Drie persone is Vrydagmiddag beseer toe ʼn brand uitgebreek het in ʼn gebou in Durban, KwaZulu-Natal.
“Die brand het omstreeks 16:00 by ʼn perseel in Bacusweg in Clairwood uitgebreek,” het Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, gesê. Die brand het by ʼn klerewinkel uitgebreek.
“Die Durbanse brandweer was reeds besig om die strukturele brand te blus toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het hy bygevoeg. Twee persone het uit paniek uit ʼn venster op die eerste verdieping gespring. “Paramedici het die twee persone behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is vir verdere behandeling.”
Een persoon is op die toneel behandel vir beserings wat hy weens die brand opgedoen het en is ook na ʼn hospitaal geneem.
Minstens vier brandbestryders het gepoog om die brand te blus.
“Dis nog nie duidelik waarom die brand ontstaan het nie. Die polisie stel ondersoek in.”