.

“Die verbete polisieondersoek na die moorde is voortgesit tot die drie verdagtes gister [Sondag] in hegtenis geneem is. Sommige items wat aan die oorledenes behoort, is by hulle aangetref,” het Mojapelo gesê.

Die sakeman wat vroeër geteiken is, is nie een van die verdagtes wat aangekeer is nie.

Die drie vermeende aanvallers, tussen 34 en 47 jaar oud, verskyn later vandag in die Bolobedu-landdroshof op twee aanklagte van moord, verkragting en gewapende roof.

Die polisie het weereens ʼn beroep op enigiemand met inligting oor die moorde gedoen om lt.kol. Richard Boshomane te bel by 079 894 5501.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
modiglianigirl

Én wat nou van die skade wat die sakeman gelei het. Die emosionele trauma wat die arme kind deurgemaak het om sy ouers se moord en mamma se verkragting te aanskou. En waarom die arme diere laat boet? Mense maak my naar.

Magda

Dankie, maar wat van die mense wat die sakeman se gesigheid en peroonlike items beskadig het, of gaan daar soos altyd WEG gekyk word as JULLE EIE mense skuldig is, as dit nou WIT was was hulle al dieselfde dag gearresteer????